Frans Reisema en die ‘White Privilege’

image

Frans voel nie vanaand baie ‘privileged’ nie.

Dis Vrydag  skuins voor 10.

Deur die moltrein se vensters sien hy die liggies van Fangshan, Beijing.

Hierdie moltrein-lyn se laaste stukkie is nie onder die grond nie.

Hoog bo snelwee, kronkel sy spoor na die buitewyke van ‘n massiewe stad wat meedoenloos uitwaarts kring met hoe hyskrane wat dapper meer en meer geboue hemel toe trek.

Frans sit op sy kamp stoeltjie.

Die’t hy vir 15¥ by die mark gekoop, want die moltreine is vol, selfs nou, die tyd van die aand is daar dalk sitplek vir ‘n derde van die pasasiers en om 2 ure herwaarts en 2 ure derwaarts te staan is ‘okay’ so elke nou en dan, maar om dit dag in en dag uit te doen maak Frans moeg.

So hy sit op sy eie opvou stoeltjie wat hy afslaan en in sy rugsak steek, by die rekenaar en boeke en kragkabels wat hy elke dag saam met hom sleep.

‘n Kruier, soos miljoene ander kruiers wat eentonig heen-en-weer pendel.

Opstaan.

Eet.

Stap.

Bus.

Stap.

Fangshan-lyn.

Stap.

Lyn 9.

Stap.

Lyn 4.

Darem net twee stoppe tot by Xhizimen.

Stap.

Lyn 2.

Tot by Jishuitan.

Stap.

Klasgee.

Voorberei.

En dan van vooraf.

Huiswaarts.

Na die village.

Hy is ‘privileged’.

Dit weet Frans.

Maar hy voel dit nie vanaand nie.

Om ‘privileged’ te wees beteken seker om te he wat baie ander nie het nie.

En met ‘privilege’ kom ‘responsibility’.

Of so was dit, of kon dit gewees het, miskien, in eeue wat lankal verby gegaan het.

Maar nou?

“Miskien is ek net moeg vanaand”, probeer Frans die donkerte wat nader kruip eenkant toe stoot.

Die verdomde donkerte.

Soos nag wil dit altyd weer die dag oorweldig.

As Frans nie ‘privileged’ was nie, sou hy nie nou op die moltrein gesit het nie.

Dis ‘n leeftyd van ‘privilege’ wat hom tot hier gebring het.

Gebore in ‘n Staats Hospitaal, wat destyds, in die vroee sewentigs die eweknie van enige hedendaagse privaat hospitaal was.

Geskool in Staats Skole, in die middel sewentigerjare, met Swembaddens en Sport Velde en Gimnasiums en Biblioteke wat meeding met die beste wat duur privaat-skole tans adverteer en verkoop.

R5.

As hy reg onthou was dit die skoolgeld wat sy Pa-hulle vir hom betaal het.

R5 per kwartaal.

R20 ‘n jaar.

En dit het musiek-lesse en Drama Klasse en Sport Afrigting en Voortrekkers en Volkspele ingesluit.

Soos almal anders,  al die ander Sub A-seuntjies, was hy onbewus dat daar ook iets anders is.

Hy’t nie eens gedink aan ander nie.

Kinders van 6 of 7 dink nie aan baie meer as hulle self nie, wat nog te praat van bewus wees dat daar dalk, net oor die bult, kinders kan wees wat nie toegang het tot ‘n tiende van dit wat op hom oordadig bedien word nie.

Uit hoe kwaliteit primere en sekondere onderrig is Frans Universiteit toe.

Dit was nie ‘n vraag, ooit, of hy Universiteit toe sal gaan nie.

Nie soos in baie ander huise wat hy later sou ontdek nie.

Dit was bloot ‘n vraag wat hy sou studeer.

Nie dat sy bevoorregte ouers geld gehad het om te betaal vir sy klasgelde nie, maar sy ‘privilege’ het hom toegang gegee, tot meer as Universiteit.

Tot beurse.

Tot lenings.

Tot werk.

