Frans Reisema en die Skuld

image

Skuld is ‘n vreeslike ding.

Dit wurg ‘n mens.

Hou jou wakker in die nag.

Kort van asem.

En laat jou maag gaan op ongemaklike tye, met ‘n pyn wat soortgelyk moet wees aan die kontraksies wat ‘n vrou voel as geboorte skenk om die draai is.

Nie op jou maag nie.

So hier rondom en onder jou maag, soos ‘n warm staal pen wat onverwags diep ingesteek word.

Geld skuld.

En ander skuld.

Dis woes hoe baie skuld oor ons lewens hang.

Dis die gedagtes wat vannag vir Frans jaag.

Terwyl sy mense slaap en ‘n trein ver oor die vlakte verbyjaag met ‘n eensame fluit, hyself dubbelgevou op die toilet.

Daai nagemaakte kraam pyne wat afstootlikheid uitdruk.

Frans het skuld.

Geld skuld.

Nie vreeslik baie nie, maar genoeg.

Wat hy gemaak het, terwyl hy gedink het hy doen goed.

Bou iets.

Nie iets wat hom ryk sal maak nie.

Iets wat ‘n verskil sal maak.

Dis deel van Frans se moeilikheid.

Hy’t nog altyd gehoop om iets betekenisvol te doen.

En in al sy pogings tot betekenisvolheid, was hy bietjie dom.

Hy’t te lank aangehou.

Homself doof gehou vir die stem wat altyd binne ons fluister.

As ons maar net die stem sal vertrou, maar daar is altyd ander geraas wat die stil fluister uitdoof.

Plig.

Trots.

In sy naiewe volharding het hy geld spandeer wat hy nie gehad het nie, om iets te bewerkstellig wat hy nie bestem was om te bewerkstellig nie.

Hy stap uit op die stoepie van sy tydelike Chinese huisie.

Soos hy uitgestap het op ‘n lewe wat nie meer vir hom sin gemaak het nie.

‘n Halwe maan skyn deur spierwit wolke.

‘n Half geleefde lewe ver in die verlede, wat nie so lankngelede is nie.

‘n Lafenis.

Die stoepie.

Die huisie.

Die koel aand lug wat aankondig dat somer besig is om aanstaltes te maak en plek te maak vir herfs en winter.

Herfs en Winter kom altyd weer, om alles bietjie stadiger te maak.

En soms is winter die laaste dae.

Frans skep asem na die stank van die beknopte toiletjie met sy klein hoe venstertjie.

Sy maag kramp nogsteeds, maar daar is niks meer om weg te spoel nie.

Die nag-lug verligting ‘n troos en ‘ n donker kleed tegelykertyd.

Dis ons moeilikheid.

Ons wil goed doen, wat ons nie bestem is om te doen nie.

Of dit nou die ‘fancy’ huis en die ingevoerde motor is, waarmee ons mense wil beindruk, wat nie eens ‘n saak met ons het nie, en of dit die misplaaste ‘epic’ goed is wat ons wil doen, wat ons dink betekenis sal he … dis alles ‘n bietjie ‘stupid’.

Die ‘epic’ goed, probeer ons in elk geval doen, diep in ons wese, omdat ons waarde aan onsself wil toeskryf.

Meer waarde.

Want ons dink ons het nie waarde soos ons is nie.

En die huis en die kar en die swembad.

Dit gaan alles oor hopelose pogings om net ‘n bietjie waardevol te voel.

‘Dis ‘n bietjie sienies’, berispe Frans homself.

Maar hy kry nie die gedagtes gekeer nie.

Omdat ons dink ons is te min, en op ‘n manier, met ‘iets epic’ wil probeer om aan onsself waarde toe te voeg.

Soos tamaties wat vol grond van die land af kom en vir ‘n appel en ‘n ui verkoop, maar as dit pap gemaal is en in ‘n botteltjie gepomp is, dan verkoop dit vir ‘n ‘ketchup’-fortuin.

Maar ons is nie tamaties nie.

En ons kan nie waarde tot onsself toevoeg met allerhande goed wat ons besit of  doen nie.

‘Dit het jy bietjie laat besef, ne!’, se hy vir homself en vir die halwe maan en die halwe lewe.

‘Dalk’, dink hy vanaand op sy geleende sement stoepie, ‘is meeste van ons pogings, bloot pogings om onsself meer te probeer maak.’

Ons kinders.

Ons werk.

Die goed waaraan ons ons tyd wy.

‘Dalk is dit net ek?’

‘Wat in my stukkend so besimpeld is?’

