Frans Reisema se Roosterkoeke

image

Die goed brand sy vingers as hy hulle draai.

Roosterkoeke moet dikwels gedraai word en as jy roosterkoeke wil maak moet jy weet jou vingers gaan brand.

Jy kan nie ‘n spaan of ‘n knyper gebruik nie.

Die goed het jou hande nodig.

Fyn vat en mooi draai.

Dis nie wors wat jy in ‘n toeknip rooster kan plonk en elke nou en dan, met een ‘flip’, tussen gesels en drink deur, kan draai nie.

Jy moet jou oog hou op elke koek.

Kyk.  Waar die vuur bietjie warmer is word hulle gouer gaar.

Brand hulle soms, as jy nie konsentreer nie.

En wie wil nou ‘n gebrande roosterkoek he.

Jy soek een wat net so effe bruin is, maar harderig aan die buitekant en pofferig sag aan die binnekant.

‘Perfection’, waarvan ons almal droom, omdat ons almal vertel is dis ‘n iets anders as wat op die rooster le.

Dis nou amper drie weke dat Frans en sy spannetjie hier op die buite wyke van Beijing nesgeskop het.

Die smerige huisie waarby hulle daardie Donderdagaand aangekom het, is al bietjie meer huis en bietjie minder smerig.

Op die stoepie het hulle so ‘n smal staal braaiertjie staan gemaak op ‘n ou waskom se staander.

Elke keer as Frans aan ‘n roesterkoek vat, wieg die ding so liggies op sy dun voetjies.

Ritmies, asof hy ‘n lewe van sy eie het en hou van dans, maar nie die moed het om heeltemal uitbundig tot dans oor te gaan nie, soos ‘n klong by ‘n sokkie wat daar teen die muur staan en voete stamp, omdat hy nog nie dapper genoeg is om ‘n meisie uit te vat op die vloer nie.

Hier waar hulle nou is, is vuur-kos gewild.

Op baie hoeke is braai-restaurante staan gemaak met rooi afdakkies, opslaan hout tafeltjies en driepoot bankies.

Die Chinese braai hulle vleis op stokkies.

Jy kan dit nie sosaties noem nie.

‘n Sosatie is sappig, met groot vierkantige stukke sappige beesvleis, met geel vet.

In die Kalahari het Frans sosaties ge-eet.

Bazaar tyd.

As Sarel of Carools ‘n os geslag het.

‘n Os wat heel jaar spesiaal vetgemaak is as slagoffer vir die Kerk.

Cia het sous bygesit en dan le die klompe vleis vir weke in ‘n koelkamer om opgeveil te word by die bazaar.

Almal wat bazaar toe kom het osse.

Hulle kan hulle eie slag en sosaties maak, maar daar sit iets daarin om die hoogste bod in te sit vir Sarel se vetgemaakte os en later die bazaar sosaties uit te haal, wanneer vriende kom kuier op ‘n Saterdagaand.

Die Chinese se stokkies vleis is dun gesny en wyd geryg.

Twee minute op die swart kole en dis gaar.

‘Kao-jie-hoe’ (gebraaide vis) en ‘sink-ga-hoe’ (gebraaide mossels) is van hierdie ouens se beter pogings op die kole.

Hulle ken nie roosterkoeke nie.

Dit weet Frans goed, want een aand, toe hy dit nie meer kon hou nie, toe’t hy ‘n vuurtjie staan gemaak in ‘n koel parkie net duskant hulle woonstel, daar in die Noorde van China waar hulle eers gebly het.

Die nuuskierige mense het om sy vuurtjie gemaal asof hy besig was met die wonderlikste tower kuns.

Nie sy mense nie, die mense.

Almal wat toevallig daar verby gekom het, oppad iewers heen, of om die aand se vars lug te geniet.

Almal het oor sy skouer kom loer en vreeslik gesels oor die ding waarmee hy besig is.

Hulle maak ‘kaobiejeen’, so ronde plat broodjie met twee stokkies deur hom gesteek en branderige sous op gesmeer, maar dis meer soos ‘n braai broodjie, dis nie ‘n roosterkoek nie.

En hulle maak gestoomde bolletjies.

En gestoomde ‘baodzu’, wat hulle weergawe van ‘n ‘meat pie’ is.

Alles baie lekker, maar nie roosterkoek nie.

Roosterkoek herhinner Frans aan baie dinge.

Veral aan somer-vakansie by die see-huisie op teen die duin bo ‘blue pool’.

Daai klein wit huisie, so eenkant tussen die bome, op die sand staan gemaak deur sy Oupa, dit was ‘n plek waar Frans kon lewe.

