Frans Reisema se Nietigheid

image

Daar was ‘n tyd toe Frans gedink het daar moet balans in sy lewe wees.

Dat hy vernuftig moet sorg dat hy mooi oplet om genoeg tyd aan sy gesin, sy vrou en kinders te spandeer, terwyl hy besig is om te werk aan groter goed wat ‘n verskil sal maak, terwyl hy ‘n rykdom versamel wat na hom en hulle sal kyk in die dae van oud wees en siek wees en nie meer kan nie.

Deesdae gee Frans nie meer ‘n vlieende fok om vir balans nie.

Miskien is dit dat hy oud geword het, alhoewel sy vrou hom baie mooi sal vertel dat 44 nog lank nie oud is nie?

Miskien is dit dat hy oud gebore is en uiteindelik die moed het om ‘caution to the wind’ te gooi en net verdomp te lewe, sonder om hom te steur aan verwagtinge en wat sogenaamd reg en verantwoordelik is.

Vandag is Saterdag in sy lewe.

Vroeg oggend het hy en sy oudste dogter in die skaduwee van hoe bome gestap.

Later het hy en sy beste maat, die vrou wat hom heelgemaak het en elke dag heler maak en nie net toelaat nie, maar anmoedig om te wees en te leef in ritme met sy hart, koffie gedri k op die stoepie van hulle Chinese huisie.

Stadig.

Rustig.

Sonder dringendheid.

En toe het hy en sy jongste dogtertjie met haar diertjies gespeel.

Twee kameelperde, ‘n Olifant en ‘n Leeu.

Lang gesprekke, deur diere, oor lewe en betekenis, tussen hom en sy 3-jarige dogtertjie.

Hy hoop hy kan ‘n oomblik saam met sy seun ook he.

En sy ander dogter.

En hulle maat wie saam met hulle verdwaal in hierdie vreemde land en lewe.

Terwyl Oom Olifant die katjie uitvra oor iets onbenulligs hoor Frans stemme in die gangetjie wat lei na die smal straatjie buite hulle werfie.

Hy staan op om te kyk wie dit is.

Hulle praat Chinees, soos almal hier.

Dis die buur Oom.

Kaalbolyf.

Met wit sokkies en formele swart skoene by ‘n wit lap kort broek.

En saam met die Oom twee polisie manne.

Frans se nek hare reis.

Hulle is in ‘n baie vreemde land en hier soek jy nie kak met die polisie nie.

Hy nooi hulle in.

Roep die seun wat van ver af die vorige aand by hulle aangekom het nader.

Die seun was sy student en het sy gesin se vriend geword.

Soveel-so dat hy kans gesien het om 24 ure van die verre noorde van China die trein te vat om nog 2 ure op die moltrein deur te bring om ‘n laaste 30 minute op ‘n bus te wees, sodat hy ‘n bietjie tyd by hulle kan spandeer.

Frans is verlig dat die seu  juis vandag hier is, want as die polisie by jou huis aankom, dan moet jy kan verstaan wat hulle wil he.

Die een polisieman met die swaarste skouers verduidelik ywerig in Chinees en die seun vertaal groot oog.

Hulle soek paspoorte.

Frans verduidelik die goed is by die regering vir visas en die seun vertaal.

Die polisie vra bewys.

Frans gaan haal 7 faal geel papiere.

Die polise neem fotos.

En dan begin hulle ernstig praat.

En Frans lusiter, terwyl sy kinders op ‘n afstand maal en die tydige kuiergas verduidelik so goed hy kan.

Dis ‘Officer Chang’.

Hy is die hoof van die dorpie se polisie.

Hy wil seker maak alles is in orde.

Hy waarsku dat ons versigtig moet wees.

En nie te haastig die Chinese kos koet eet nie, want ‘foreigners’ se mage is nie so taai nie en ons kan dalk duisend tree optel.

Hy se ons koet kyk vir die karre.

En as ons enige moeilikheid het moet ons nie huiwer om hom te kontak nie.

Hy hoop ons is gelukkig in sy dorp.

En dat daar nie moeilikheid sal wees nie.

Dis hoe die seun vertaal, terwyl Frans by homself dink hy is baie bly hy het die seun gedruk met die Engels leerdery, anders het hulle vandag in die knyp gewees, en hy is dubbel bly die seun het kom kuier, anders was hulle in die duister.

Die polisie hoof vat Frans se foon nommer.

Gee sy eie vir Frans.

Se hy sal weet as ‘n foreigner bel dat dit ons is, en dadelik kom, want hier in hierdie dorpie is daar nie ander ‘waaighoeren’ nie, was nog nooit nie en hy wil nie he daar moet moeilikheid op hierdie slag wees nie.

Dan groet hy en Frans keer, effe ge-‘rattle’, terug na Oom Olifant se streke.

Hulle eet middagete.

Frans lees ‘n bietjie terwyl ander slaap.

Hy gesels met wie ookal pad vind na hulle stoepie.

Hang ‘n bietjie wasgoed op.

En as sy jongste ontwaak speel hy met haar bal in die ‘family size’ opblaas swembad wat hulle ‘n paar weke geled iewers langs die pad gekoop het om verligting te bring in die bedompuge hitte van hierdie vreemde wereld.