En na sewe jaar op Universiteit kon Frans hoogs geskool en sonder skuld die lewe ingaan.

Sy plek inneem in ‘n samelewing wat teen daai tyd al begin verander het, maar waar hy nietemin nog ‘privilege’ kon ‘claim’.

Predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Oombliklik, as gevolg van sy ‘privilege’, op 26, ‘n Gemeenskapsleier met invloed in Kerk en Skool en Sake-Wereld.

Wat advies bedien en uitkomste beinvloed, soos ‘n ‘Earl’ of ‘n ‘Count’ van ouds.

Sy ‘privilege’ het hom nie gehelp om rykdom te vergaar nie.

Daarvoor sou hy Dokter of Prokureur of Dosent moes word.

Miskien Ingeneur.

Of dalk sou hy Loopbaan Offisier in die Vloot moes wees, in plaas van om net die diensplig af te handel.

Hoe dit ookal sy, selfs met die opdroog van invloed, nadat hy weggestap het van Kerk en Christelik-Nasionaal en krimpende Afrikaner-(King)-Dom, het sy ‘privilege’ hom bly agtervolg, soos ‘n roofdier wat nie kan afsien van sy prooi se reuk nie.

Sy geskooldheid en ondervinding het geleenthede vir hom oopgemaak, dit het mense vertroue in hom gegee, vertroue wat hy uiteindelik agter gekom het meestal misplaas was.

Tog, dit het hom instaat gestel om ‘n betowerde lewe te lei.

Van Kerk na Media en Sosiale Aktivisme, sonder teenspoed.

‘n Lewe, vol, met ryk belewenisse.

En voorregte.

Wat hy na sy kinders kon aangee.

Woon in welgestelde buurtes, besig met die dinge wat welgesteldes besig hou.

Konserte.

Kultuur.

Reis.

Eksklusiewe naweke by eksklusiewe bestemmings.

Kuns uitstallings.

Intelektuele praatjies en invloedryke gesprekke met invloedrykes wat die omgewing waarin hulle geleef het geraak het.

Nie meer eerstehandse invloed nie, maar die meer koloniale agter die skerms invloed van Imperiale Nasies wat ‘new territories’ oorwin en ontgin.

Niks van dit het ooit vir Frans veel waarde gehad nie.

Of liewer, hy’t nie eintlik waarde geheg aan invloed en status nie.

Nie sy eie nie.

En ook nie die van die mense met wie hy omring was nie.

Inteendeel, hy’t altyd gedink dis bietjie aanstellerig en oordrewe.

Miskien omdat hy naief was.

Of is.

Eers nou, nou dat hy bietjie buitekant staan, sien hy werklik die effek van al die voorreg en invloed.

En die vernietiging van dit alles.

Nie net uit die hand van die wat dit bedien nie, maar tot die hand van die wat dit bedien.

Sonder dat hulle dit eens weet.

“Hulle”, dink hy vanaand, terwyl hy tussen al die ander kruiers op die moltrein sit.  “Dankie tog dis nou ‘hulle’ en nie meer ‘ons’ nie, want watter vokkin goed kan tog kom van al die waansin”.

Maar ten spyte van sy verligting, is Frans verniet verlig.

Sy ‘privilege’ agtervolg hom, soos die Tokkelossie in die Baviaans.

Dit het hy weer gesien toe hy sy nuwe werk begin het, wat hom nou dag in en dag uit op die moltrein laat kruip.

Hy’t, op die vleuels van sy grade, wat hy op die wind van sy ‘privilege’ versamel het, werk gekry by ‘n Universiteit in Haidian-Distrik in Beijing.

‘n Goeie werk wat mettertyd vir hom sal help om van al die skuld wat hy opgegaar het, so met die roer van sy septer, in ‘n lewe wat ‘n leeftyd gelede was, ontslae te raak.

“Mens raak nie in ‘n rukkie ontslae van dekades se skuld nie, netsoos mens nie in ‘n week aan die anderkant van jare se emosionele kak kom nie.”

