Frans Reisema en Siao Tsing Ling

image

Dis in ‘n baie ver plek dat Frans hom bevind.

Ver van die land van sy geboorte.

Ver van die drome van sy kinder hart.

Frans is gewoond daaraan om ‘ver’ te wees.

Miskien was hy nog altyd ‘ver’, dat sy geografie nou maar net eers uiteindelik uitdrukking gee aan die werklikheid waarmee hy nog altyd gelewe het.

Of dalk het sy geografie sy wese ingehaal?

‘Ver’ in ‘n droom-wereld, ‘n alternatiewe werklikheid, wat net soms vir kort oomblikke raakgesien word, soos toe sy oudste broer vir hom kom kuier het in die Kalahari, met die spierwit Bryanston BMW gery het tot waar die teerpad ophou, sodat Frans hom en sy fyn gekleede vroutjie in die stowwerige Venture kon laai en met die sandpad langs tot voor die asbes huisie met sy groen dak kon bring, in die skaduwee van die massiewe ou Kameeldoring boom.

Dis moeite om in iemamd anders se wereld in te kyk, te sien en te verstaan.

Waarskynlik die dat ons dit so min doen.

Daai was ‘n spesiale dag vir Frans.

‘n Dag waarop iemand vir wie hy omgee die moeite gedoen het om iets te kom sien van wie hy is en waar hy homself bevind.

Natuurlik, in ‘n paar dae kan mens nie alles sien nie.

Mens kan nooit inkyk op iemand se wereld en alles sien nie, maar die kyk en stukkie sien, dit was vir Frans betekenisvol, is vir hom betekenisvol, nou nog.

“Miskien is daar liefde hierin”, dink Frans vanmore, terwyl hy en Siao Tsing Ling op die stoep sit en koffie drink.

Wel, Frans drink die koffie, Siao Tsing Ling sit maar daar en staar.  Frans weet ook nie of Tsing Ling iets snap van wat hy alles so hardop dink nie, maar dit pla Frans glad nie, want woorde, as hulle gese is, is werkliker as wanneer hulle net dawer hier in jou binneste.

“Ver, my ou mater”, se Frans dit hardop.  “Ver van almal, dis waar my gedagtes nog altyd was.  Jy kan dit sien in wat ek doen.  Ek kan dit sien in mense se verdwaasdheid oor wat ek kies.  My Pa het altyd gese ek tree op asof ek aan die agter speen gesuig het.  Dis hoe hy sy verdwaasdheid in woorde gesit het, maar hy’t nie verstaan nie.  Dit was nooit dat ek gevoel het ek het te min gekry nie.  Dis iets anders.  Gedagtes wat jy dalk nie eens sal snap nie.”

Tsing Ling het eendag net by Frans hulle se huisie, hier in die Chinese platteland, opgedaag.

Sy volle name, so het Frans later uitgevind is ‘Siao Tsing Ling’.

In China se jy eers iemand se van en dan sy naam.

‘Siao’ is sy van.

‘Tsing Ling’ is sy naam.

As jy jou hier aan iemand voorstel, dan is jy Reisema Frans.  Van eerste, dan naam, anders noem hulle jou Reisema vir die res van jou bestaan, wat sekerlik nie die einde van die wereld sal wees nie, maar Frans het ‘n kleintjie dood aan ouens wat jou op jou van noem, sedert Mnr Kelbrick sy L.O.-onderwyser was by Sunridge Laerskool en altyd met fenyn jou op jou van geroep het voordat hy jou bespotlik gemaak het en soos ‘n kommin weermag koperaal vertel het hoe pateties jy eintlik is.

“Dis, okay”, verduidelik Frans vir Tsing Ling.  “Soos ons kleintjie vir wie jy so baie lief is, altyd se, dis okay.  Mnr Kelbrick het waarskynlik sy eie bagasie gehad wat van hom gemaak het wat hy was.  Elkeen van ons dra maar so in die stilligheid aan die goed wat in ons tassies gelaai word van die dag dat ons hier aankom.  Dis net ‘n geskenk as jy dit iewers langs die pad regkry om die tassies neer te sit en aan te stap asof daai tassies nooit joune was nie.  Dit sit nie sommer in ons broek nie.”

Hierdie wereld is anders om, as die een waarvan Frans kom.

Verkeerd om.

Miskien is dit die dat Frans so maklik hier regkom en so baie hier leer.

Omdat hy ook anders om is.