Hoewel Frans sy deel geld skuld het, en nog ‘n groter deel geld skuld het wat aan hom verskuldig is, is dit nie geld skuld wat Frans vanaand uit die huis uit dryf nie.

Dis hart skuld.

Wat erger is.

Want met geld skuld is daar ‘n rekening en ‘n rekord en jy weet wat jy geleen het en wat jy uitgeleen het en wat jy moet betaal en wat aan jou betaal moet word en al gaan dit hoe stadig, jy kan stukkie vir stukkie betaal tot die rekeninge balanseer en jy kan aanhou herhinner en eis en vra, totdat aan jou betaal is wat joune is.

En jy kan afskryf, of as jy gelukkig is kan jou skuldmafgeskryf word.

En dan is daar ‘n pappiertjie wat se die rekening is betaal of die skuld is afgeskryf.

Hart skuld is ‘n ander wetter.

Die rekords word gehou in mense se harte, waar belewenisse en herhinneringe deurmekaar is.

En die rente is saamgestel.

Wat jy tien jaar gelede gedoen het, dit maal en vrot in mense se wesens, en dit word ‘n donker gif wat die lewe stadig uitsuig.

Baie keer weet jy nie eens van die skuld nie.

Van dit wat mense op jou rekening geskryf het en teen jou hou vir ‘n leeftyd nie.

En dan spoel dit oor.

En die suur brand jou skielik uit die hoek wat jy nooit gedink het dit sal kom nie.

‘Die maklikste is seker om niemand te bevriend nie en nooit iets te doen nie’, se Frans vir die wind.

‘Dan sal jy niemand te na kom nie?’ vra hy hoopvol, vir homself en die wind en God, sommer so op een slag.

Maar hy weet dis nie waar nie.

Dis nie maklik nie.

Om niemand te bevriend nie en nooit iets te doen nie, is om dood te wees.

Dis om hierdie aarde ‘n ruimtelose graf te laat wees.

‘Fokkit!’, swets Frans.

Vir homself en die vernietiging van dit alles.

Frans is ‘n goeie ou.

Met goeie bedoelinge.

Hy sal dit nie self se nie.

As jy hom vra, sal hy vir jou mooi vertel dat ‘goed-wees’ ‘n illusie is.

‘Goed en sleg is ons eie konkoksie’, sal hy vir jou se.  ‘Dis opgemaak deur Puriteine wat met die beste moontlike intensies gedink het die 10 gebooie en Golgota het te doen met moraliteit en ‘n afgod wat te vrede gestel moet word.  Dis religieuse stront.  Daar is lewe en dood.  Liefde en haat.  Betekenis en sinneloosheid.  Daar is hoop en wanhoop.  Vrees en vreesloosheid.  Maar goed en sleg bestaan nie.  Vernietiging!   Dit bestaan.  En ons almal is vir die meeste agente daarvan.’

Miskien sal hy dit nie eens meer vir jou probeer verduidelik nie, moeg verduidelik aan die rand-idees waarmee hy vir homself sin probeer maak van ‘n lewe wat morsig en ongemaklik is.

As die son versigtig sy opwagting maak tussen die groen blare van ‘n hoe ou boom met wye dik takke, kry Frans se vrou hom nogsteeds op die stoepie.

Die kinders slaap nog.

Sy’t vars koffie gemaak.

Hy’s eers onbewus van haar.

Sy bene gekruis.

Sy kikoi styf om hom gevou.

Sy asem stadig.

Sy gedagtes gerig op ‘n bron Wie meer is as ons almal en al ons moeilikheid wat ons met soveel gerief vir onsself op ‘n hopie skraap.

Om hom is daar baie mense wat van God gedrogte maak.

En ander wat nie kan glo dat daar iets meer is as rigtinglose ewolusie in ‘n sametrekkende of verbredende uitspansel in nie.

Vir Frans is daar ‘n Oorsprong van alles.

‘n Wese uit Wie alle ‘wees’ kom en is.

Ook syne.

En sy bure sin, hier ver in ‘n land wat min weet van Jood of Christen.

Vir Frans is hierdie Oorsprong die Oorsprong sonder einde.

Die Bron.

Van almal.

Wie met woorde ‘n werklikheid tot wese geroep het en uit die werklikheid se grond liggame gevorm het, voordat Wind en grond byeen gebring is in die mooiste uniekste nuwigheid wat nog ooit tot stand gekom het.

‘Grond en Wind en Water, saamgevleg, in ons, versigtig en met sorg, sonder voorbehoud, om te wees wat nog nooit was nie.’

Dis die geloof wat Frans laat vorentoe beur, deur die skuld.

