Frans Reisema en die Vuur

image

Vuur.

Verteer.

Daar was nou al drie vure in Frans se lewe.

Miskien eerder brande.

Want dis mos wat ons ‘n vuur noem wat ons nie aspris gemaak het nie.

‘n Brand.

Die huis het afgebrand.

Die veld het afgebrand.

Die kombuis het afgebrand.

Daar’s ‘n rede waarom Frans vandag sit en dink aan brande.

Hy was rustig besig om middagete te eet.

Vark-hart met groen boontjies en rys.

Want hier in China is vleis duur en hierdie dis is die goedkoopste op die spyskaart met iets vleiserigs in.

Die eerste keer dat Frans dit bestel het, was dit oor die prys.

En as hy moet eerlik wees het hy nie regtig geweet wat hy bestel nie.

Hy’t maar die prentjie gekyk op die spyskaart teen die muur en die prys gesien en geweet, met die 15 ¥ in sy sak, sal dit hom versadig maak.

Die dis was lekker.

Eers weke later, toe ‘n Chinese vriend saam met hom eet, en Frans sy bestelling plaas, het Frans te hore gekom wat sy gunstelling dis by die spesifieke restaurant werklik is.

Dis okay.

Ons pas aan.

En ons raak gewoond.

En ons hanteer wat hanteer moet word.

Om die vark-hart dis te eet, teen 15 ¥ ‘n slag, is ook nie die einde van die wereld nie.

Dis beter as die olierige KFC wat teen 15 ¥ ‘n gebraaide boudjie verkoop en baie beter as die Pizza Hut ‘slice’ wat 30 ¥ kos.

In China, as jy bereid is om te eet wat op die spyskaart is, kan jy sonder geweldige uitgawe jouself knuppeldik eet.

En Frans moet mooi werk met sy geld.

Sy gesin is groot.

En sy inkomste is die van ‘n ’20-something foreigner’ wat sopas klaar studeer het en in China werk om studieskuld te betaal.

Dis genoeg.

Maar genoeg het nie ruimte nie.

En ruimte kan geignoreer word.

Totdat ‘n tandarts nodig is.

Of ‘n vuur jou kombuis verteer.

Dan, skielik, is die afwesigheid van ruimte ‘n probleem.

Soms, as Frans heeldag klas het, dan kom sy vrou en een of twee van die kinders met die bus in stad toe en eet saam met hom.

3 ¥ koop nog 3 bakkies rys en vir minder as 20 ¥ eet die vier van hulle heerlik.

Die kinders weet natuurlik nie dis vark-hart waaraan hulle so lekker smul nie.

Dan sou Frans na die 30 ¥ skaap-bredie moes ‘upgrade’ en daarvoor het hy nie ruimte nie.

En dis lekker om saam met hulle te eet.

So die inligting hou hy stil.

Vir nou.

Dalk eendag, as hulle weer die voorreg het om onder Afrika se bome te sit, dan sal hy hulle vertel en hoop hulle verwyt hom nie te veel nie.

Partykeer is dit goed om nie te weet nie.

In die oggend as jy jou pad vind werk toe, om nie te weet van die drama en verlies wat die dag inhou nie.

Soos daai dag in 1970, toe sy Pa-hulle, 9 maande voor sy geboorte, Mosselbaai toe gery het.

Salig onbewus dat hulle sou terugkeer na Hartenbos, om ‘n enkel tafeltjie en ‘n paar gebrande boeke op die sypaadjie voor ‘n ashoop, waar hulle huis die oggend was, te kry.

Of die dag toe hyself werk toe is, om teen middagete brandweerman te speel, om die veld wat agter hulle huis brand, met ‘n poeperige tuinslang en twee nat sakke van hulle hout huisie af weg te hou, terwyl die stad se brandweer klaar middagete eet, voor hulle oorweeg om ook hand te kom bysit.

Vanoggend is hy na ‘n eiertjie op ‘n broodjie met sy fiets fort.

