Frans Reisema en die Verjaarsdag Toespraak

image

“Om gelukkig te kan lewe, met vrede en liefde, is ‘n rare en kosbare geskenk.”

Frans se stem is effe emosioneel.  Sy gehoor is die belangrikste gehoor met wie hy nog gepraat het.

Nie dat Frans dikwels voor mense moet praat nie.

Nie meer nie.

‘n Leeftyd gelede, in ‘n ander wereld, in ‘n ander lewe.

“Om dertien te word, is ‘n groot oomblik.”

In Frans-hulle se huis is vryheid belangrik.

Selfs in daardie ander lewe, in daardie ander wereld, ‘n leeftyd gelede, was vryheid belangrik.

“In baie kulture is dertien ‘n mylpaal.  ‘n Deur.  Na ‘n lewe van verantwoordelikheid.  Julle ken die Jode se Bar Mitzva.  Op dertien word ‘n Joodse seun verantwoordelik onder die wet.  In Islam en Hinduisme is daar soortgelyke gebruike.  Vikings wat gereed was om Stryders te word.  En dis maklik om te dink, dis ou gebruike wat ontstaan het in ‘n tyd toe lewensverwagting kort was.  As mens verwag om net 30 of 40 jaar oud te word, dan is dertien belangrik.  ‘n Oomblik voor jy trou en kinders kry, voor jy jou bydra maak tot die samelewing waarvan jy deel is, sodat jy van waarde kan wees, voordat jy toegespit word.”

Frans onthou die aand in Port Elizabeth,  dertien jaar gelede.

Diana en Charlene het na die ander twee kleintjies by die huis gekyk.

Dit was ‘n geskenk.

In ‘n ideale wereld sou daar seker oupas en oumas gewees het wat kon kyk, sodat Frans by sy vrou kon wees en die kraam kon deel, maar niemand leef in ‘n ideale wereld nie, en oupas en oumas is soms ver en ander kere is hulle opgevang in lewens-bedrywigheid.

En dikwels is daar genade oor ons.

Die genade van mense wat genoeg omgee om in te staan, waar niemand anders staan nie.

Vanaand wonder Frans of hy ooit, in die opwinding van die oomblik, sy dank sterk genoeg uitgespreek het teenoor die twee vrouens wat die nag by hulle huis deurgebring het, sodat hy by sy vrou kon wees en kon deel in die oomblik toe hulle tweede dogter, hulle derde kind, haar verskyning in hierdie wereld gemaak het?

“Jy moet onthou dat jou waarde nie le in wat jy doen nie.”

“Jy is waardevol.”

Dis waar van ons almal, maar vanaand praat Frans met sy dogter, wie sy jongste dogter was, vir bykans nege jaar, totdat hulle heel kleinste een haar opwagting gemaak het, kort voor Frans se een-en-veertigste verjaarsdag.

“Daar is baie mense en gelowe wat vir jou sal wil wys maak dat jou waarde opgesluit is in jou produksie.  In wat jy doen of bereik of behaal.  Dis ‘n stront storie.  Jy is waardevol, omdat jy is.  Twee stukkies verganklike aarde wat aanmekaar geweef is deur ons Oorsprong,  in wie Oorspronklike Asem geblaas is, om jou tot lewe te bring.

“Natuurlik gaan jy baie mooi goed in jou lewe doen.  Jy is talentvol.  Kreatief.  Slim.  Jy het ‘n hart vol liefde en ‘n fyn gees wat dinge weet, sonder dat jy dit eens weet.

” As jy dit ontvang om jou lewe in te weef met die lewe van ‘n ander mens, sal jy die ongelooflikste lewensmaat wees.

“As jy dit ontvang om ‘n Ma te word, sal jou kind of kinders die mooiste geskenk ontvang in jou liefde en onvoorwaardelikheid.

“As jy dit ontvang om ‘n werk te he, sal jou werkgewer bevoorreg wees om jou in hulle diens te he.

“En as jy dit ontvang om ‘n werkgewer te wees, sal jou werknemers altyd met heimwee terug dink aan die tyd toe hulle vir jou gewerk het.