Net dit.

Die oortuiging dat hy is, omdat ons Oorsprong hom wou he.

Ons almal.

Nou in hierdie tyd.

En elke tyd wat was en sal wees.

Sy vrou sit die Bodum met sterk swart koffie op die trappies neer, en langs die silwer en glas pot, twee wit koppies met fyn geel blaartjies op, wat eintlik gemaak is vir groen tee, maar hier in die huisie gevind is en nou draers van iets anders is.

Sy glimlag vir haar man.

Sy weet wat jaag hom.

Sy ken sy hart wat klein is.

‘n Boodskap van ver, wat hom herhinner dat in al sy goeie bedoelinge, hy steeds in sy spoor die gif van dood gelos het.

Verwelkte blomme.

En dooie bome.

Want skuld sit in mense se harte en word teen jou gehou, al probeer jy hoe om mooi te trap en goed te doen.

‘Dis okay, my man.’ se sy en vryf sy rug.

‘Ons kan net ons beste doen met wat ons in ons hande het.’

‘En as daar skuld is, dan kan ons vra om verskoon te word, want skuld sal ons maak in ‘n wereld waar niks sonder prys is nie.’

Haar stem is musiek.

En Frans wil dit glo.

Hy glo.

In ‘n Oorsprong wat nie met skuld funksioneer nie.

Wie anders is as die god wat dom fokkers in die Kerke en Tempels en Moskees en Sinagoges propageer.

‘n Oorsprong Wie, soos iemand eendag baie lank gelede geskryf het, skuld verwyder.

So ver soos die Ooste van die Weste af is.

Om nooit weer bymekaar te kom nie.

En dit sink in die diepste see, waar geen vismof lewe of skip of lyn of net dit weer sal vang nie.

Hy glo.

In ‘n lewe wat gedeel word.

Met die Een uit Wie alles is.

Nie die goedkoop jesus wat in Kerke verkoop word, soos ‘n Suid Amerikaanse sokker speler wat uitstyg bo sy omstandighede na roem en faam nie.

Hy glo.

In die Christus, Wie geword het soos die verstommende skepsel, Wie met laaste asem verklaar het dat dit volledig is, in tyd, soos dit nog altyd buite tyd was.

In toegang, vry en oop.

En sonder skuld.

Sonder.

Skuld.

En voor hy die warm koffie vat, wat sy vrou met liefde vir hom skink, sug hy ‘n laaste sug, van dankbaarheid.

‘Maak my vol.’

‘Met liefde en vreugde en vrede.’

‘Met krag en liefde en self-beheersing.’

‘Met geduld en vriendelikheid en goedhartigheid.’

‘Met getrouheid en nederigheid.’

‘Sodat ek kan wees, alles wat ek gemaak is om te wees, in ‘n stukkende plek, wat nie ken van skuldloosheid nie.’

En dan drink hulle twee saam koffie.

En die krampe op Frans se maag verdwyn, soos mis voor die son.

‘Dis okay.’ se sy weer.

‘Ons kan net ons beste doen.  In liefde.  En die wat ons nie kan sien vir wie ons is nie … dis hulle moeilikheid.  En waar ons tone seer getrap het, of harte gebreek het, omdat ons almal lomp is, kan ons maar vra om verskoon te word.  Maar ons kan dit nie eis nie.  En as ons verskoon word, dan kan ons dankbaar wees.  En as ons nie verskoon word nie, dan kan ons geduldig wees.  En ons kan altyd verskoon.  En liefhe.  Omdat ons weet uit Wie ons is.  En weet dis alles net geskenk.  Gegee.  Vir elke een wat iewers eenmaal in ‘n jaar ‘n verjaarsdag vier, of dit nou is in die Spur, met sparkles of in die grond voor ‘n make-shift sink huisie met niks meer as goeie wense en teleurgestelde hoop nie.’

‘Dit is so’, skud Frans sy kop instemmend, bewus dat skuld deel is van die stukkend van die wereld waarin ons leef.

Bewus dat hy sal betaal, al word die skuld aan hom nie betaal nie, want om af te skryf is beter as om angstig skuldig te hou.

Soos afgeskryf is.

‘Ek is dankbaar, my love.  Vir wat ons is.  En dat ons niks skuld daarvoor nie.’

‘Ek is dankbaar.’

‘Vir vrede en liefde wat ons lewens raam.’

2 responses

    • Ah, Melvin, may our physical reality come into synergy with our spiritual & emotional reality. What we can do though, is make sure no one is indebted to us, and with my anniversary, that is true. No one owes me anything.🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s