Hy moet fiets, want in die aand, as sy klasse afgehandel is, dan is daar nie meer busse wat padvind na hulle ‘village’ nie en om 30 ¥ vir ‘n taxi te betaal is net ‘n bietjie onmoontlik met die ‘genoeg’ wat Frans het om van te lewe.

‘Genoeg’ om fiets te vat.

‘Genoeg’ om vark-hart vir middagete te kan eet.

Maar nie ‘genoeg’ om ‘n kombuis te herstel na ‘n brand die ding tot as gevreet het nie.

Ons verwag mos nie sulke goed nie.

Hel, as ons elke dag moes ingaan met ‘n verwagting van al die vreeslike goed wat kan gebeur, dan sou ons nooit opgestaan het nie.

Dan sou ons in ‘bubble wrap’ met ‘n helmet op die kop in ‘n kamertjie sonder vensters weggekruip het, in die skraal hoop dat ons ramp en teenspoed dalk kan vermy.

Maar ons staan op.

En ons was en trek aan.

En ons doen ons ding.

Op ‘n manier het ons almal hoop.

Al is dit dan net dat ons deur die dag sal kom en weer sal kan gaan slaap.

Frans het veilig by die skool gekom.

Hy’t sy oggendklasse gedoen.

Twaalf-dertig het hy die entjie na die restaurant gestap.

‘n Sitplek gekry by een van die 9 tafels en sy bordjie vark-hart en boontjies met rys bestel.

Vandag kom sy vrou en kinders nie saam eet nie.

Die een wil fiets koop.

Sy’t gespaar.

Vir maande.

En nou’t sy ‘genoeg’ om te koop.

Hy’s bly daaroor.

En trots op haar.

Om te leer om te wag tot ‘n mens ‘genoeg’ het, is ‘n goeie ding.

‘n ‘Skill’ wat die meeste van ons langs die pad van die lewe verloor, want as ons almal gewag het tot ons ‘genoeg’ het, dan sou min van ons kar gehad het en nog minder van ons huis gekoop het.

Frans dink baie aan die ding wat gese is:”as julle dan kos en klere het, dan kan julle dankbaar wees, want dis genoeg.”

Genoeg om van te lewe en Hom te dien.

‘Genoeg’ is ‘n snaakse ding.

Vir min van ons is dit kos & klere.

So entjie in sy ete in, die vark-hart en boontjies nog warm op die bord, hoor hy ‘Pappa’.

Hy kyk op.

Dis sy dogter.

Die een wat fiets wil koop.

Sy hart is skielik bly.

Miskien het sy hom kom wys wat sy gekoop het.

“Ah!  Dis lekker om julle te sien!” se Frans, en hy bedoel dit.  Daar is vir hom niks lekkerder as om saam met sy mense te wees nie.  Hy leef vir die oomblikke saam met hulle. “Het jy toe fiets gekry?” vra Frans, eintlik retories, want hy verwag geen ander rede waarom hulle vanmiddag hier sal aankom nie.

“Nee, Pappa.” se sy en Frans sien daar is ontsteltenis in haar hart.  Miskien was haar spaargeldjies nog nie genieg nie?  “Oh, no!” troos Frans.  “Hoekom nie?”

” Daar het iets gebeur en ek moet jou kom vertel.  Ek moet jou self kom se.”

En dan vertel sy hom van olie op die gas-stoof wat sy daar vergeet het en wat aan die brand geslaan het en ‘n vuur in die kombuis wat hulle gesukkel het om te blus en die plaffon wat met ‘n geweldige slag ingeval het en die buurman wat kom help blus het en die swart wolk wat by die voordeur uitgebondel het en die skade en die gemors.

” Het iemand seergekry?” vra Frans, want huise kan herbou word, maar wonde en lewe is ander goed.

“Nee, Pappa.  Ons is almal ‘fine’. Niemand het seergekry nie.”

Hulle bestel nog 2 bakkies rys.

