oor groot en deels

Ek het groot geword met Liewe Heksie en Jakkals & Wolf se stories op langspeel plate, met Fanus Rautenbach en Voortrekkers.

Daai tyd was die stad Port Elizabeth genoem. Nog so ‘n stukkie erfenis van die Engelse.

My familie het slaags geraak met die Engelse. Net so duskant Cradock kry jy die verslete monumentjie aan die regterkant van die pad. Slagtersnek. Waar die Trichardts en Fabers slaags geraak het met die Engelse komedantjie wat dit gewaag het om Kaapse troepe na hulle plaas te stuur.

My Pa was ‘n NG Kerk predinkant. My Ma ‘n pastorie moeder. Ek was in Verkenner Laerskool en het fluks volskpele gedoen. ‘Wie sal staan, die laaste in die baan, ek hou my lyf so lam en tam van al die was en hare kam’ en al daai ander mooi dinge van kappies en nekserpe.

Ek ken die liedjies. ‘Hoe ry die boere sit-sit so’. ‘Afrikaners is plesierig’, ‘Oom Jan sny koring op die land’ en ‘Jan Pierewiet’. Vra maar my kinders, hulle sal jou vertel hoe maklik dit is om die 1200 kilometer Kalahari toe om te sing en as ons anderkant Vryburg kom dan trek ons weg met ‘Ver in die ou Kalahari’, want ‘daar sing die voeltjies so’ en vlaktes wat wyd en eindloos le bekoor ons siel.

Ek bid Afrikaans.

Ek vloek Afrikaans.

My kinders is gebore uit Afrikaanse liefde.

My trane loop in bree afrikaanse rivierlope teen my wange af.

Want iewers het Afrikaanses hulle hart verloor.

My mense gemengelmoes uit Iere en Skotte en Hollanders en Portugese, Duitsers, Franse en plaasvolk.

Ek skryf hierdie ‘blog’ vir julle. Vir jou. Vir ons.

Dat ons siel kan lewe vind.

Lewe in iets anders as leeulope en brandwyn.

Want wragtig ons het nodig om weer die ‘hart’ te vind wat ons verloor het.

6 responses

  1. Vrydae middae het ma hotdogs gemaak, koffie in die flessse gegooi en dan het ons in spanning gewag vir pa om huis toe te kom. Koerant klaar deurgekyk en besluit waarheen gaan ons…. die Veldster, Panorama, Kinikar….

    Dit was so goed soos om op vakansie te gaan. Die opwinding! So ‘n wilde weghardloop gevoel op die krop van my maag. Ingewurm tussen my twee sussies het ek die string karre dopgehou soos ons nader aan die groot wit skerm beweeg het.
    “Gaan daar plek wees vir ons? Moes ons nie vroeer gery het nie?”

    Eindelik ! Versigtig ingewurm tussen ‘n lang ry blinkoog karre het pa sy venster oopgemaak en sy bruin arm uitgerek om die luidspreker oor die karvenster te hak.

    Ousus sou eerste haar deur oopmaak en haar rafia, sandaal voete versigtig uitstoot. Ek kon my verkyk aan die verbintenis tussen haar uitklim met die geel madeliefie mini en pa se frons in die spieeltjie!

    Middelsus het skaam teruggesak en so ver as moontlik probeer wegsak in die sitplekke met die hoop dat niemand haar sal erken nie.

    Ma het die sonskerm probeer draai sodat die laatmiddag Vrystaat sonnetjie eenkant toe kon kantel en pa het hom reggeskuif , die krapperige luidspreker vir ‘n tweede keer ingestel en my oog gevang. Dit was genoeg. Ons het dieselfde gedink, gesien en geruik.
    Ons velle het getintel in die koel aanluggie as ons pouse in die ry staan om Rowntree gommetjies te koop. My klein handjie, styf in syne gevou.

    en ja

    – ons het in Afrikaans gefliek – “Hoor my lied”, “Dirkie”, “Tant Alie” ‘n ietsie oor ‘n Kariba dam – kan jy nog onthou? Ek moes voor by pa gaan sit – ek was heeltemal te bang om end uit te kyk!

    Ek is nou ook te bang om end uit te kyk.

