Frans Reisema en sy Ma

Vanaand frommel Frans  ou fotos tussens sy vingers.

Hy bedink vergange se dae.

Dae wat sin gehad het, maar wat, soos sy vriend uit die Vrystaat hom herhinner, nie sin kan gee aan hierdie dae nie.

Dis sy ma se skuld dat hy so in gedagtes verdwaal.

Sy is in die vertreksaal.

Of miskien het sy reeds.

Miskien is ons almal in die vertreksaal, sonder dat ons dit besef, en ons leef asof ons nie weerlose mense op reis van peron tot peron is nie?

Maar, daar kom ‘n tyd wanneer die laaste afkondigging gemaak word.

En hulle jou naam roep, want die vliegtuig wil opstyg en hulle wag net vir jou om jou ‘boarding pass’ in te gee.

Frans haak vas by die vuilngevatte swart en wit foto, wat in die dubbelgevoude A5 pamflet gedruk is.

Voorop.

Hy onthou toe die foto geneem is.

Dit was die sewentigerjare in ‘n ander Suid Afrika.

Sy Pa is bevestig as predikant by ‘n nuwe gemeente, en daardie dae was dit nogal ‘n gedoente.

Heel naweek se besigheid, met weke vooraf se voorbereiding, waarvan hy natuurlik salig onbewus was.

Vyfjarige seuntjies steur hulle nie aan opgetofde gedoentes nie.

Hy was gelukkig daardie tyd.

Sy Sus was bykans pas gebore.

Hy’t ‘n  teroriste pak en speelgoed masjien geweer gehad, wat hom dae lank in Salvia Singel se werf besig gehou het.

Vrydagaande was Kentucky Fried Chicken en Coke op die spyskaart.

Met ‘n vroegaand Somer swem by St Georges Park se Ooenbare swembad en roomys op ‘n stokkie vir nagereg.

Saterdae het sy Pa vleisgebraai en roosterkoeke.

Sondae was Kerk en Sondagskool.

En Oupa en Ouma en Oom en Tannie en Niggies.

Soms sommer net daar in Westering.

Ander kere in sy Oupa se spoorweg huis wat uitkyk oor die hawe.

En partykeer op Uitenhage, waar sy Oom altyd die tafel tennis tafel sal opslaan en hulle eers met sy linkerhand sal wys dat hulle nog baie het om te leer.

Vir Frans was dit onbewustelike dae.

Onbewus van baie goed.

Onskuldige dae.

As jy vyf is glo jy sonder skroom wat die groot mense vir jou se.

Dis eers later dat mens jou eie gedagtes vorm.

Frans onthou hoe sy Ma met hom vroegoggend in die sandpit gespeel het.

Terwyl sy boeties en sussie en Pa nog bietjie slaap.

En hoe hy in haar werk kamer rond gehang het.

Terwyl sy ywerig naaldwerk doen om klere aan hulle lyf te sit.

Altyd aan die gesels.

Op ‘n manier, eerlik.

Met die veronderstelling en verwagting dat hy sal verstaan.

Met ‘n oop oor wat luister.

Haar gesels altyd met ‘n wag voor haar mond.

Want sy het geleef uit lojaliteit.

En as mens leef uit lojaliteit, dan’t mens soms botsende lojaliteite, wat dit moeilik maak om alles bloot te le.

Frans onthou hoe sy Ma met hom Tuba klasse toe gery het.

In die vaal-wit Kewertjie.

Haastig deur Port Elizabeth se strate.

Hy onthou koekies bak voor Somer vakansie op Kenton on Sea.

Blikke en blikke vol.

En stap langs die hoofstrand, met sy Pa wat die bal vir hulle 3 seuns gooi.

Hoog in die lug.

En sy Ma wat hulle almal wit smeer uit sulke blou ‘lotion’ botteltjies met ‘n vyf op, dat die son hulle nie verbrand nie.

Frans onthou aandetes op weeksaande.

Altyd met ‘n nagereg, al was dit dan nou net pienk mousse uit ‘n pakkie opgeklits.

En Bybellees, na nagereg.

En hande vat vir gebede.

Sy Ma bid eerste.

Dan sy ouboet.

Dan sy ander ouer broer.

Dan hy.

En toe sy Sussie oud genoeg is, sy na hom, want sy is die jongste.

En laaste sy Pa.

Met ‘n plegtige gebed.

Vir hulle elkeen en vir hulle as gesin en vir die gemeente waar hulle werk.

Later in die aand, met slaaptyd, dan was daar weer Bybel lees.

En bid.

Die keer lees sy Ma.

Van Dawid en Goliat.

Van Moses en biesies mandjies en slawedrywers en plae en oopngekloofde see, van strydwaens en Manna en kwartels, van ‘n slang op ‘n stok en ‘n beloofde land en seuns weggevoer in balingskap, en ‘n leeukuil en ‘n vuuroond.

In sy Ma se lees hoor hy opregte geloof.

Toewyding.

Na die lees kniel hulle langs die bed.

Sy Ma tussen hom en sy boetie.

Want hulle deel kamer.

En hulle bid weer.

Die keer eerliker.

Vir die mense agter die yster en bamboes gordyn.

In lande waarvan Frans niks geweet het nie.

En vir vergiffenis.

Dat Jesus sy hartjie skoon sal wees.

Elke aand oor-en-oor, asof Jesus nie klaar gewas kry nie, of Frans net te morsig is om skoon te bly.

Daai tyd het Frans nie geweet nie, maar hy het gebid.

En hy’t geluister as sy Ma bid.

Vir hom en hulle.

Dankbare gebede.

Wat in Frans die oortuiging wakker gemaak het dat ons leef uit God se hand.

En dat ons ‘wees’ kosbaar is.