“Vir wie jy ookal ‘n vriend is, gee jy ‘n kosbare geskenk.

“En wat jy ookal aanpak, dit sal betekenis he.

“Maar in niks daarvan is jou waarde opgesluit nie.

“Dit alles sal betekenis kry, omdat jy waarde het.

“Omdat jy is.”

Frans weet nie of hy vanaand te veel se nie.  En of hy dit reg se nie.  Hy’s nie baie goed met woorde nie.  En in die oomblik sukkel hy altyd om homself uit te druk. 

Hy wonder of sy woorde nie te swaar is vir die geleentheid nie?

Dertien.

Hy onthou toe hy dertien was.

‘n Standerd Vyf seuntjie aan Sunridge Laerskool.

Sy grootste bekommernis was of hy sy woorde sal onthou vir die Oparette wat Mevrou Marx aanmekaar gesit het.

Dit was nie ‘n sang rol nie.

Die Kermis Baas met sy bloedrooi baadjie en lang swart stewels was ‘n moeilike karrakter.

En tog, as Frans nie vanaand se wat hy moet se nie, wanneer sal hy dit se?

Want wie weet of more kom?

En dalk, al is dit misplaas, hierdie ywer van hom, dalk tog iewers later in die lewe is daar ‘n oomblik dat sy of hulle dit onthou en dit haar of hulle help om aan die anderkant van moeilike goed te kom, of sin te maak van seer, of gelukkig te wees, midde in die meedoenlose ritme van verlies en wins en weer verlies wat hierdie lewe merk.

“Onthou dat jou waarde in jou wees is.

“Omdat jy kom van Hulle Wie ons Oorsprong en Bron is.

“Hulle, Wie op ‘n dag, toe die vraag gevra is ‘maar Wie moet ek se stuur my?’, geantwoord het: ‘Ek is’.

“Jy is.”

“Beautiful.”

“Amazing.”

“Die perfekte inmekaar geweefdheid van grond en Wind.  Aarde en Gees.

“Moenie vergeet dat jy grond en Wind is nie.

“Daar is, netsoos daar baie mense en gelowe is wat vir jou wil vertel dat jou waarde in jou produksie sit, netsoveel wat vir jou wil wys maak dat jy net gees is, of net aarde.

“Hulle almal probeer sin maak.

“En dit moet ons hulle toegee.

“Ten minste probeer hulle sin maak en dwaal nie gedagteloos deur die lewe nie.

“Maar hulle gedagte is half.

“As hulle vir jou wil se jy is half.

“As hulle vir jou wil vertel dat die een ‘deel’ belangriker as die ander ‘deel’ is, of dat jy ‘dele’ het.

“Jy is nie twee of drie of vier dele nie.

“Jy is.

“In al jou volheid, een.

“Grond en Wind inmekaar geweef.

“Om te eet, om lekker te eet, is netso belangrik as om te lees.

“Om te dink, diep en lank te kou aan moeilike gedagtes, is netso belangrik as om te slaap.

“Ter loops.

“As jy gelukkig wil wees.  Sorg altyd, so goed jy kan, dat jy genoeg eet, genoeg slaap, en ‘n bietjie stap.

“En sorg dat jy genoeg lees, en luister, met ‘n oop gemoed, na baie.

“Jy sal weet wat waar is en wat strooi is.

“Die Wind waai altyd strooi weg.”

Soms.

Dink Frans by homself.

Want as dit ‘altyd’ was, dan sou daar nie soveel mense gewees het wat ongelukkig deur die lewe gegaan het, en gestoei het om sin of betekenis te vind nie.

“Die Wind waai altyd strooi weg, as ons dit ontvang om dapper genoeg te wees, om in die Wind te staan.

“Dis ‘n geskenk, soos meeste mooi en swaar, om dapper genoeg te wees om in die Wind te staan.

“En elke geskenk, elke wins, kom met sy eie verlies.

Frans wil, as daar niks anders is wat hy wil nie, dan wil hy dat sy kinders sal weet dat ons lewe ontvang, uit die hand van die Lewe.