Daar was spasie, in die melkhout boom woud in, om vervalle murasies te ontdek of oor die duine na die rotse verby ‘Carriage Rock’ na Shelley Beach.

Al een op die strand, nooit alleen nie, altyd omring deur die wonderlikste karrakters, opgetower in ‘n onskuldige verbeelding wat oor en oor van Frans die redder gemaak het wat weerloses, soos hy, gehelp het om los te kom uit die kloue van monsters en gediertes en monster-mense.

Miskien is hy ‘n towenaar, dink Frans vanaand met ‘n ondeunde glimlag, terwyl hy luister vir die weer wat opsteek en die brand op die punte van sy vingers voel, terwyl hy poog om die perfekte roosterkoek gaar te kry.

Miskien wil hy nog altyd ‘n towenaar wees?

Dis Afrika kos die.

Hy’t altyd gedink dis net hulle wat roosterkoeke maak, want daar in die Oos Kaap waar hy sy groot word dae gehad het, het die meeste mense by wie hy ooit om ‘n vuur gestaan het braai broodjies gemaak, of net die vleis gebraai en aartappel slaai of kool slaai bygesit.

En as hulle Noord gery het, dan was daar mielies of mielie pap of ‘potato bake’.

Die eerste keer dat hy ander mense sien roosterkoeke maak het, was in ‘n lokasie so duskant Twee Riviere, oppad Joubertina toe.

Die groot Tannie, met haar ‘peach’ bediende oorjas en bypassende kopdoek, se roosterkoeke was groot en reghoekig, nie rond en vet soos syne vanaand nie.

Sy’t hulle by haar agterdeur staan en maak op kole wat uit die donkie gekrap is.

Hy was nie haar gas nie.

Hy’t by ‘n meisie gekuier en die se mense was lus vir roosterkoeke, toe bel hulle die vrou wat elke dag in hulle huis werk en bestel en Frans het gegaan om te gaan haal.

Nie heeltemal dieselfde as om self die vuur te maak, die deeg te knie en dan die vye konfyt van jou lippe af te lek nie, maar Frans was bly o  die draai te ry.

Dit was lekker om daar by die Tannie op die trappies voor haar agter deur te sit, te kyk vir die kinders wat in die pad speel en te luister na haar vrolike gesels, terwyl sy roosterkoeke maak, lank na werk tyd verby is, vir die mense wat sy elke dag bedien.

Frans het nog altyd verkies om op ‘n agterdeur se trappies te sit, eerder as ‘n opgesmukte sitkamer waar die dekor netso is en dit lyk asof niemand ooit poep nie.

Haar vingers was behendig, die Tannie sin.

Asof sy al dikwels die ding gedoen het.

Sy se sy laaik roosterkoeke baie meer as vetkoek.

Vetkoek staan die meide altyd alleen en maak in die kombuis, maar roosterkoek maak mens buite waar daar lewe en bedrywigheid is.

‘Al sit da niemand by jou en praat, soos jy vanaand nie, is jy darem nie alleen nie en jy kan loer vir die kindertjies se vrolikheid.’

‘Kinners is okay.  Hulle is meestal vrolik.  Behalwe as die grootmense inmeng met allerhande goeters wat gedoen moet word of nie gedoen mag word nie.  Dan’s hulle heppy.’

Daai aand op die trappies het Frans ‘perfection’ geproe.  In die Tannie se ‘sampletjie’ wat sy vir hom van die rooster af gegee het en die oomblik in die skadu van die berge.

Later, aan die Oos Rand in nog ‘n township het Frans ook roosterkoeke ge-eet.

By ‘n ou en sy vrou wat hom sien loop het in Daveyton se strate, so duskant Springs.

Frans was besig om potte en panne en wekkers te verkoop.

Hy was student daai tyd, maar nie die soort wat ‘n Pappa het wat vir alles betaal of punte wat kasgelde wegvat nie.

Die gewone soort, wat sweet om elke klas te betaal en by te hou, so met een probeer slag, en dan kak-sleg voel as jy ‘n vak sleep, omdat dit vrek moeilik is om swot en werk en toets weke en die gewone Varsity makietie alles in een bondeltjie vas te draai.

Dit was vakansie-tyd en Duplex het geadverteer dat as jy goed verkoop, dan kan jy dalk 3 of 4 duisend huistoe vat.