Wat van al die gebede geword het, weet Frans nie.

Dalk, deur dekades heen, het hulle tot as verbrand in die wierook bak vooor God se troon?

Dalk, brand hulle nog, daar in die troonsaal, in ‘n ewigheid ongeaffekteer deur tyd en kronologie.

Nou leef Frans agter die bamboes gordyn, en gee Engels vir die kinders en kleinkinders van die mense wat ook kinders was, toe hy kind was en vroom langs sy Ma gekniel het.

En in hom brand nogsteeds ‘n oortuiging.

Dat God is.

Miskien ‘n oortuiging in hom aan die brand gesteek deur sy Ma?

Hoe dit ookal sy – hierdie oortuiging het hom gedra, en dra hom, terwyl hy voort strompel in die kort gangetjie van die toonbank waar die bagasie geweeg word tot by die ‘boarding gate’.

Sy Ma het hom geleer dat hy kan.

Om hom te staal teen die lewe, miskien te veel, dat niks onmoontlik is met harde werk en deursettings vermoe nie.

En sy’t hom geleer om te luister.

Hoeveel dae het Frans onder die ronde stinkhout tafeltjie met sy groen sybokhaar tafeldoek gele?

In die sitkamer.

Gele en luister.

Terwyl sy Ma luister.

Na vrou op vrou, wat hart kom oopmaak.

Frans onthou nie regtig wat alles vertel is in die sitkamer nie.

Maar hy onthou sy Ma se oor.

En haar versigtige raad gee.

En haar ywerige gebede bedrup met liefde.

Daar is te veel om te onthou.

Die dringendheid wat oor haar gekom het toe sy met kanker gediagnoseer is.

En wat in haar vasgesteek het vir dekades na die dokters haar vertrek voorspel het.

Dis nogal iets om in jou dertigs te hoor jy’t miskien ‘n jaar oor en dan dit te maak tot by oud wees en beroerte kry en heup vervanging en gedagtes verloor.

Dis geskenk.

Geskenk met las en verlies.

Frans dink vanaand aan sy Ma se onkreukbare lojaliteit aan sy Pa.

Tot haar eie skade.

Deur alles.

Dis beautiful.

Hy het, soos die ou gese het, ‘n geskenk gekry wat baie meer werd is as goud of silwer.

Sy sou ‘n goeie dokter kon wees.

Sy sou ‘n ’empire’ gebou het as sy die kans gehad het om haar alles in ‘n besigheid in te sink.

Sy sou skoolhoof en inspekteur geword het, as sy aanhou skoolgee het, verby hulle geboorte en die Kerk en die dien.

Sy het besluit om niks van daai goed te wees nie.

Om vrou te wees vir haar man.

Heel eerste.

Altyd fyn versorg, vir hom.

Altyd nederig onderworpe aan sy wil, al het sy geweet of gedink, daar is dalk ‘n ander pad.

Altyd in diens van sy roeping.

En van ons, haar kinders.

Besig om ons te leer.

En te klee.

En te voer.

Besig om, tussen bid ure en vrouediens en kinderkrans en bazaar en jeug-byeenkomste en Pinkster dienste en Sondag tee en Kerkraadsvergaderings heen, iets bymekaar te maak.

Om vir musieklesse te betaal.

Of ‘n skool toer.

Of ‘n ekstra ietsie om te help met Universiteits gelde.

Altyd.

In diens.

Van ander.

Dis laat as Frans die gevrommelde pamflet wegsit by die paar herhinnering goedjies wat hy soms uithaal om te onthou.

Sy Ma was nie Moeder Teresa nie.

Dit weet hy goed.

En dat daar kamers in haar hart was wat hy nooit geken het nie, dit kan nie betwyfel word nie.

En dat daar verwydering gekom het.

Tussen hom en haar.

Toe hy destyds nie meer ook nog in haar man se diens wou staan nie.

Dit is.

Maar miskien, as alles gese en gedoen is, dan kan daar nie verwydering kom tussen ‘n Ma en haar kind nie.

Want sy plant iets.

Iets van haar self.

Baie meer as wat ‘n Pa kan, belas met ambisie en werk.

En wat sy geplant het word bome.

Ten goede en kwade.

Dit word woude.

Woude wat nooit verwoes kan word nie.

En miskien is die beste wat Frans kan doen, om sy Ma en al haar liefdesdiens te eer, om sy eie vrou lief te he, en haar nooit te besit nie, maar aan te spoor om alles te wees wat haar hart begeer, in vryheid.

En om vir sy kinders ‘n oor te he wat luister.

En by hulle in te haak.

En wanneer hy onder die ou neut boom sit, op sy plankies bankie, om die wierook bak in die troonsaal vol te hou.

Met die lieflike geur van dankbaarheid.

Ook vir haar.

En dit wat sy is en was en sal wees.

3 jaar terug het Frans haar gaan groet.

Haar styf teen hom vasgedruk, daar op die stoep voor hulle strandhuisie en haar herhinner dat hy haar lief het.

Dalk het sy geweet dis sy laaste groet.

Dalk het sy gehoop dit is nie.

As hy agteroor le, in die warm Beijing Somers aand, se hy vir oulaas: Koebaai, Ubi. Dankie.  Well done. Ek sien uit om weer te sien, as ons weer lewe, sonder die stukkend. Jy’t goed gedoen. Vir ons almal.

One response

  1. Sjoe my oe is nou lekker nat. Dit is die mooiste mooi oor jou ma, sy klink na n kosbare mens, ‘n vrou wat die Bybel van praat, sy was besonders. So mooi dat jy so baie onthou en dat sy in jou en deur jou leer met dit van haar wat jy jou eie gemaak het. Jammer oor jou verlies – ek glo haar gebede van al die jare dra jou steeds.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s