Vir hom het dit ‘n lang tyd gevat om te leer.

Hy’t groot geword in ‘n wereld waar die sterkstes alleen gestaan het en prestasie die geldeenheid was waarmee aanvaarding gekoop is, in die afwesigheid van liefde wat gegee is.

“Dat jy is, is geskenk.

“En elke oomblik van jou wees, is geskenk.

“En elke oomblik van jou wees, van hierdie dag verder, is geskenk.

“Ons Oorsprong is nie ‘n boelie nie.

“Ons Oorsprong is nie ‘n slawe-eienaar nie.

“Ons Oorsprong gee ons wil.

“Ons Oorsprong gee ons die wil om te wees, alles wat ons tot lewe geroep is om te wees.

“Jy weet wie jy is.

“En as ek een ding vir jou kon bid of wens of waarmaak, dan sou dit wees dat jy met elke dag beter sal weet wie jy is, en in pas met jou self, met jou eie wees sal kan lewe.

“Maar ek kan dit nie vir jou waarmaak nie.

“Dis in jou hande.

“En in ons Oorsprong se hand.

“Sien jou eie hart.

“Sien jou eie wese.

“Omarm dit.

“He dit lief.

“Wees trots daarop.

“En leef daaruit.

“Leef in pas daarmee.

“Moet dit nooit ontken nie.

“Moet dit nooit probeer wegsteek nie.

“Wees.

“Wees wie jy is, in elke oomblik.

“Dit is so.  Ons verander.  Ons word ouer.  Ons beleef nog.  Ons ontdek nog.  Soms word ons teleurgestel.  Soms kry ons seer.  Soms gee ons moed op.  Soms begin ons oor.  Soms word ons getemper.

“Mik om altyd meer te word.

“Meer van jouself.

“Sonder enige verskonings.

“Onbeskaamd.

“Al kos dit iets.

“Al is die prys duur.

“Al verstaan nie een enkeling nie.

“Wees alles wat jy is, soveel soos jy kan, in elke oomblik wat jy ontvang.”

Frans weet nie of dit goeie advies is nie.  Hy weet nie eens of hy regtig een is om advies te gee nie.  Maar dis al wat Frans ken.  Terwyl hy met al die emosie wat hy kan bymekaar skraap en al die geordendheid van gedagtes wat hy kan skep, met sy tweede dogter en sy ander drie kinders en sy vrou en sy suster en sy niggie, sy klein gehoor, praat, onthou hy die tye toe hy probeer het om homself te verskans.

Moeg vir die geveg om te wees.

Seer van die stryd om ten spyte van geen goedkeuring vol te hou.

Eerlik te lewe.

“Dis om Eerlik te lewe.

“En enigiets wat nie eerlik is nie, is nie lewe nie.”

Vir ‘n oomblik is Frans van sy storie af.

Die drade van al sy gedagtes oopgevlek om dalk nie weer bymekaar te kom nie.

Hy weet dis moeilike pad.

Vol swaar waardeur vasgebyt moet word.

Hy wonder of dit goed is om sy kinders aan te moedig om hierdie pad te stap?

Of dit regtig die beste is?

En dan sien hy hulle.

In sy geestes oog.

Elkeen besig met die lewe.

Gelukkig, ten spyte van en te midde van.

Vol.

Hulle lewens geraam met liefde en vrede.

Hy sien nie gesinne of uitblink of so iets nie.

Hy sien hulle.

Hulle wees.

Rustig, in ‘n onrustige wereld.

Leef.

Met eerlikheid en integriteit.

In takt.

Ongefragmenteerd.

Sy gehoor wag geduldig.

Miskien vir net ‘n oomblik, want gedagtes het ‘n manier om eensklaps en oorweldigend deur Frans se hart te dwaal.

“Om ‘n lewe te he wat geraam is met liefde en vrede, dit is om te lewe.

“En as jy jou wese prysgee,  dan is daar geen liefde nie.

“Om ander lief te kan he, moet jy jouself ken en wees en liefhe.