Frans was nog altyd, ten spyte van sy naiwiteit, ‘n bietjie van ‘n realis.

In elk geval, sy ‘privilege’ het hom die werk gekry.

Saam met ‘n ander Suid Afrikaner het hy opleiding begin.

In ‘n week is hy deur die proses.

Met vleuende vaandels.

Ses weke later is Bongani Mvubu nog hard aan die probeer

Bongani, die kosprys van Frans se ‘privilege’.

“Die outjie kan nie krities dink nie.  En hy kan nie ‘n groter prentjie sien nie.  Hy’t grade soos ek, maar sy onderrig was nie hoer nie.” deel Frans sy opinie, een aand, met sy vrou, in die privaatheid van hulle kombuis.  “Hy’s slim.  Hy’t taal-vaardigheid.  Maar hy’t iets gemis in sy onderwys.  En ek weet nie hoe hy dit ooit gaan opvang nie?  Dis goed wat jy moet kry as jy klein is.  Goed wat jy mis as jou Pa ‘n ‘migrant-worker’-myner is wat maande op ‘n slag weg van die huis is en jou ma ‘n huis bediende wat moet inslaap en net Sondag vir die dag huistoe kom, oor ‘n ver afstand, om 11 uur by die huis te kom, om 4 uur weer aanstaltes te maak, want die Miesies se kinders se kosblikke moet reggesit word vir more se skool, en jy is aangewese op die sorg en aandag van ‘n ou Ouma wat nie meer kans sien nie.  Kolonialisme en Imperialisme en Industrialisasie het kosbare mense verarm.  In hulle gees en hart en wese en verstand.  En dit het my verryk.  En daar is nie ‘n manier wat al die BBEEE of Nasionalisering dit ooit sal kan regstel nie.  Nie vir die ouens wat al grootmense is nie.  Miskien is daar hoop vir hulle kinders, of hulle klein kinders, as … as ons iets kan doen om ‘n stukkie van die ‘privilege’ wat ons gehad het te kan ont-‘privilege’.  As ons dit ‘common’ kan maak en hulle kinders en klein kinders ‘propperse’ onderwys kan gee … miskien dan sal daar iets anders wees in ‘n wereld van more, maar die wil, die intensie, ontbreek.  Dit bestaan nie in ‘n land of wereld wat eintlik maar nogsteeds regeer word en gerig word deur Kapitaliste vir wie mense vir altyd net ‘n manipuleerbare bron in ‘n bree spyskaart van bronne is wat benut moet word om maksimum wins en voorreg te skep en verseker vir ‘n 1% wat al hoe minder word, soos die wereld populasie en armoede en ongeleterdheid en daarmee saam konserwatisme en fundementalisme en godsdienstigheid toeneem.”

Sy vrou luister maar.

Sy’t al agtergekom, as Frans so aan die praat raak gaan dit nie oor gesprek nie.

Dis sommer net gedagtes op gedagtes wat opgekook en verbrand is, wat uitgekrap en weggegooi moet word, en daar is nerens anders vir die swart aanbrandsel om uitgekrap te word nie.

