Frans Reisema en die Bootjie

image

Frans sit by Jishuitan se meer.

Hy eet Chao Mie Jen. 

‘Fried Noodles’.

Niks soos die Chaomein wat hy by die Sjienese Restaurant in sy tuisdorp gekoop het nie.

Hierdie is lekker.

En om te staan en kyk hoe die ou in die klein winkeltjie dit aanmekaar wikkel is ‘n belewenis van vlamme en geure wat jy nie op TV of in ‘n tydskrif kan kry nie.

Die meer is Frans se eet plek op ‘n dag soos vandag.

Klasdag.

Heeldag.

Behalwe vir die 60 minute tussen 12h30 en 13h30.

Dan stap hy rustig meer se kant toe.

Koop eers ‘n Coke by die Moslem vroutjie se stalletjie.

En dan die noodles by die ou net langsaan, voor hy verder stap, deur die smal straatjies met hulle outydse grys Chinese baksteen huisies, tot by die meer waar die antieke hout tempel staan en uitloer oor die water vir eeue en eeue.

Frans was nog nie in die tempel nie.

Die is toe vir ‘renovations’.

Baie goed in China word ge-‘renovate’.

En wat nie ge-‘renovate’ word nie, word plat geslaan en oorgebou, of vervang met iets nuuts.

Die meer is ‘n oase in ‘n massiewe stad.

Wilgers met hulle treurige groen blare wat afgroei waterkant toe, oral op die oewer.

En restaurante.

Waar Frans nie waag om te eet nie, want hy sal liewer die 10¥ Chao Mie Jen kap en bietjie geduldig wees en dan dalk eendag saam met sy span by een van die restaurante gaan eet.

In elk geval.

Hierdie is goed vir hom.

Hy hou hiervan.

Sit op ‘n klip.

Eet sy vleislose dis met ‘chopstick’ uit die karton bakkie en kyk vir die Oompie wat ‘n vis probeer vang, en die Ouma met haar kleinkind baba wat angstig die mannetjie probeer skoon hou en weg van die water wat net te aanloklik is.

Dan trek ‘n skuit weg by een van die restaurante.

Nie ‘n nuwe gesig nie.

Frans het dit al gesien.

Besoekers klim op die antieke skuit met sy krulletjie dak en vaar uit op die meer.

So 15 minute later vertrek ‘n klein elektriese bootjie stil en ongesiens met ‘drinks’ en ‘snacks’, en net voor Frans terug mik klas toe, dan is die partytjie verby en die gaste klim oogewonde weer aan land.

Vandag, net so rukkie na die skuit begin uit vaar, kom daar ‘n wind op.

Nie ‘n ‘perfect storm’ of iets nie, maar ‘n wind waarvoor die ou Chinese Plesier Skuit nie gebou is nie en die jong lat wat aan die roer is, nie opgelei is nie.

Dan spring ‘n outjie op ‘n net so oud platboom roei bootjie.

Begin roei asof sy lewe daarvan afhang.

Op die oewer staan ‘n ry oersoneel met tou in die hand.

Frans besef dis ‘n reddings poging.

Die tou is vasgemaak aan die platboom roei bootjie.

En die outjie roei na die skuit, sodat die skuit ingesleep kan word, want die wind druk hom te ver, en die outjie aan die roer kom nie die mas op nie.

Die petalje hou so 15 minute aan.

As Frans die laaste happie Chao Mie Jen vat is die tou aan die skuit vasgemaak en die personeel aan wal begin trek met alles wat hulle het.

Die skuit word ingesleep.

Die gaste is veilig.

Drink liewer ‘n drankie op die restaurant se beskutte stoep.

En dan sien Frans hom.

Die outjie in die roei bootjie.

Stadig.

Teen die wind.

Besig om sy pad terug te maak.

Te roei.

Stukkie vir stukkie.

En Frans besef, dis hoe dit is in die lewe.

Soms.

Dan klim jy op ‘n klein roei bootjie, om ouens in hulle groot ‘fancy’ skuit te gaan help.

En lank na die ouens veilig is, dan is jy nog alleen in jou booitjie en jy moet roei dat dit klap om maar jouself weer aan land te bring.

‘Dis okay’, dink Frans.

Die outjie het iets goeds gedoen vandag.

Die waarde daarvan le nie in die mense wat hy gehelp het se dankbaarheid of erkenning nie.

Dit le in hom.

En al moet hy maar op sy eie terug neuk land toe, en al vat dit lank, en al is dit moeilik en eensaam, dis die moeite werd, want hy het gedoen wat goed is.

En om te doen wat goed is, is altyd die moeite werd.

Ons werp ons brood op die water.

Wat daarvan sal word weet niemand nie.

Maak nie saak nie.

Om te werp is goed.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s