    Want wat ek sien, laat ‘n wrang smaak, en ek draai eerder my kop weg.

    Pa is nie meer daar nie, en my kinders kom staan nou by my en kyk vir antwoorde.

    “Wat het gebeur ma – hoekom is daar so min wat dink en doen soos ons – is niemand meer skaam om “uitgevang”te word vir blikaspaai nie.

    “My kind mag nie nie tv kyk nie ma – asseblief nie – die gemors is te veel, antwoord my oudste my gister .

    Hy wys my die koerant – my volksname word verbind met moord, bedrog, haatspraak , afguns.

    Waar is julle wat dan soos ons grootgemaak is?

    Grootgemaak is met respek ons geskiedenis,
    eerbied vir ons God
    ruimte vir my naaste
    en ‘n vaste blik op ons en ons kinders se toekoms?

    Waar is julle?

  2. Hallo!!…….hallo!!………Is hier iemand hier???? Die plek klink vir my net soos ‘n lee saal waar die klank weergalm en dan weg kwyn sekondes later en net ‘n gevoel van eensaamhied los. Die plek waarvan ek praat is nie hierdie “blog” nie, maar ons taal en ons kultuur wat so maklik soos die klanke in die lee saal kwyn. Ek is glad nie besig om te se dat ons onself moet verknog in die ou tradisies nie, maar ons nuwe “afrikaner” kultuur is regtig identiteitloos en leeg. Die feit dat ons sukkel om hierdie land ons tuiste te noem hoef nie die mooi in ons kultuur weg te neem nie.
    Om dinge nog erger te maak is ons taal nou deurtrek met allerhande vloekwoorde wat sommer so sonder skaamte rond geslinger word. Waar in die lewe het hierdie “goeters” vandaan gekom? Daarby is dit nie eers beskrywend van dit wat dit veronderstel is om te beskryf nie. As ek nie sin maak nie sal ek verduidelik!!! Onwelvoeglikke woorde wat omtrent al die goeie ou afrikaanse vloekwoorde vervang. Wat het geword van om iemand te donner of moer of selfs te bliksem? Nee!!! deesdae word ‘n ou ge-(pwoord)…..Hoe? vra ek jou, kry ‘n mens dit reg? As jy een van daai ouens is wat sê, kom hier dan wys ek jou, is jy een van daardie wat biekie in die spieel moet gaan kyk boet, daar is groot fout met jou!!! Miskien is ek net oudtyds, maar ek kan nie sulke taal voor enige vrou gebruik nie, wat nog van in goeie geselskap. Goed genoeg nou daarvan.
    Ek is gelukkig om ‘n klein, maar egte vriende kring te he wat nie net die heeltyd oor rugby wil praat nie. Ek het nie regtig iets teen rugby of rugby ondersteuners nie, maar regtig. Di’s amper of ons nie eers meer algemene kennis het nie. Is daar nie beter onderwerpe as Saterdag se “game” nie? Ek kan ‘n halfuur of so daarvan deurwerk, maar daarna het almal sekerlik gesê wat hulle wou sê oor die spul. Dit is amper of ons kultuur een van brannewyn en coke en rugby geword het, geen wonder ons pas so maklik aan in Australie nie.
    Die volgende punt sal ook seker ‘n paar opinies laat opvlam. Afrikaanse musiek, wat de donner gaan aan?Huh?? moet dit alles dieselfde klink, dieselfde ritme, dieselfde hol rug geryde”rubbish”!!! Om alles te kroon druk sommige radio stasies dit letterlik nog in ons keel af, sonder skaamte. Ek is baie seker daar is beter musiek en musiekante in die land, Ek se nie dat almal wat deesdae op die radio is dieselfde is nie, daar is beslis goeie kunstenaars wat ook lugtyd kry, maar ek het dit teen die worsmasjien musiek wat regtig nou oud raak. Kom nou!!!! Hou op om die goed te koop, of af te laai of wat jy ookal doen om dit te bekom dan sal hulle ophou om die snert te maak. Miskien praat ek nou weer uit my beurt uit, maar siestog!! Is ons regtig so oppervlakkig?
    Sal ons dit ooit regkry om ons eie identiteit te kry?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s