Frans Reisema se verlore Betiteldheid

image

Langs die pad van die lewe verloor mens baie goed.

Sleutels.

Sokkies.

Geld.

Vriende.

Party mense verloor maats wat oenskynlik beloof het om lewensmaats te wees.

Ander verloor huise of ‘n werk.

Of ‘dignity’.

Frans se gedagtes werk as sy voete loop.

Dis vroeg oggend.

Hy was wakker voor sy span.

Hy’t koffie gedrink op die semment stoepie van hulle Chinese huisie.

Hy’t kruis bene gaan sit, plat op sy gat, onder die okkerneut boom, vir hoe lank weet hy nie, diep asem gehaal, sy gedagtes gerig op lewe en hoop, dankbaarheid.

Party noem dit meditasie.

Ander noem dit gebed.

Vir Frans is dit ‘n oomblik om stil te word en te onthou, al die kosbaarhede wat hy so langs die pad optel, dit vas te hou tussen sy skurwe vingers, te kyk en sien en te weet dat hy is, is nie toevallig nie en selfs sy sinnelose bestaan is betekenisvol, omdat ons ‘n oorsprong het uit Wie ons kom en ‘n Oorsprong in Wie ons lewe en betekenis ontvang.

Vanmore, in die koelte van die Okkerneut boom, kou Frans daaraan dat hy is, omdat s(Hy) dink.

En met die gedagte, soet op sy tong, besluit Frans om ‘n entjie te gaan stap, want as hy stap is dit asof geluk in sy hart in syfer.

En so terwyl hy stap, tussen huise en mense en reuke wat vreemd is aan sy geboorteland, dink hy aan verlies en verloor.

Nie met hartseer, soos ‘n mens sou dink nie, omdat vir die meeste mense verlies iets is om oor te rou – hy het vrede en vrede maak altyd die deur oop op geluk.

Hy ken verlies.

Nie die verlies van almal nie.

Maar tog.

Wie ken dit dan nou nie?

Ons almal eet dit elke dag, opgedis saam met die ander eentonighede van die lewe.

Die oompie by die winkel oorkant die straat groet vriendelik.

Hy staan baie buitekant.

Kyk vir almal wat verby stap.

‘n Entjie verder in die pad af sit die mense onder gekleurde son-sambrele langs die dorpie se dam, met ‘n lyn in die water om dalk ‘n ietsie vir ‘breakfast’ uit te trek.

Daar is altyd mense langs die dammetjie en daar is altyd ‘n lyn in die water.

Frans wonder oor die eenvoud van die lewe vir hierdie mense.

Hy wonder of hulle ook, so terwyl hulle daar sit en wag vir ‘n vis om ‘n stukkie aas te hap, dink oor verlies en hoop, oor sin en betekenis of waar voorspoed en teenspoed se oorsprong tog le en wat dit alles die moeite werd maak?

Dalk is hulle net.

In die oomblik.

Rustig, gereed om te ontvang wat ookal volgende na hulle kant toe sal kom, of dit nou ‘n ‘breakfast’-vissie of ‘n lee vishoek is.

Toe hy jonk was het hy geglo daar sal altyd ‘n vis aan die lyn wees.

En daar was.

Dit besef hy goed, vanmore, terwyl vreemdeling is in ander mense se land.

Daar was altyd voorspoed.

Hy’t met oorvloed groot geword, salig onbewus van baie ander wat met karrigheid leef, van dag tot dag, onseker oor of daar more iets sal wees.

Sy Pa-hulle was nie ryk mense nie, maar hulle het meer as genoeg gehad.

Altyd twee motors in die dubbel garrage.

Altyd poeding na aandete.

En vakansie by die see met ‘n skaapvleisie en roosterkoeke op die kole.

Soms sou sy ma-hulle stoei om genoeg eenkant te sit vir ‘n nuwe skool baadjie en hy weet hulle moes knyp om vir sy musiek-lesse te betaal.

Sy ma was goed daarmee om ‘n sikspens blink te vryf en sewe keer om te draai, maar die omdraai was nie om te oorleef nie, dit was om al die room en ‘cherries’ te bekostig wat hom sy bevooregte lewe gegee het.

‘n Tannie op ‘n fiets kom verby.

Sy glimlag vriendelik, net ‘n halwe mond tande, maar ‘n hart oorvol van goedheid, ‘n kleintjie agterop die fiets met een van daai windmeuletjies wat so draai in die wind in haar hand, baie gelukkig dat die rooi en groen en geel suis in die wind.

Miskien droom ons van waar ons is, dink Frans.

As jy voetslaan, jou lewe lank, dan droom jy van ‘n fiets kan he?

