Frans Reisema en die Verlore Seun

image

Die dag het nie lekker begin nie.

Frans was, soos meeste dae, al vroeg wakker en teen die tyd dat sy vrou hom op die stoep kom kry het, was die koffiepot al koud.

Sy wou mark toe gaan, want die vrieskas en yskas was leeg, maar in hulle middeljarige bestaan is dit nie heeltemal so eenvoudig soos om net te klim en te gaan nie.

Daar is ‘n klein driejarige dogtertjie.

En sy was nog aan die slaap.

En Frans het vermoed, as hulle gaan, sonder haar, en sy word wakker, dan sal die duiwel los wees.

En die 2 tieners en die een amper tiener sal dalk nie opgewasse wees teen haar besetenheid nie.

Dis spesiaal om ‘n kleintjie te he op 41.

Sy het al die wins van ouers wat heelwat kalmer en ‘n bietjie wyser is met ouderdom, maar ook die verlies van ouers wat nog regtig gretig kans sien om die geskree van ‘n driejarige se eise met vreedsaamheid te eet.

En op 44 sien Frans nie meer kans vir nonsens nie.

Hy is deur dit.

Drie keer.

Met min sukses, want die 3 wat eens op ‘n tyd 3 was, is nou 12, 13 en 15 – en as jy enigsins ‘n idee het van ontwikkeling en fases, dan weet jy wanneer die hormone inskop, dan is jy in vir ‘n heruitsending van dieselfde selfsug, net op ‘n groter toestel.

Amper soos nuwerwedste TV wat dink mense is morone.

Of dalk is hulle reg?

Dalk is ons maar so bietjie dommerig.

Afgestem op ‘repeats’ van dieselfde kak, omdat ons nooit klaar agterkom wat ons nodig het om agter te kom nie.

“Maak haar wakker”, se Frans vir sy vrou, want die son skuif hoog en as dit hier in hierdie ge-Ooste  verby 9 uur gaan is dit bliksems warm en die ‘bakkie’ het nie ‘air-con’ nie.  Dis ‘n regte Chinese 3-wiel fiets, met ‘n sitplekkie en ‘n bakkie en ‘pedal-power’.

Groen, maar nie gerieflik nie.

Nie dat Frans te na gekom voel nie.

Hy is te vrede.

Gelukkig met die eenvoudiger manier van lewe wat hom hier in China oorval het.

Dis rustiger.

Beter, in baie opsigte, as die gejaag na wind wat hom vir jare besig gehou het.

Maar as jy wil mark toe gaan, moet jy vroeg oppad wees, anders brand die son jou en is jou paar stukkies hoender pap en jou bossie boontjies verlep, teen die tyd wat jy weer by die huis kom.

Frans se dag was verlep nog voor die son sy ding kon doen.

Die wakker makery het toe nie goed afgegaan nie.

Die skree-ery wat hulle tieners sou moes hanteer was toe maar net vroeer uitgesaai om hulle sin te wees en te hanteer.

En hy en sy vrou en ‘n baie befoeterde dogtertjie is 30 minute later mark toe.

Wat toe geen mark was nie, want die ding loop op die Maan-kalender en net die Maan weet wanneer dit weer mark sal wees.

En Frans-hulle moes huis-waarts keer met ongedane sake, en die hoop dat hierdie Maan-geplaagde Markie die volgende dag sy opwagting sal maak, want ander is dit stad toe mik vir voorrade, wat ‘n missie van sy eie is en die karrige begrotingkie boonop ook nog uitdaag, want die mark se pryse, al is hy met die Maan gepla, is heelwat beter as enige supermark wat die stad kan aanbied.

Frans het al geleer om nie kleinighede, soos afwesige markte en bedonderde 3-jariges, in die pad van sy vreugde te laat staan nie.

Die lewe is te kort daarvoor en daar sal altyd goed wees wat anders loop as wat ‘n mens gehoop of beplan het en as jy jou vreugde afhanklik maak van omstandighede sal dit jou altyd ontduik.

By die huis gekom, maak hulle koffie.

Twee gebakte eiers op ‘n roosterbroodjie.

En dan vat Frans sy rugsak en buskaart en nooi sy vrou om saam met hom op die bus te klim.

Kom ons kyk vandag waar stop die bus.

Laas toe Frans dit voorgestel het was dit heel prettig.

Hulle het ‘n Organiese Vrugetplaas ontdek en ‘n lekker dag gehad.

En op die meriete van die vorige ekspidiesie stem sy vrou in om saam met hom bus te ry.

En hulle ry.

En hulle stop waar die bus nie verder ry nie.

En hulle sien die mooiste plek, wat geen toeris sal sien nie.

Groen lande.

‘n Rivier loop.

Hoe bome.

Boorde vrugte.

Ou Chinese huisies en ou Chinese Oompies wat sin en visvang.

Net so skuins voor 2 is hulle terug by die huis.

Om te hoor hulle oudste is met die bus in die ander rigting.