Hulle eet.

Die atmosfeer gedemp.

Gedagtes wat in elkeen se kop maal.

Frans wat probeer agterkom wat die skade is.

Wat nou gedoen moet word.

Dis skaars ‘n week terug wat sy seun verlore was en hy die bure moes opklop om hom Polisie toe te vat.

Nou dit.

Hy hoop nie die mense raak moeg vir hulle moeilikheid nie.

Want hulle hou van die klein huisie met sy stoepie en vrugte bome.

Maar, okay, as hulle moeg raak en ‘n nuwe blyplek moet gesoek word, dan sal daar ‘n nuwe blyplek gesoek moet word.

Maar dit help nie om die Bobejaan agter die bult te gaan haal nie.

Hier sit sy dogter.

Sy’t kak aangejaag.

Groot genoeg kak met erg genoeg konsekwensies en sy ‘face’ dit, dapper.

“Ek kan nie nou ‘n fiets koop nie, Pappa.  Dit gaan ons baie geld kos om die kombuis reg te maak.” en Frans weet dis ‘n kakspul wat vanaand vir hom by die huis wag.

Maar dit is ‘okay’, want hier sit sy dogter en op ‘n manier weet sy hoe diemlewe aanmekaar sit.

Dis nie asof Frans nog nooit kak aangejaag het nie.

Daar was die Bobcat motorfiets wat hy poender toe gery het teen die Tannie van Graaff Reinette se Cresida.

En die Ligblou Passat Stasiewa wat hy naby die Brass Bell in ‘n splinternuwe Golf in gebots het.

Daar was die ding met sy Hebreeuse toets in sy 2de jaar, waaroor hy nie graag praat nie en die ongeluk in ‘n klein Kalahari Dorpie se sand-hoofstraat, toe hy vir ‘n oomblik gedink het dat hy Oom Cyril se wederhelfte die ewigheid ingestuur het.

Party kak wat mens maak kan mens nie regmaak nie.

Maar die meeste, die wat nie ‘life or limb’ konsekwensies het nie, die deurleef ons, met die hulp van mense wat lief is vir ons.

Die aand sien Fransmdie kombuis.

Die huis ruik na roet.

Swart sit teen die mure.

Hy stap na sy ‘landlord’.

Gaan praat oor die ding.

Vra om verskoning.

Onderneem om, al weet hy nie hoe hy dit gaan regkry nie, want sy dogter se fiets geld sal nie ‘n kwart van die skade dek nie, te betaal vir die regmaak.

Die stoof moet vervang word.

Die ‘extractor’.

Die plafon.

Hy en die Landlord praat met WeChat, want Frans se Chinees is beslis nie op standaard nie en die ‘landlord’ kom uit ‘n era toe Chinese kinders Rusies op skool geleer het.

En WeChat vertaal, al is dit dan soms ‘n bietjie kruppel.

Eers se Frans: 很抱歉 (very sorry).

Die ‘landlord’ se: 不要紧 ( doesn’t matter)

Dan se Frans, want hy ken van die Chinese se ‘doesn’t matter’ en weet dis baie keer ‘n refleks respons: Really!  I am very sorry.  Big accident.  Big damage.

En die ‘landlord’ se: 没关系 … Meiguanxi … it is okay.

En Frans se: We will pay for repair.

En die ‘landlord’ se: 不要着急,人平安就好。Dont try so hard, the man of peace.

En Frans is vir ‘n oomblik stom.

Want die ‘landlord’ het hom nog nooit so geroep nie.

En hy’t nie gedink dis so ooglopend dat hy hier ‘n kak probeer regmaak, met alles wat hy het en nog meer wat hy nie het nie.

En hulle kom ooreen dat die kombuis eers opgeruim moet word.

En die stoof en ‘extractor’ vervang moet word.

En die plafon vervang moet word.

En die volgende dag begin die skoonmaak.

Die 2de maal in 2 maande dat Frans en sy span hierdie kombuis skrop.