Die Kalahari se hitte was anders.

‘n Droee hitte.

Hier tap die sweet jou af asof jy nou net gestort het as jy waag om iets meer te doen as baie stadig en rustig die blaaie van jou boek om te blaai.

Hulle is skaars in die swembad en daar is weer stemme op ‘n onrustige dag wat veronderstel was om rustig te wees.

Nog polisie.

Die keer 3 ander.

En die seun wat so ver gekom het om te kuier is onder tussen fort.

Kaal bolyf begroet Frans die nuwe span.

Salig bewus dat hy en sy spannetjie vreemdelinge nou onbetwisbaar op die radar van die plaaslike polisie is.

So in die soek na hemp en handdoek nooi hy die nuwe blou span binne en onder die oog van Mao maak hy uit dat hulle fotos soek vir hulle leers.

Een van elkeen van hulle.

Die het Frans-hulle en gee versigtig aan.

Met die hulp van Google Translate en die bietjie gebroke Chinees wat Frans al opgetel het in die rukkie wat hulle hier is doen hy na-vraag of daar moeilijheid is, maar die ofisiere verseker hom daar is niks, hulle maak net seker die gaste van China is mooi versorg in die klein dorpie.

Gaste.

Van China.

Dis wie hulle is.

Nooit seker van enige iets nie.

Uitgelewer aan die goedheid en guns van hulle gasheer, of die afwesigheid daarvan as die wind sou draai.

Miskien is dit wie ons altyd is, dink Frans later die middag terwyl hy ‘n vuurtjie maak.

Nie uitgelewer nie, maar gaste, of ons nou in ‘n land is wat ons ons eie sou wou noem, of iewers verdwaal, tussen niks en nerens, oppad, sonder bestemming?

Miskien is ons nerens tuis nie?

Sonder betekenis, behalwe in ons nietigheid?

In Oom Olifant wees saam met 3-jarige dogtertjies en Chinese seuns ontvang wat moeite doen om ver te kom?

In liefhe, wie ookal oor ons pad kom, wat die omstandighede ookal mag wees, sonder o  te ‘worry’ oor die implikasie of konsekwensie of effek.

Frans geniet dit om Oom Olifant wees.

En bal speel in die swembad.

En stap onder hoe bome saam met sy ‘beautiful’ dogter.

Hy geniet die aansteek van ‘n vuur.

En koffie drink op die stoep.

Hy vind nie meer betekenis in veel meer as dit nie.

Bewus dat gas wees in ‘n wereld wat selde ope arms het, maklik kan ophou.

Ten minste, op sy oudag, as ‘n oudag ooit sy opwagting maak, sal hy kan vertel van die dag toe die hele Chinese dorpie se polisie mag by hulle huisie hulle opwagting gemaak het, wat baie interesanter is as om te vertel hoe jy meedoenlose ure in ‘n veilige kantoor stoel deurgebring het om die sekuriteit van ‘n onvoldoende pensioen te bewerk.

Asof die kantoor stoel nie ook nietig is nie.

Soos die stokkies wat hy in die vuur steek.

‘n Oomblik kooltjies om as te word voor die maan heeltemal uit is.

Want niks kan gebou word nie.

En die polisie wat onverwags by jou stoep opdaag en jou betrap met jou bolyf kaal, kan net so maklik fenynig wees as wat hulle besorgd is.

Elke oomblik van vrede, waarin ons kan liefhe sonder moeite, ‘n groter geskenk as Job se duisende kamele en donkies off sy herstelde gesondheid aan die anderkant van die potskerf.

Balans is vir mense wat dink daar is ‘n gewaarborgde 85 jaar van alles mooi uitsprei vir elke een van ons afgemeet.

Frans weet dis nie so nie.

Hy’t ‘n klein seuntjie onder ‘n kameelboom in Kalahari sand begrawe.

En nutteloos troos woorde probeer optower vir ‘n vriend wat by die graf van sy vrou en dogtertjie gestaan het.

Fok dit alles.

Dis die beste troos woorde wat hy kon vind.

Fok die leuens van werk vir ‘n uitgestelde prys.

Al maak jy dit tot by 85, wie gaan by jou op die stoep sit, terwyl jy suig aan ‘n suurstof tenkie, as jy by niemand gesit het nie, omdat so verskriklik besig was om verantwoordelik te wees nie.

‘Wees verwoed lief’, dis al advies wat Frans kon gee.

‘Elke oomblik’.

‘Vir enige iemand wat kans sien om jou kranksinnige liefde te ontvang’.

En dis wat Frans deesdae doen.

Hy werk nog.

So min as wat hy moontlik kan, sodat hy nie een oomblik mors waarin hy sy besete liefde kan uitstort oor enige van die mense wat die teenspoed beskik het om in sy nabyheid te wees nie.

Genoeg dat daar kos is.

En klere.

En dalk ‘n bietjie om die skuld wat hy gemaak het, in diens van vreeslike ‘significant’ goed, wat in retrospek geen ‘significance’ het nie, te betaal teen die spoed van ‘n gestremde slak.

Maar niks meer as dit nie.

Want enige iets meer as dit is tydmors, in ‘n wereld waar tyd beslis nie gebreklik is nie.

Nietigheid, in werklikheid.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s