En as jy fietsry en busry, vandat jy kan onthou, dan begeer jou hart een van die karre van die mense wat so maklik by jou verby ry in reen en wind en storm?

Maar karre kan ook verloor word.

Sy eerste kar was ‘n Passat stasiewa.

Nie ‘n nuwe ene nie, ‘n 1981-model wat hy in 1991 gekoop het met geld wat hy gespaar het terwyl hy sy diensplig in die Suid Afrikaanse Vloot gedoen het.

Die soldy was maar skraps, R215 ‘n maand, as hy reg onthou, maar daar was genoeg ryk kindertjies saam met Frans wat nie kans gesien het om nagte om wag te staan nie en Frans met ‘n glimlag R100 gegee het vir die verlossing daarvan dat hy in hulle plek Simonstad se gordyne reen en donkernag sal deur staan by ‘n hek waar dronk offisiere na middernag barakke toe kom.

Hy’t so byna R5000 gespaar gekry en sy ouboet het hom gehelp om die ligblou Passat op te spoor.

Later was daar ‘n ongeluk, en omdat Frans net 3de part versekering gehad het moes hy die Passat verkoop om die regmaak koste te betaal, maar met werk by die Ten Pin Bowling-lanes kon hy ‘n Silver Wing Motorfiets koop, wat hy ook weer verloor het toe 3 jaar se studie 4 jaar word, want klasgelde was daai tyd al duur.

En na ‘n rukkie se fietsry, met studies wat ‘n bietjie meer voorspoedig loop en beurse wat vir klasgelde sorg, saam met vakansie werk se spaargeld en ‘n hand van sy ma het die fiets plek gemaak vir ‘n goue Ford Meteor, wat later plek gemaak het vir ‘n Toyota Venture, toe Frans eers begin werk, wat plek gemaak het vir ‘n kleiner Icon en ‘n groter Defender.

Die Defender, dit was nou Frans se droom wiele.

Rof en rou en sonder tierlanteintjies.

Elf jaar en 300 000 kilometer het Frans aan die Landrover vasgehou.

En toe’t hy die ook verloor.

Saam met hulle antieke-erf-meubels en hulle perde.

Maar dis alles goedters.

En dis ‘okay’ om te verloor.

Partykeer het ‘n mens.

En partykeer het ‘n mens nie.

Om sy familie te verloor was swaarder.

En saam met hulle ‘n klomp mense wat hulle self voorgedoen het as vriende.

En saam met dit, die droom waaraan hy gewerk het en voor gestudeer het vir 15 jaar.

Hy was 35.

Dit was verlies.

Het hy maar daai tyd verstaan van ‘verlies & wins’ en die geskenk wat dit alles is, dink Frans vanoggend weer, terwyl hy ‘n ou Chinese huisie bekyk met sy geuwel dakkie en fyn gekerfde detail om die dakkappe.

Die dorpie waar hulle bly is vol van die huisies.

Waar gesinne geleef het deur die heerskappy van ‘Emperors’, verby die rewolusie van ‘n ongenaakbare ‘Chairman’ tot in die tyd van ‘China’s Dream’ wat soos ‘n golf deur Afrika, Amerika en selfs Europa spoel.

Daar is baie verlies beleef in die huisies, dit weet Frans, want waar daar ‘n huis is, is daar verlies.

Dis vreemd hoe ons lewe met die verwagting dat daar nie verlies sal wees nie, dink hy.  So asof selfs sneeu wittjie of die 3 varkies met wie ons groot geword het verliesloos deur die lewe gegaan het.

Die stories het altyd ‘n ‘happy ending’, onthou Frans.

Selfs ou Job se rykdom was herstel en dooie kinders is vervang met nuwe kinders, na al die lyfsere en doodswense op die ashoop.

Maar dit werk nie so nie.

Hy glimlag.

Nie oor dit nie so werk nie, maar oor die ‘folly’ van dapper aankondigings dat die tyd van ons ‘restoration’ net om die draai is.

Pastore en Predikante is gou om dit te se.

Selfs Gereformeerdes en Evangeliese Vroomes, so asof God se seen net verpak is in materiele en emosionele oorvloed, in die baie goed he en baie vriende he, waarvan die sprokies verhale vertel.

Hier in die vreemde verdwaaldheid van die onbekende Ooste het Frans kom leer dat God se seen net so veel ingeweef is in die verlies, as wat dit ingeweef is in die wins.

Hy’t sy titel verloor, destyds toe hy 35 jaar oud was.

Nie dat sy titel ooit vir hom saak gemaak het nie.

Hy’t altyd gedink dis so effe oordrewe en met die verlies van sy titel het hy ontdek dat dit nog gelaai gekom het met illusie ook.