“Sy ‘gaming headphones’ het opgepak en hy’t ‘computer shop’ gaan soek”, verduidelik die dogter wat nie wou saam busry nie.

Wat goed en wel is.

Frans en sy vrou het die kinders groot gemaak om onafhanklik te wees en hulle ding te doen.

Jy’t nie kinders om afhanklike volwassenes te kweek nie.

“As jy mooi daaroor dink”, het hy op ‘n dag vir sy vrou verduidelik, “hulle is miskien 18 jaar in jou huis en as ons almal genade ontvang dan deel ons 36 jaar met hulle as groot mense.  Ons moet sorg dat hulle mooi groot mense is.  Ons gaan baie langer met hulle opgeskeep sit as grootmense. En die kak wat mens kan aanjaag as groot mens is baie erger as die kak wat ‘n kleuter kan maak.”

Terwyl hy dit gese het, het hy gedink aan sy eie stukkend en hoe verdomp onmoontlik dit is om jou kinders groot te maak, sonder dat jou stukkend hulle ook stukkend maak.

Maar dit het hy nie vir haar gese nie.

Sy vermoede was dat sy dit in elk geval dink.

En as hulle dit gese het, dan sou hulle moes oorgee aan die sinnelossheid.

En daarvoor het nie een van hulle nog ooit kans gesien nie.

So hulle het maar probeer om hulle eie stukkend weg te hou van die kinders en vir die res het hulle gebid.

Gevra dat hulle kinders genade sal ontvang.

Om nie deur hulle vernietig te word nie.

Teen vier uur, toe Frans van ‘n middagslapie opstaan, want dieselfde skree-ende 3-jarige wat vanoggend met die soetste stroop vir hom vertel het hoe lief sy vir hom is, en dat sy ‘n feetjie is wat geluk bring waar sy ookal kom, die hou hom ook in die nag wakker met ‘n klagte, elke nou en dan, net wanneer Frans gereed is om ‘n diep slaap te kap.

En miskien, op 44, het mens maar ‘n middagslapie nodig.

Want jy is nie meer 16 nie.

Alhoewel dit nie sleg sou wees nie.

Frans sou daarvan hou om weer 16 te wees.

Sonder ‘n kommer in die wereld en sonder ‘n besef van al die moeilikheid wat jy jouself op die hals kan haal met jou astrante prontuit lewe.

En met energie wat geen einde het nie.

Maar, okay, die tyd stap aan en almal van ons is net eenkeer 16 en dan neem die lewe sy loop met ons.

Teen 4 uur, is sy seun nog nie terug uit die stad nie.

“Bel hom”, se hy vir sy vrou.

“Hoor waar is hy en hoe laat hy mik om huis toe te kom.”

Sy bel nie.

Stuur ‘n SMS, want dis maar 4 uur en partykeer vergeet kinders van  tyd.

Teen 6 uur is Frans omgekrap.

Die tirade waarmee sy dogtertjie wakker geword het, nou ordentlik gemessel in sy siel.

“Bel nou!”

En sy bel.

“The device you are calling is powered-down, please try again later”, se ‘n Chinees in gebroke Engels, voor hy oorlsaan na sy eie taal.

Ses dertig ry die laaste bus uit hulle dorpie.

Sewe dertig kom die laaste ene hier aan.

“Beijing is groot”, se Frans vir sy vrou.  “Waar de donner gaan soek ons die kind.”

“Gee kans”, se sy.  “Dis nog nie tyd om bekommerd te wees nie.  Daar is nog busse wat kom”.

Sewe dertig is hy by die bus stop.

Baie mense klim af.

Maar nie sy seun nie.

“Ek gaan in ry.  Kyk of ek hom kry.  Dalk het hy die bus gemis.”

“Kyk of jy hom langs die pad sien”, se sy vrou, “dalk stap hy?”

En Frans ry.

Nie met ‘n lugversorgde laat-model motor nie, want hy is in China, waar dit bykans onmoontlik is om ‘n lisensie te kry, en sy geld is in elk geval nie genoeg vir so ‘n luukse nie.

Hy fiets.

En so ver hy fiets, kyk hy.

Is dit sy seun wat daar stap.

In die stad ry hy die bus-stoppe om.

En hy ry in al die sy strate af.

En dan weer die 13 kilometer terug ‘village’ toe, ander oad om, want dalk het die verlore seun besluit om ander pad te stap.

As dit is dat hy net die bus gemis het.

Dit kan wees dat hy iets oorgekom het.

Dat hy homself in ‘n situasie laat beland het, waarin ‘n amper 16-jarige nie moet beland nie.

Dis China.

Hy’t nie sy paspoort by hom nie.

Sy foon is dood.

Of hy genoeg geld by hom het, dit sal niemand weet nie.

En wat is nou in elk geval genoeg geld.

So maal dit in Frans se kop terwyl hy ry en kyk en ry en kyk en soek, in donkerte wat lankal die skemer weggestoot het.