“Om vrede te bring, waar jy ookal kom, en moenie dink vrede lyk nie soms ontstuimig nie – om vrede te bring, waar jy ookal kom, is onmoontlik as jy nie tot vrede met jou self gekom het nie.

En Frans weet, wat hy se, is onmoontlik.

Want hoe kom mens tot vrede met jou self?

Hoe het jy lief, al jou eie stukkend en wees?

Die kos is besig om koud te word.

Die oomblik besig om verby te gaan.

Daar is nog baie wat Frans vir sy dogter sal wil se.

Om te vergewe.

Haarself.

En die mense om haar.

Soveel soos nodig is.

Om nie toe te gee aan woede nie.

Want woede kan gif word wat jou siel stadig doodmaak.

Maar vanaand is nie die geleentheid nie.

En miskien moet ons self ook mettertyd dinge vir onsself uitpluis.

En dalk is daar iewers nog ‘n dag, om nog te praat.

Vir nou, dink hy, is dit genoeg.

“Elke dag haal ek diep asem.  Soek ‘n oomblik.  Ek maak my oe toe en onthou dat ons nie toevallig is nie.  Dat ons noukeurig aanmekaar geweef is met hande wat nie gesien kan word nie.

“In daardie oomblik onthou ek dat ons tot-een-wees gebring is met ons Oorsprong.

“Elkeen van ons, in tyd, en voor tyd, en aan die anderkant van tyd.

“In daardie oomblik begeer ek.

“Om vol te wees.

“Vol van liefde en vreugde en vrede.

“Vol van geduld en vriendelikheid en goedhartigheid.

“Vol van getrouheid en nederigheid en selfbeheersing.

“En op een of ander manier, in elke dag, soms meer en soms minder, word hierdie begeerte van my hart vervul.

“Dis my begeerte vir jou.

Nou praat Frans met sy dogter wie se verjaarsdag gevier word.

Maar hy kan nie net met haar praat nie.

Want dis nie net van haar waar nie.

“Dis my begeerte vir elkeen van julle.

“Dat jy vol sal wees.

“Met liefde en vreugde en vrede.

“Nie die common oppervlakkig kak wat aan ons verkoop word deur religie en vooraanstaandes nie.

“Liefde.

“Vreugde.

“Vrede.

“Die ware Jakob.

“Die egte ding.

“Langs ‘n vars waterstroom staan ‘n boom.  Die boom het lower groen blare, elke somer, die mooiste bloeisels in Lente en sappige soet vrugte.

“Die boom gee koelte aan almal wat daar verby kom.

“Die boom gee kos, aan elkeen wat wil pluk.

“Die boom gee skuiling teen die son en die reen.

“En as dit winter is, ryk die boom se kaal takke na die hemel, met hier en daar ‘n nes van ‘n voel wat nie kans gesien het om ver te vlieg vir ‘n ewige somer nie.

“Ek bid dat jy die boom sal wees.

“Ek bid dat ons die boom sal wees.

“Onthou die lewe is nie gemaak om alleen gelewe te word nie.

“Soos ons oorsprong, is ons ook ‘ons’.

“Partykeer het ons iemand nodig om by ons in te haak.

“Partykeer het ons nodig om in te haak by iemand.

“Dis die goeie van die lewe.

“Die saam.

“Die ons.

“En ‘ons’ het jou lief, sonder voorwaardes, vir altyd en altyd, maak nie saak wat gebeur nie.

“Die lewe is vol en ryk met ‘loss’ en ‘gain’ en ‘loss again’.

“Dis okay.

“Want ons kom van ons Oorsprong en ons leef uit ons Bron.

“Ons het elkeen van julle so lief.

“Sonder voorwaardes.

“Vir altyd en altyd.

“Maak nie saak wat gebeur nie.

“Lewe.

“Gelukkig.

“Geraam met liefde en vrede.

En toe eet hulle.

En hulle drink.

En hulle lag.

En niemand het iets gese oor Frans se toespraak nie.

Ten minste was die oomblik gemerk.

In Frans se hart.

Want hierdie oomblik, dit is al wat ons het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s