“Ek en jy!   Ons het die ‘privilege’.  Ek en jy en ons soort.  En ons en ons soort voel so verontreg oor hulle nie meer aan bewind is nie, hulle is verblind deur hulle verlies.  Ons is verblind.  Ja, ons het nie gevra vir die ‘privilege’ nie.  Dis vir ons gegee.  Dit is so.  Dis nie asof ek aansoek gedoen het om toegang daartoe te kry nie.  En ons was ook maar net ‘tools’ in ‘n ander man se gereedskaps-kis.  Miskien moet ons dit eerder raaksien en ‘acknowledge’, dat ons ‘loss’ en ontnugtering nie soveel te doen het met die ‘loss of power’ as wat dit te doen het met die onbewustelike besef dat ons nie so slim en ‘smart’ was of is, as wat ons gedink het nie.  Die besef dat ons dienaars, eerder as Konings was, en is.  Bediendes in ‘fancy klere’ tot diens van Anglo-Amerika en al sy monsteragtige ‘subsidiaries’.  Daai vet president met sy klomp vrouens en rondawel paleis.  Hy’s ook net ‘n bediende.  Hy bedien dieselfde Meester wat Verwoerd en Vorster en Botha en De Klerk gedien het.  Miskien was Mandela en Mbeki nie bediendes nie?  Ek sou graag so wou hoop, maar as ek eerlik moet wees, dan weet ek die hele fokkin spul was nog altyd die ‘Maids of Imperialism’.  ‘White’ in ‘White Privilege’ het lankal nie meer te doen met die kleur van iemand se vel nie.  Ook nie kleur van iemand se vlag of party nie.  22 jaar in die pad af is dit kleurloos, die ‘privilege’ en uitsluiting gekoop en gereserveer, met geld wat nie verdien is nie, by privaat-skole en orivaat hospitale en privaat klubs en duur winkels en ryk woonbuurtes.  Ons het die ‘privilege’ geleef.  Ek en jy.  En ons gaan nog lank die prys daarvoor betaal.  Maar nie net ek en jy en ons klasmaats nie.  ‘White Privilege’ is nou die ‘burden’ van ‘n hele nuwe generasie mense.

“Rhodes!”, spring Frans se gedagtes oenskynlik. “Sy fokkin beursies is krummels van die oorvloed wat hy geroof het.  Dis goed dat sy bleddie beeldjie geval het.  Hy’t nie net bronne geroof nie.  Hy en sy kamerade.  Hulle het ons siel geroof.  Myne.  En joune.  En die siel van elke ander kind van Afrika se grond.  Met ‘social-manipulation’ en ‘engineering’ op ‘n skaal wat nie een van ons besef nie.  En hulle nasate het nog nie opgehou nie.  Hulle roof ons nogsteeds.  En die ‘sun set’ nogsteeds nie op die ‘Empire’ nie.  En die beste wat my en jou soort kan doen, wit en swart en bruin en geel, is ‘bitch’.  ‘Bitch’ en jag.  ‘Bitch’ oor ons verlies.  ‘Bitch’ oor mekaar.  En jag.  Jag vir geld.  Soveel as moontlik geld, want dis verdomp al wat oorgebly het vir mense wat kaalgat staan in ‘n siele-wereld waar liefde en vreugde en vrede nog altyd die nuutste mode was.”

En dan drink Frans stadig aan sy goedkoop Chinese bier.

Want miskien is die swart aanbrandsels uitgekrap?

Vir eers.

“Dis alles goed en wel”, se sy vrou deur die stilte, van ver, want Frans se gedagtes is nie in die kombuis nie.

Dis die geneuk met 2 ure herwaarts en derwaarts op die moltrein karwei – jou gedagtes dwaal, al probeer jy lees en sinvol besig wees, jou gedagtes dwaal na allerhande plekke en allerhande goetters en jy stop nie sommer dwalende gedagtes in sy spoor nie.

“Maar wat staan ons te doen?” hou sy vol.

Dis die gedagte wat vanaand, hier skuins voor 10 met Frans stoei, hier op die moltrein tussen Haidian en Fangshan.

“Die duiwel alleen weet”, prewel Frans in sy binneste.  “Miskien.  Miskien is dit maar die orde van dinge.  Afrika vir altyd uitgelewer aan die ou wereld en haar Konings.  En materialisme die enigste pyn-stiller in ‘n wereld wat nie eintlik hoop het nie.  ‘n Wereld in die greep van Meesters wat nie ‘n saak het met enige iemand of iets wat nie tot diens gebring kan word nie.”

Maar dit kan nie wees nie.

Hoe kan dit wees?

Hoe kan dit die uiteinde wees van alles?

Ja, voor die groot wit Konings met hulle groot beseilde skepe geland het was daar ander konings in Afrika.

Hulle agter klein kinders nou self deel van die ‘White Privilege-Servants-Corpse’ wat diens doen aan Konings en Koningine van Eeue gelede.