Van bo tot onder.

En die ‘landlord’ kom meet.

En Frans weet dit gaan kos.

Baie meer as ‘n fiets se geld.

En hy weet nie waar hy gaan kry om te betaal nie.

Want ruimte is afwesig.

Maar met elke skrop is hy dankbaar.

Sy span is ‘okay’.

Niemand het seergekry nie.

En op ‘n manier, iewers in hulle interaksie, het die ‘landlord’ hom gesien.

Wie hy is.

Al praat hulle met WeChat.

Dat hy ‘the man of peace’ is.

Wat vir Frans kosbaar is.

Want ons kan voornemens he oor hoe ons wil lewe, en ons kan pogings aanwend, maar op die ou einde is die ‘proof of the pudding’ in die eet.

In hoe mense jou beleef.

En baie het Frans al beleef.

En baie het hom al misverstaan.

As dwars.

Of arrogant.

Of venynig en aspris.

Wat nooit Frans se bedoeling is nie.

En dat die ou, vreemd soos vreemd kan wees, hom kan sien – dit verstom Frans.

En ‘humble’ hom.

Want dalk, net dalk, in al die lomp lewe, is daar tog iets van sy Oorsprong wat in sy wese deurskemer.

Iets van goedheid en guns, wat hom ook aangetas het, en al het hy nie werklik ‘n loopbaan nie, en al is hy nie, volgens enige aanvaarde standaarde, suskesvol nie, en al sukkel hy om kop bo water te hou, na twee ‘Christian Ventures’ sy reserwes en kredietwaardigheid opgesuig het, en al het hy nie meer groot verwagtinge van iewers eendag iets ‘betekenisvol’ doen nie, is hy dalk tog, net miskien, meer as ‘n stuk vleis wat stadig vrot om eendag begrawe te word.

Miskien, in hierdie oomblik, is Frans alles wat hy nog ooit wou wees.

‘The man of peace’.

Sonder woorde.

Lank dopgehou.

In hoe hy maak met sy vrou en kinders en vriende, wanneer niemand kyk nie.

Wanneer moegheid ‘n 3-jarige oorval.

En lompheid ‘n 15-jarige laat verdwaal.

En ‘absent mindedness’ ‘n 12-jarige die kombuis laat afbrand.

En die kombuis kom skoon.

En nou is dit die wag.

Vir die stoof om te kom.

En die plafon om geslaan te word.

En die rekening.

En Frans se vir sy dogter hy is trots op haar.

Want sy is dapper.

Sy is verantwoordelik.

Baie meer as wat hy was op 12, toe hy sy kak eers probeer wegsteek en weglieg en weg blameer het, voor dit op die lappe kom en hy nie anders kon as om maar te vat en te hanteer nie.

En as Frans weer in die oggend kruisbene sit onder die neut-boom, dan vra hy sy Oorsprong: maak my vol, vol met liefde en vreugde en vrede, met net dit.

En skelmpies, teen daai muur in sy herhinneringe waar Frans die goed hang wat vir hom groot waarde het, soos ander ouens grade en ‘awards’ ophang in studeerkamers met leerstoele, hang Frans die oomblik en die ‘landlord’ se WeChat woorde.

En hy vra: gee my genoeg, in al my werk en probeer, gee my asseblief genoeg om te lewe en U te dien, om die kombuis ook reg te maak, sonder om haar fietsgeld te vat, en te betaal die wat ek verskuldig is, en vrede te wees, waar my voete ookal loop.

En hy se dankie.

Want elke dag is daar nie ‘n kombuis wat brand nie, en ook nie ‘n seun wat verlore raak nie.

En meeste dae kan ons ‘n eiertjie op ‘n broodjie eet om vanaamd weer ons mense te sien.

Tot daai eendag.

Wanneer die deur toegaan.

Wat vir ons almal kom.

En dan maak die ‘genoeg’ van geld nie meer saak nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s