Frans Reisema en die Vlug

Vandag het Frans gevlieg.

Miskien vlug hy nog sy hele lewe.

Maar vandag het hy gevlieg.

Agteruit.

So 3 meter.

So 40 cm bo die grond.

Hy was oppad huistoe.

Dis ‘n Donderdagaand.

Eers moltrein tot by Liuliqiao Oos Moltrein Stasie.

Dan bus 835 tot by Sili Stasie.

Die bus is vollerig.

Nie soos Vrydagaande nie.

Maar vol genoeg dat Frans moet staan, so met sy boud teen ‘n stoel se rugleuning.

Tablet in die hand.

Hy kyk ‘Modern Family’ vir ‘n bietjie ‘comic relief’ en om die 35 minute tot by Doudian ‘n rapsie vinniger te laat gaan.

Die drywer het remme aangeslaan.

Hard.

Skielik.

En Frans het gevlieg.

Sy skouers druk teen die bestuurder se konsole.

Sy tablet le op die 2de trappie van die bus se voordeur.

Die draadjie van die oorfone soos ‘n naelstring uitgestrek oor die vloer tot by Frans se linker oor.

Daar is ‘n stilte in die bus.

Frans weet nie of dit hyself is wat ‘n oomblik katswink is en of dit geskokte stilte van pasasiers is nie.

Hy rol op sy maag.

Strek sy regter arm teen die trappies af en tel sy tablet op.

Kom tot op sy kniee.

En dan hoor hy ‘n paar stemme wat ‘n koor word, wat angstig vra of hy ‘okay’ is.

En hy staan op.

Sy kop het ‘n knop.

Sy ego ‘n diep blou kneusplek.

En op ‘n manier het hy terug gevlieg in tyd.

In sy siel.

In sy wese.

En sonder dat hy dit weet op die oomblik, het die skielike rem en die dramatiese vlug, hom terug geneem.

Na goed in hom wat nog nie afgehandel is nie.

Ons het almal goed in ons wat nog nie afgehandel is nie.

By Sili Stasie, soos die bus die stop nader, bekyk die drywer Frans vraend.

Hy wil seker mak Frans is nie kwaad nie.

Dit sien Frans in sy oe.

Hy’s seker bang Frans sal kak maak.

Iewers gaan kla.

Frans glimlag.

Se vir hom dankie vir die rit.

En klim af.

Gaan haal sy fiets om die 2 kilometer tot by die huis te trap.

Terwyl hy ry in laat herfs koue, lag hy klip hard.

Hy sien homself trek deur die lug en die stom geslaande pasasiers.

En dan ry hy by die graf verby.

Elke dag ry hy by die graf verby.

‘n Eensame graf, in ‘n verslete veldjie, agter die Beijing Nationalities University.

Elke dag dink hy dis nog ‘n dag wat hy by die graf verby hou.

Elke dag weet hy, dit sal nie vir altyd aanhou nie.

Iewers sal daar ‘n dag wees dat hy nie by die graf verby ry nie.

En niemand sal daarvan weet nie.

Dit sal maar net nog ‘n dag wees.

En die graf sal eensaam staan en wag, vir die volgendes om te kom.

En dan ontketting ‘n reeks gebeure.

Van die oomblik dat Frans by sy huis instap.

Asof sy vlug hom deur ‘n portaal geneem het, na ‘n plek waar hy nie anders kan as om sy eie monsteragtige siel te sien nie.

Die stukkend.

Die ‘ugly’ wat hy so bekwaam versteek tussen glimlag en verfynde vriendelikheid.

Sy vrou en kinders onskuldige bystanders in die verwoestende spoor van vernietiging.

Vir 7 dae en 7 nagte worstel Frans.

Stoei met almal om hom.

Terwyl hy eintlik stoei met homself.

Met sy gebroke verstoteling skap.

Wat sy werklikheid is.

Vandat hy kan onthou.

En sy werklikheid word, met elke tree wat hy gee.

“Miskien is dit beter om eerlik te wees”, mompel Frans, terwyl hy fanaties aan sy huisie se vloere en mure skrop, in ‘n poging om beheer oor iets te kry, want hy het nie beheer oor sy lewe nie.

Of miskien is dit nie dat hy nie beheer oor sy lewe het nie.

Niemand het ‘beheer’ oor sy lewe nie.

Meegesleur is elkeen van ons, deur tyd en omstandighede, waaraan ons niks kan verander nie.

Miskien is dit eerder dat Frans skrop, want anders moet hy eerlik wees met homself.

Oor sy patalogie.

“Nog altyd. Nog altyd was dit maklik vir mense om weg te stap. Van my af.”

Hy sit, met ‘n vuil lappie, plat op die vloer.

Beijing se stof, swart en taai op die teel vloer, ingemeng met sy jongste dogtertjie se lekkergoed en kos, waar sy dikwels speel.

Sy vuil siel in sy borskas.

Sy eensame vuil siel.

Sy bang eensame vuil siel.

Liedjies maal in sy hart terwyl sy hande ritmies vryf om vuil te probeer weg was.

“Enkeling. Verstoteling. Dag na dag …

“Weerlose, weerlose mense …

“Wat ek is, is net genade …”

“Verdomde genade”, antwoord hy die lied.

“Want ek is nie veel nie.”

Of Frans sy pad gaan vind, sal ons nie weet nie.

Of daar ‘n pad is, weet ons nie.

“Niks anders as enige iemand anders nie”, herhinner hy homself, terwyl hy die swart water uit die rooi emmer in die toilet afgooi, voor hy nuwe water tap om nog vuil mee te skrop.

“Alleen strompel ons deur die lewe.

“Elkeen op ons eie pad.

“Die illusie van verhoudinge en vriendskap en liefde.

“‘n Bitter sousie wat ons oor alles gooi, om die dis meer eetbaar te maak.

“Maar wat is, is.

“Op die ou einde.

“Na alles.

“Is ons verdwaal.

“Ek.”

En Frans gaan slaap.

En Frans staan op.

En Frans werk.

En Frans lees.

En Frans betaal.

En Frans ry verby die graf.

Weer en weer en nog ‘n keer.

En hy wonder of die grond en die wurms ‘n warm tuiskoms is.

En hy glimlag.

En hy help.

En hy ondersteun.

En hy bewys goedheid en guns.

Terwyl sy siel huil.

Groot vet onsigbare krokodil trane.

Tot die reservoir van smart ook opdroog.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s