Voor die Portugeuse en Hollanders en Engelse kom Boesmans jag het in die Karoo, was daar Xhosas en Zulus wat hulle eie jagwerk gedoen het en hulle eie oorloe gevoer het.

Biskruit en Tegnologie het net gewen.

Sodat een Meester buig voor ‘n groter Meester.

“Maar voor wie sal die Meesters van hierdie aarde buig?”

“Miskien”, kom die gedagte by Frans op sy rooi opvou stoeltjie, in die oorlaaide moltrein, soos dit nader trek aan Suzhuang Stasie, ‘The Terminal of the Train’, “miskien is daar hoop in die prysgee van alles wat geinstitusionaliseerd is?  ‘Anarchy’?  Dis sekerlik wat mens dit noem?  Maar hoe anders breek mens die houvas van Meesters wie hulle-self oor eeue heen ingegrawe het in Heerskappy?  Hoe anders as om alles wat deur hulle geskep is te vernietig en oor te begin.  Oor-spronklik?”

Frans skud sy kop, want dis een geweldige gedagte wat selfs hierdie dwaal trein van gedagtes nie kan verwerk nie.

“Hoe’t ek hierby gekom?” vra hy homself.

“Miskien sal ons net vry kom, as ons Staat en Kerk en Ekonomie in totaliteit vernietig?  Hoe anders maak mens jou los van ‘n sisteem wat ingeweef is in die wese van samelewing op samelewing?”

En dan lag Frans.

Klip hard.

Soveel so dat die mede-pasasiers, wie al gewoond geraak het aan die wit-mens op sy opvou stoeltjie, aan die agterkant van die moltrein-wa, opkyk van hulle fone en boeke en sepies, ten spyte van hulle oorfone wat religieus gedra word.

Maar Frans gee nie om nie.

“Hoe ‘stupid’ kan mens wees?  Dis sy ma wat altyd gese het net ‘n donkie stamp sy kop twee keer op dieselfde plek.  Het jy nie probeer om die sisteem te verander nie, Fransie?  Destyds?  Toe jy toga gedra het?  Wat het dit jou in die sak gebring?”, vra hy homself.

En dan antwoord hy sommer hardop, die moegheid van ‘n lang dag se klasgee, en ure se pendel te veel:”Ja. Niks.  Skuld.  Maar skuld is nie iets nie.  Dis eintlik minder as iets.  Die teenwoordigheid van minus iets.”

En as die dametjie in fyn Engels aankondig “This train is arriving at Suzhuang Station, the terminal of the train.  All passengers,  please prepare to get off.  Make sure you have all your belongings with you.  Thank you for using Beijing Subway”, dan kom Frans tot sy sinne.

“Niks nie, ‘my love’.  Daar is niks wat ons kan doen nie.  Ons kan ons skuld getrou betaal.  Ons kan werk, sodat ons ons kinders kan voer en klee en vir hulle die beste onderwys kan koop wat ons kan bekostig.  En ons kan vir hulle leer dat die ‘privilege’ wat so ewe in hulle skoot geval het werklik is.  En dat dit met ‘n verantwoordelikheid kom.  ‘n Verantwoordelikheid wat maklik afgeskud kan word en veruil kan word vir die blink lee blik van goedters wat nooit goed is nie.  En ons kan liefhe, waar ons is.  En ons kan omgee, vir wie in ons pad kom.  Maar dis dit.  Ons kan nie anargie bring nie.  En ons kan nie Afrika red uit die greep van haar Konings van die afgelope eeue nie.”

En sedertdien loop Frans in stilte.

Van huis tot klas tot huis.

Dwaal hy van kamer tot kamer.

Want nog ‘n stukkie van sy onskuld het tot sterwe gekom.

En miskien daarmee saam ‘n stukkie van homself.

One response

  1. Hoekom is Frans daar en nie in SA nie?
    Ja so “wonner” mens oor baie dinge – die ou lewe….
    Ek hou van die kampstoeltjie idee op die trein, my se bene sal nie die gestaan kan vat nie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s