“Ouens wat gewoond is aan duur Conjac suig uit fyn glase in ‘grend’-restaurante ry nie sommer ‘n 1000 kilometer na nerens heen om in Frans se wereld in te kom nie.”

“Ons doen dit nie, Tsing Ling.  Ons stel net nie belang nie.  Ons soort is gemaklik om mense te ‘judge’ uit die gerief van ons eie wereld en hulle te laai in die kratte wat ons lankmgelede vir onsself gebou het.  Dan voel ons veilig.  Miskien is julle anders?  Ooper?  Miskien ‘worry’ julle nie eens oor sulke goed nie?”

Frans kan sien Tsing Ling het nie ‘n idee waarvan hy praat nie.

“Dis okay.”

“Noem my maar net Frans en ek sal jou Tsing Ling noem. Dis hoe vriende met mekaar maak.”

Tsing Ling is ‘n stil een.

‘n Goeie Chinees.

Jaap de Bruyn het Frans destyds die ding geleer.

Hy’t gese:”Daar is orals goed en sleg.  Wys my 10 dokters en ek sal jou 5 goeies en 5 slegtes wys.  Kom op ‘n plek met 100 mense en daar sal ‘n knippie sout van die aarde wees, en ‘n hand vol vrot en die meeste ander is ‘broth’, hulle probeer maar net oorleef, met geen goed of sleg nie, wat ook maar sleg is op sy eie manier.”

Hier in China het Frans dit weer gesien.

Goed en sleg ken nie ras of geslag nie.

Dit ken nie seksuele orientasie of ouderdom nie.

Goed en sleg ken ook nie vroomheid of atieisme nie.

Party is goed.

Party is ordentlik sleg.

Die meeste sukkel om kop bo water te hou en die gewig van hulle tassies te hanteer.

En niemand probeer regtig nie.

Ons is dit maar net, asof ‘n dobbel steen iewers in die kosmos gerol het en dit nou maar so uitgewerk het dat sommige ‘n twee gekry het en ander ‘n dubbel gerol het.

“Daar is darem balans ook, ou Tsing Ling”, verduidelik Frans vir sy luisteraar.  “Party rol ‘n dubbel met goedheid, maar gewoonlik mis hulle die dubbel met gerief en materiele voorspoed.  Ander rol ‘n dubbel en nog ‘n dubbel met geld, maar dan val die dobbelsteen van die tafel af as dit by gesondheid kom of huwelik en kinders en regtig goeie goed doen.”

Siao Tsing Ling luister aandagtig, of so lyk dit.

Hy’s ‘n goeie luisteraar.

Geduldig.

Op ‘n manier iets wat elkeen van ons nodig het.

Nou’s Frans en Tsing Ling vriende, maar die dag toe Tsing Ling sommer netso by hulle huis opgedaag het, was Frans nie vreeslik beindruk nie.

Wie doen dit?

Daag sommer net op en dring aan op vriendskap?

Tsing Ling is ‘n vasberade een.

Want Frans het nie mooi verstaan wat aangaan nie.

Hy’s maar stomp as dit kom by die kosmiese in-een-loop van gebeure – sien eers die sin en betekenis agterna, as hy terug kyk, en ten spyte van sy pogings om alles baie vernuftig op te fok, hoe dit uitwerk soos dit moontlik aanmekaar gesit is om te wees.

Net na die Reisemas hulle pad na die klein Chinese huisie gevind het, het sy kinders dag vir dag daar opgedaag met diere.

Daar het ‘n ou voel hokkie in een van die bome gehang en Frans se oudste dogter het gese die hokkie kort ‘n voeltjie.

Die ander kinders het saam gestem en Frans is nogeens herhinner aan hoeveel sy mense moes offer in die saamgesleep word, weg van alles wat bekend en kosbaar is, na hierdie vreemde plek.

Voor hierdie reis was daar altyd diere in die Reisemas se lewe.

Op ‘n stadium 4 perde, 5 boerbokke, 4 honde, 3 katte, 24 hoenders, ‘n tarentaal, ‘n kraai, ‘n meerkat, 17 pragtige wit hasies, ‘n verskeidenheid marmotte en ‘n budgie.

O, ja, daar was visse ook.

Sulke mooi rooi en blou ‘siamese fighters’ wat hulle sterte vreeslik uitpof as hulle naby mekaar kom.

Soos party mense.

Beautiful op hulle eie, maar glad nie goed bymekaar nie.

Sowat 70 diere.

