Frans en die Eensame Graf

Elke dag ry Frans by die graf verby.

Op sy fiets.

Oppad bus stop toe.

In die laat oggend.

En dan weer in die aand, netso skuins voor 9.

Oppad huistoe.

Elke dag dink Frans daaraan dat hy nog ‘n dag by die graf verby hou.

En meeste dae is Frans dankbaar.

Vir nog ‘n dag.

Want ons dae is getel.

En niemand weet of more weer sal kom nie.

Vandag verpoos Frans ‘n oomblik by die graf.

Die laaste paar dae wonder hy of die uiteinde nie dalk beter is as die ontduik van die onvermydelike nie?

Vandag tel Frans.

Sy dae.

Vol gemaak met verlies en wins en weer verlies.

Hy dink aan verwerping.

Mooi skilderye word opgehang in opgesmukte kamers.

Ou karre, selfs al is hulle vervalle, word gevind en weer gerestoreer.

Verlepte huise word gesloop.

En vuil stink lappies word weggegooi.

Hoe baie word ons weggegooi?

Vir Frans is geld nie eintlik belangrik nie.

Was nog nooit.

En hoe ouer hy word, hoe minder prominent is dit in sy lewe.

Jy kan dit sien.

Want hy’t nie veel daarvan opgegaar in store en skure nie.

En dit pla hom nie.

Hy’t genoeg.

Nog altyd.

Selfs toe hy te min gehad het, het hy genoeg gehad.

Verhoudinge is vir Frans belangrik.

Liefde.

Vrede.

Getrouheid.

Die verlies wat aan Frans knaag het niks met geld te doen nie.

Dit het te doen met gedeelde lewe.

En op hierdie oomblik, so dink Frans, is lewe maar altyd half gedeel.

Lank terug het ‘n jong outjie wat Koning sou word, sy God gevra: ‘ondersoek my hart, suiwer my, reining my …’

En dit doen Frans baie.

Want dis maklkik om te blameer.

Dis moeilik om eerlik jou self te sien.

Om te kyk, sonder vooroordeel, na jou eie wese en te sien wat is goed en wat is stukkend en wat het salf nodig en wat is kosbaar.

Om een of ander rede is ons self ondersoek altyd uit balans.

Of arrogant.

Of vernietigend.

Selde skoon.

Van die gebrokenheid waarmee ons belas leef in hierdie werklikheid.

Miskien is dit hoekom priesters en predikante en pastore in eeue gelede so belangrim was en sielkundiges en raadgewers so belangrik geword het?

Iemand wat buite staan.

En kan sien, waarvoor my eie oe blind is.

Die goed en die sleg.

Die heel en die stukkend.

Die stukkend verteer Frans die laaste rukkie.

Miskien omdat sy kinders groot word.

Sy seun is fort.

Om sy eie volwasse lewe te begin.

Sy dogters is kort op sy hakke.

En dis goed.

Objektief weet Frans dat dit goed is.

Dis hoe dit hoort.

Dis waarvoor hulle groot gemaak is.

Om volwasse man en vrouens te wees, wat onafhanklik en verantwoordelik kan lewe.

Sy jongste is Kindergarten toe.

En sy ‘vriende’ is stil.

En sy familie is grootliks afwesig.

Ja, dit le ook nog rou in Frans se wese.

Daar is iets spesiaal daaraan om deur jou eie bloed ontken te word.

“As jy nie goed genoeg is … as jy nie aanvaarbaar is vir jou eie bloed nie … hoe kan jy aanvaarbaar wees vir enige iemand anders?” vra Frans die verweerde wit klip bo-op die effense hopie grond.

En die stilte gee geen antwoord nie.

En Frans klim op sy fiets, want busse wag vir niemand nie.

En minute gaan altyd verby.

Hierdie oomblik net nou vir ‘n oomblik.

En hy hou verby die graf.

Tog dankbaar.

Want dalk is dit nie soveel oor liefgehe word nie?

Dalk is dit meer oor lief wees.

Oor liefde gee?

En wie dit neem, neem dit.

En wie dit nie wil he nie, nou ja, daaraan kan niks gedoen word nie.

Want ons kies net vir onsself.

En selfs ‘n gesloopte huis het ‘n paar bakstene wat herwin kan word.

En ‘n vuil stink lappie kan vrot en die aarde voer om weer iets anders voort te bring.

En dalk is ons waarde nie op gesluit in wie ons om-arm nie?

Dalk is ons waarde sommer net.

Omdat ons is.

En omdat ons is, kan ons om-arm.

Of dit geneem word of nie?

So dink Frans as die bus die snelweg slaan.

Hy dink dit.

Dalk, oor ‘n paar dae sal hy dit kan glo?

En dan sal hy weer dankbaar wees vir die dag wat hy by die graf verby gehou het.

Miskien.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s