Die illusie van mense wat voorgee om jou lief te he, maar eintlik net om jou hang soos bye om ‘n pot heuning en as die heuning weg is, weer verder zoem na ander plekke, want watter by wil nou tyd mors by ‘n lee heuningpot.

Vliee, dink Frans.

Dalk was hulle eerder vliee, as bye.

Vliee wat gezoem het om ‘n drol.

Eintlik het Frans nie sy titel verloor nie.

Sy familie en sy Defender, dis goed wat hy verloor het.

Sy titel het hy teruggegee, sonder huiwering, een Sondagaand in Oktober, want in sy hart het daar ‘n oortuiging gekom dat dit waarvan hy gedroom het en dit waaraan hy 15 jaar gewy het en waarmee hy besig was, was sinneloos.

Oe verblindery.

Tot diens van ‘n iets heeltemal anders as wat hy gehoop het.

As Frans om die hoek loop, in een van die dorpie se baie stegies af, met hoe ou bome as toeskouers, lig dit weer van sy skouers af, die swaar wat so maklik tussen ons almal se blaaie kom le.

Elke verlies was goed.

Elke verlies het ruimte geskep.

Vir ‘n volgende oomblik en ‘n volgende iets om in sy hande te neem.

‘n Jong Chinese meisie het dit eendag vir hom gese, net nadat hy en sy span hier in China aangekom het.

‘Om iets te kan optel, moet ons eers iets neersit’, het sy gese, en in sy geestesoog het hy die ou gesien van wie sy praat, met sy hande en sy arms vol, so effe gebuk voor ‘n boks, met ‘n frons tussen die oe soos hy probeer uitwerk hoe hy die boks opgetel gaan kry.

En dan sit hy alles neer, alles wat hy totnhier so stewig vasgehou het.

En hy tel die boks op.

Want ons kan tog net soveel optel.

En wat ons ookal optel moet ons dra.

En partykeer raak dit swaar.

Miskien het die jong Chinese meisie nie dit vir Frans geleer nie, miskien het sy dit net gese en in haar se het hy die waarheid daarvan herken, want Frans het neergesit en weer ander goed opgetel.

Miskien, partykeer, is ons te klouerig om neer te sit, en dan klem ons vas, en op diemou einde word dit wat ons vashou in elk geval uit ons hande gepluk en dan voel dit vir ons soos verlies, terwyl dit eintlik neersit moes wees.

Lank terug het Frans gelees van ‘n Pa wat geglo het hy moes sy eniggebore seun op ‘n altaar sit en offer.

Toe’t hy gedink dalk is die geheim om losserig vas te hou, wat jy ookal kans kry om vas te hou.

Maar dis een ding om iets te dink en iets heeltemal anders om dit te doen.

Op die ou einde verkies Frans om te glo dit was die jong Chinese meisie wat hom die ding geleer het, want soos ons aanstap van die goed wat ons eendag opgetel het om later weer neer te sit, en neergesit het om iets anders op te tel, sien ons beter, die groter prentjie van alles wat opgetel kan word en wat neergesit moet word, of verloor moet word.

En soms help ‘n jong Chinese meisie vir ‘n middeljarige Afrikaanse man om beter te sien.

As Frans weer by die dam verby kom is die Ooms nie meer onder hulle sambrele nie.

Dalk het ‘n vis gebyt.

Dalk het hulle moed opgegee vir die dag se vangs.

En as hy deur die rooi en swart ornamentele hek stap, met sy goue krulletjies, dan hoor hy sy vrou en kinders op die stoep en ruik vars koffie.

En terwyl hy hulle elkeen ‘n goeie more drukkie gee en stadig drink aan die koffie wat uit Suid Afrika gepos is, is hy dankbaar, want die een ding wat Frans langs die pad verloor het, die grootste ding om te verloor, dit was nie sy familie of sy Defender of sy titel nie.

Dit was daai oortuiging dat hy betiteld is, en aanspraak kan maak op ‘n vis aan die lyn.

Die oortuiging het hy gemaklik neergesit om nie sommer weer op te tel nie.

En sedertdien dra hy net dankbaarheid.

Want as niks jou toekom nie, dan is elke oomblik ‘n geskenk.

Elke bietjie liefde en vriendskap.

Elke stukkie lojaliteit.

Elke oomblik van vrede.

Elke ete.

Elke roomys.

Elke oggend se wakker word.

Elke bietjie goeie guns.

Elke greintjie vriendelikheid.

Ook die Chinese huisie in ‘n klein Chinese dorpie.

En die bus ry klasse toe.

En verdwaalde wees in ‘n vreemde land.

Geskenk.

Die dankbaarheid in sy hande, lig.

Sonder gewig.

‘n Juk gemaak van foamalite.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s