3 of 4 duisend sou ‘n ordentlike duik in die 90’s se Universiteits rekening maak en dalk vir Frans ‘n kans gee om beter te doen.  Toe’t hy op die Nissan E20 bussie geklim en deur die nag Oos Rand toe gery en ingeboek by die jeug hostel in Springs en elke dag en aand deur Daveytonn se strate geloop en potte en panne en wekkers verkoop uit sy groot swaar tas met ‘samples’ aan mense met wie hy nooit te vore regtig veel te doen gehad het nie.

Hy’t terug gekom van Daveyton, nie net met R5000 se komissie in sy sak nie, maar ook met ‘n ontnugtering, want Frans se lewe was eintlik maar agter onsigbare heinings.

As kleintjie het hy altyd aan sy Ma se skoot gebid vir die mense agter die yster en bamboes gordyn.

Nou leef hy met sy gesin agter die bamboes gordyn, saam met die kinders en klein kinders van die mense vir wie hy so ewe parmantig gebid het.

In sy verbeelding het hy altyd so swaar groen bamboes-gordyn gesien, nie soos tralies nie, meer soos die swaar sybokhaar gordyne in sy Ma se sitkamer, dig en toegetrek dat geen biekie son kan inkom nie en geen bietjie lig kan uit skyn nie.

Min het hy geweet dat hy ooit agter die gordyn, wat deesdae meer soos ‘n blinding is, sal bly en nog minder het hy besef dat hy en sy gesin self ook agter ‘n gordyn gebly het, een gebou uit leuens en illusies van ossewa wiele en dapper boere vegters met oranje blanje blou strepe toegewit, sodat nie hy of sy ma regtig weet wat is en wat was en wat sal wees nie.

In Daveyton het die gordyn so bietjie gelig.

Dit was voor ’94, maar na die einde van die tagtigs en PW Botha se vinger toesprake.

Dit was onstuimig aan die Oos Rand.

En die egpaar het hulle ontferm oor die verdwaalde wit kind wat so ewe onskuldig in hulle strate loop.

Hulle het hom kos gegee.

En liefde.

Gasvryheid wat hy nog nie voor daai dag in iemand se huis geproe het nie.

Saam het hulle by die eetkamer tafel gesit.

En toe die mooi jong slanke vroutjie die kos op die tafel sit, toe vat hulle hande en die man bid.

‘We thank you for our guest.  For the gift of his presence at our table.  We pray for him, that he may know you and that your protecting hand will keep him safe as he walks along our streets.  We pray for him, that he may grow to be a man of wisdom and kindness and wherever his feet may fall, he may bring your grace and love.  We pray that he may be a saviour, saving people from their own destruction, as you save him and us as well.’

Daar is nie gebid vir die kos nie.

Net vir Frans.

Voor ete het Frans en die mense gesels, mekaar vertel van hulle lewens.

So oor die vuurtjie en die roosterkoeke wat gaar word op ‘n paar rooi kole.

Die man was behendig met die koeke.

Hy werk by tampax se fabriek.  Die vrou werk by ‘n kleuter skool.  Hulle het nie kinders nie.  Nog nie.  Maar eendag sal hulle graag hulle kinders sal wil sien speel in die strate van Daveyton.

Frans het vertel van  sy studies en hoekom hy in Daveyton se strate is.

Hy’t niks gese van die gordyn wat in hierdie oomblik vir hom oopgetrek is nie.

Ook nie later toe hy by die jeug hostel aankom nie.

Na ete het die man saam met Frans gestap na die rand van Daveyton.

Daar het hy iemand met ‘n bussie gekry en vir hom gevra om Frans Springs toe te vat, ‘n plastiek sakkie met oorskiet roosterkoeke en ‘n stukkie wors vir Frans in die hand gestop vir more oggend se ‘breakfast’, en die drywer betaal vir die rit, soos ‘n samaritaan dit doen.

Dit was na elf toe Frans by die hostel aangekom het.

Sy kop kon nie ophou werk nie, want hier, onder sy neus was ‘n wereld waarvan hy niks geweet het nie.

Mense.

Die mooiste mooi mense, met die mooiste mooi harte, wie droom van gesin he en gelukkig wees en oud word.

Eenkant.

Agter ‘n Casper-Gordyn ingejaag.

Die mooiste mense wat lief het en omgee, ten spyte van alles wat Frans ontdek en mettertyd nog sou ontdek.

Die man se gebed het vir altyd in Frans se hart vasgeweef.

En elke keer as Frans roosterkoeke maak, dan is dit ‘n offer van dankbaarheid wat hom ook herhinner aan die aand in Daveyton.

Hy’t nooit weer die egpaar gesien nie.