Vir ‘n kort rukkie ‘n slang ook, op aandrang van hulle seun.

Dit wil gedoen wees.

En toe kom die reis.

En die Reisemas leef in ‘n woonstelletjie met skaars genoeg plek vir die mense in hulle bende.

En daar is nie geld vir kat kos of selfs vis kos nie.

En die kinders bespring vreemdelinge in die park, as daar ‘n hondjie of iets byderhand is, asof dit die wonderlikste ding in die wereld is.

En Frans se hart huil.

Want geen Pa wil sy kinders te na kom nie.

En toe sy oudste dogter voeltjie se, en die ander stem saam, toe stem Frans maar in, want eindelik is daar bietjie asem skep met ‘n huisie en ‘n werfie.

Die voeltjie het nooit gekom nie.

‘Bhuding”, die marmot, was daar vir ‘n paar weke.

En twee hamsters.

En ‘n pragtige wit hasie.

En elke keer as so ‘n week of ‘n paar dae verby is, dan staan daar nog ‘n growwe hout kruisie in hulle groente tuintjie, tussen boontjie ranke en mielies, want die goed is pieperig en hulle kleinste een is nog bietjie lomp as dit by diere kom.

Sy’s net 3.

Sy weet nie van sag vat nie, en ook nie van iets wat rus nodig het nie.

Na ‘n paar weke het die kinders moed opgegee.

‘Bad Karma’ of iets.

“Hoekom gaan al ons diertjies dood, Pappa?”, het die jongste een op ‘n aand in trane gevra.

En Frans kon nie antwoord nie.

Hy kon net dink aan die ding wat ‘n dominee uit sy tuisdorp op Facebook ge-‘post’ het.

“Verlustig jou in Hom en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart”, nogal met ‘n teks-verwysingtjie daarby, het die eerwaarde dit geplaas, met ‘n foto van ‘n blink nuwe Toyota Fortuner.

En Frans het gewonder, “wat de fok!?”

Eintlik is dit wat hy saggies uitgeroep het, toe die ding op sy tabbeletjie se skerm op spring.

En sy vrou het hom gevra, “wat nou?”, want sy weet haar Frans reserveer sulke taal vir baie spesiale geleenthede en vir, soos hy dit noem, ‘vroom godsdienstiges wat van God ‘n hoer maak’.

En dis ook wat hy vir haar verduidelik het: “die dom donner het nie ‘n ‘cooking clue’ nie.  Hy dink God is ‘n vet ou man wat jags is.  Wat sy eie ego gestreel wil he en sal betaal om dit gedoen te kry.”

In elk geval, Frans het dit daar gelos, want partykeer is mens so toegebou in jou eie kak dat jy nie oor die lae hout rantjie kan sien nie en watter hoog geleerde man van die kleed sal hom nou in elkngeval aan Frans steur.

Maar die aand toe sy kleintjie in trane is oor die soveelste hamstertjie wat die tydelike met die ewige verwissel het, en sy vir hom se: “Pappa ek soek net ‘n klein diertjie om lief te he.  Ek wil hom kan vashou en hy moet met my speel.  Dis al wat ek wil he.”

Daai aand kon Frans nie help om weer aan die fokker te dink nie.

“Infame kak”, het hy daar op die bed by sy dogtertjie gedink.  Hy’t dit nie gese nie, net gedink, want die goedtertjies is soos sponse en as sy dalk more vir sy vrou se ‘infame kak’, wanneer dit badtyd is, dan sal sy weet waar hulle poppertjie dit geleer het, en Frans het niemlus vir daai moeilikheid nie.

“Maar dit is infame kak.  Asof die Oorsprong van alles hom enigsins steur aan jou verlustiging wanneer dit kom by wat afgemeet word vir elkeen van ons.  Dan sou my kleintjie se hamstertjie mos lewe en sy kan met hom speel, want ‘n hamstertjie is nie ‘n verdomde blink staal plaas vervanger vir ‘n te klein tottertjie nie, en as iemand haar verlustig, dan is dit hierdie onskuldige kind. En wat van die ander kinders met siektes en kak ouers, wat net behep is met fokken blink karre en nie ‘n benul het van liefhe sonder voorwaardes of omgee en versorg nie, wat vroetel waar geen pappa vroetel nie en siele vermoor?  Waar is die fokken hoer-god van jou dan?”, maal dit in Frans terwyl hy sy dogtertjie vashou en haar troos en vir haar se, “ek weet nie poppertjie, ek weet nie hoekom nie, ek is jammer.”