“Laat my hom kry”, bid Frans met elke trap van die pedaal.  “Vat my na hom of hom na my, laat my hom kry!  Waar is jy?” vra Frans en dink aan Dean Koontz se karrakter Odd Thomas met sy ‘Psychic Attraction’ en wens hy’t dit nou gehad om hom magies na sy seun te vat.

“Ek kry hom nerens nie”, verduidelik hy as hy by die huis kom.

“Sy foon is ook nog af”, se sy vrou.

En albei van hulle veg om donker gedagtes ver van hulle hart te hou.

“Wat nou?” vra hulle albei vir die Wind.

“Daar’s nog een pad wat ek kan gaan kyk”, se Frans.  “As hy geld by hom het sal hy ‘n taxi huis toe vat, maar mens weet nooit, dalk het die taxi bestuuurder hom nie verstaan nie?  Of dalk het hy nie genoeg geld oor nie?  Dalk stap hy?  Ek gaan kyk.”

En Frans ry weer.

Fiets.

Magtelose poging.

Van ‘n weerlose Pa.

In ‘n wereld waar verlies jou in ‘n oomblik kan oorval.

“Waar is jy!?” roep Frans se hart, al hoe harder.

“Help!  My!  Wys my!”

En dan ‘ping’ sy foon.

Dis ‘n ‘voice-note’ op ‘WeChat’.

Van Frans se departements-hoof af.

“Frans. Please give me a call.  I got a call from the Lihule Police Station.  They have your son.”

Hy lewe.

Of lewe hy?

Polisie.

In China?

Fokkit.

En voor te veel beelde van verwoesting Frans kan verlam, bel hy.

Dis na 9.

Sy seun het op die verkeerde bus geklim, verduidelik Frans se hoof.

Hy’t in ‘n vergete ‘village’ ge-eindig, waar die bus rus vir die nag.

Hy’t by die enigste winkeltjie ingestap, en toe die ‘villagers’ oor die skok is van ‘n vreemdeling wat laat-aand sy opwagting maak, toe’t hy gevra om ‘n taxi te bel.

Wat hulle nie verstaan het nie.

En toe bel die winkel-eienaar sy dogter, in Beijing, want sy kan bietjie Engels praat.

En hy verduidelik aan haar wat aangaan.

En sy verduidelik vir haar Pa.

En hulle gee hom kos.

En hulle bel die Polisie.

En die Polisie kom haal hom.

En hy verduidelik.

En saam kry hulle Frans se departements-hoof in die hande.

En sy bel hom.

En Frans klop die bure op, want half tien in die aand is daar nie taxi’s in die dorpie nie en Lihule is amper 20 kilometer weg en daar is nie nou tyd om soontoe te fiets nie.

En hulle help.

Die bure.

Sonder om twee keer te dink.

En Frans is verlig om uiteindelik goeie bure te he, mense wat omgee, sonder voorwaardes.

En hulle ry.

En hulle gaan haal.

En Frans omhels sy seun.

Hou hom vas.

Styf vas.

Vir solank as wat sy seun hom toelaat.

En Frans wys paspoorte en bewys Vaderskap en bedank die Polisie en luister na die ernstige woorde van nie jou kinders alleen loslaat in China nie.

Oppad huistoe vertel sy seun.

Die outjie is moeg.

Daar was 2 verkeerde busse en ‘n taxi wat nie die pad kon kry nie.

Daar was mense wat nie ‘n stukkie kon omgee nie.

Maar daar was ook mense wat omgegee het.

En gehelp het.

En Frans prys sy seun vir sy dapperheid.

En vertel hom hoe trots hy op hom is.

En Frans se vrou gee hom kos.

En dan slaap hy.

Vir 14 ure.

Want al hou hy homself dapper, dis ‘n skrikwende ervaring om verlore te raak in ‘n vreemde land.

En laat nag fluister Frans dankbaarheid.

Want sy seun is vir hom gewys.

En daar is bure en vreemdelinge wat help.

En midde in die weerloosheid van ons bestaan, is daar kosbaarheid.

Vreugde oor ‘n verlore seun wat gevind is.

En hoop.

Want as sy verlore seun in hierdie massiewe vreemde land gevind kan word, dan dalk, dalk net is dit moontlik dat sy seun en binne kort sy dogters, ook weer gevind sal kan word.

Want iewers langs die pad raak ons almal ‘verlore’.

Wanneer ons streef om uit die papie te kom en grootmens te word.

En sommige bly vir altyd verlore.

Maar soms word ons gevind.

Selfs in ‘n wereld wie se taal ons nie verstaan nie.

En met die hoop en dankbaarheid raak Frans aan die slaap.

Met drome van elke dag saam wat ‘n geskenk is.

En nagmerries van onverwagse verlies wat dreig om ons enige oomblik te oorval.

Gemeng.

In ‘n bitter ‘cocktail’ wat moeilik is om te drink.

3 responses

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s