En miskien is hulle al by 50 verby, terwyl Frans self raak-raak aan vyftigs.

Maar dis nie aan hulle of die Tannie duskant Joubertina wie Frans vanaand die meeste dink nie.

Dis sy ma se hande.

Wat die deeg altyd geknie het.

Wat oud geword het en nou, na die beroerte, nie weer sommer deeg sal knie nie.

Wie hy, netsoos die Tannie duskant Joubertina en die egpaar in Daveyton, waarskynlik nie weer sal sien nie, maar wie in sy ‘wees’ en ‘wese’ die mooiste garingdrade ingeweef het.

Frans het altyd baie tyd by haar in die kombuis deurgebring.

Dis wanneer hy haar tyd kon kry, terwyl sy aandetes bymekaar gemaak het vir hulle groot gesin.

Dis wanneer hulle gesels het.

Hulle het baie gesels terwyl sy gevriesde groente in Coiningware bakke gooi en roosterkoek deeg knie.

Sy was bedrywig, sy ma.

Sy’t genaaldwerk en geverf en ge-houtsnee, laslappie kussings gemaak en vroue Bybelstudies gehou.  Kinderkrans georganiseer en in haar sitkamer raad gegee vir huilende vrou op huilende vrou.

Sy’t geluister na Frans.

Dis miskien wat hy die meeste van haar waardeer.

Dat sy geluister het, so tussen die kosmaak en knie deur.

Sy’t geluister en dan sy opinies uitgedaag, met haar eie opinies.

En dan’t hulle gepraat en dit het nooit saak gemaak of Frans nou haar opinie glo of hou by sy opinie nie.

Dit het saak gemaak dat hulle opinie het.

Al was hulle albei se opinies waningelig in ‘n tyd, netsoos nou, toe inligting beperk was en mens eintlik nie met sekerheid diekant toe of daai kant toe kan se nie.

Wat seker was, is die bedoeling van die hart.

Om lief te he en te doen wat reg is.

Want as jy lief het en wil doen wat reg is, dan vind jou hart altyd sy pad na mooi goed.

Dis hoekom Frans geduldig is.

Met homself.

En met die mense om hom.

En luister.

By hierdie ma van hom het hy ook geleer dat ons lewens nie alleen is nie.

Dat ons lewens vasgemaak is aan ‘n Oorsprong Wie van altyd af is, Wie liefhet, soos ons nooit sal kan snap nie – en omdat dit so is, dat ons altyd kan verbeter.

Daai strewe na ‘perfection’.

Later het Frans ontdek wat dalk te moeilik is om in woorde te sit, dat die ‘perfection’ waarna ons streef is, terwyl dit nog word.

Dat vanaand se roosterkoeke reg is, al sal volgende keer sin dalk beter wees.

Dat die ‘perfection’ nie vasgevang is in ‘n ‘iets’ daar ver wat nie beskryf kan word nie en nog minder bereik kan word nie, maar ingeweef is in elke oomblik deur die onsigbare hand van volmaaktheid wat soms moet kompeteer met ons leuens en illusies om die volmaaktheid te laat deurskyn in ‘n wereld wat bietjie deurmekaar is.

En dat volmaaktheid soos dagbreek is.

Geleidelik, maar definitief.

Hy dink aan sy ma vanaand en terwyl sy mense binne, in die kombuis, die opslaan tafeltjie afdroog en regskuif, want dit het in tussen liggies begin reen, rol ‘n vet druppel oor Frans se wang.

‘n Druppel van dankbaarheid.

Want al is sy lewe so eenvoudig soos plat reghoekige roosterkoeke wat geproe word op trappies en saamgedra word uit Daveyton in plastiek sakkies, is dit in die eenvoud dat Frans die volmaaktheid proe, elke keer weer.

‘n Roosterkoek met ‘n drupsel heuning.

‘n Ete in onbekendes se huis.

Boontjies met stukkies vark en ‘n pot rys op ‘n smerige huis se trappies, bedien deur ‘n ou Chinese Tannie wat hulle skaars ‘n paar uur vroeer ontmoet het.

Om te weet God is.

En ons uit God.

Elke oomblik, ook hierdie een in die ligte reen, met druppels wat rol, geskenk om te proe en te geniet.

Sy vrou het maar die stukkie vark wat hulle die oggend by die mark gaan haal het in die pan gebraai, want die ligte reen het swaar geword en die vuurtjie se kole is geblus.

En hulle het in die kombuis gesit, om die ronde opslaan tafeltjie.

En die roosterkoeke was perfek.

One response

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s