En toe daag Siao Tsing Ling op hulle stoep op.

Sit net daar by die voordeur.

Meeu nie, spin nie, pla nie – sit net, en kyk.

En as hulle poppertjie by die deur uitkom dan staan Tsing Ling op en stap waar sy stap, tot sy hom raaksien en optel en vashou en se, “kyk, Pappa!  ‘n Katjie!  Hy’t vir my kom kuier.”

En Frans gooi wal, want hoe lank hulle in die huisie gaan bly weet hy nie en hulle kan tog nie met ‘n kat opgeskeep sit in ‘n vreemde land nie, en wat as die ding ook vrek?

En poppertjie voer Tsing Ling.

En Frans verduidelik.

En hulle seun sit met Tsing Ling op sy skoot voor die rekenaar.

En een van die ouer dogters speel met hom met ‘n toutjie.

En Frans keer, hou Tsing Ling buite.  Se, “hy is net ‘n maatjie wat kom kuier, vanaand gaan hy huistoe.  Miskien kom hy more weer kuier.”

En die kinders stap al die bure se huise om en vra wie se kat dit is.

En elke oggend is Tsing Ling daar.

Tot een oggend vroeg, terwyl almal nog slaap, en Frans, soos baie keer, eerste op is en met sy koffie in die hand daar op die trappies langs Tsing Ling gaan sit en begin praat en alles mooi vir hom verduidelik.

En toe spring die kat op sy skoot, en kyk hom diep in sy oe, en met telepatie se hy vir Frans in sy eenvoudigste Chinees: “You no own me.  I free.  I here, becuase I choose.  I friend of poppertjie.  She now need friend.  I come.  You need friend.  Your son need friend.  I good cat.  I no want anything.  I come give.  My time.  My here be.  I play poppertjie and the long girls.  I sleep the big boy lap.  It good.  You no owe anything.  Time come to leave.  I leave.  You leave, I have other place to be.  Siao Tsing Ling (little elf) here your heart call.  No send away.  Doesn’t matter.”

En terwyl Siao Tsing Ling verduidelik, loop trane oor Frans se wange, want sy Oorsprong is nie ‘n fokken hoer-god wat hande vuil maak met kommin blink tottertjie kompensators nie.  Sy Oorsprong is en sien en deel.  Elke stukkie van elke lewe.  Tot ‘n klein poppertjie en ‘n ongemaklike amper man se hart.

En Frans sit nog ‘n tassie neer.

Want mense kan jou belieg en in-loop.

Vriende kan jou verraai.

Wie jy is kan ‘ver’ wees en onmoontlik vir ander om te snap.

Maar ons Oorsprong is.

En ons kom niks kort nie.

Nie omdat ons gehoer en geruil handel het nie, omdat ons Oorsprong is.

En ‘n kat-vriend wat luister is soms meer werd as tien blink Fortuners.

“Baie keer”, verduidelik Frans nou vir Tsing Ling, “loop die water tot by die see.  In my lewe, sonder dat ek dit geskep het met ‘n emmer of opgegaar het in ‘n dam.”

Hy sien Tsing Ling snap nie.

“Ek bedoel, die meeste goeie goed in my lewe, was wat ander ‘toeval’ sal noem.  Poppertjie se koms op ons hoe ouderdom.  Die 3 ander uit ‘n ‘gun’ wat blanks skiet.  My maatjie wat 20 jaar al saam met my op reis is.  Hier wees nou.  Toevallig, alles van dit, maar so geweldig presies toevallig dat ek weet dis nie verdomde toeval nie.  Dis geskenk.  Sommer so, sonder dat ek ‘n goeie of slegte fokker is.  Ek is net ‘n gewone fokker, wat graag saam met my mense wil wees, wat in vrede my brood wil eet, en dalk, miskien, op een of ander manier ‘n dom fokker of twee wil help om te sien hy is nie so dom nie.”

Siao Tsing Ling meauw.

Hard.

“Okay.  Sorry.  Ek sal nie praat nie.” se Frans en die kat spin.

En poppertjie kom uit.

“More pappa.  Tsao shang ha-oe, Siao Tsing Ling.”

En Frans se hart lag.

Want daar is f …. niks om oor wakker te le in die nag nie.

Want ons Oorsprong se geskenk is vol-ledig.

En goedheid en guns volg elkeen van ons, al die dae van ons lewe, al is ons fokkers.

One response

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s