Frans Reisema

image

Hy sit op ‘n klein hout bankie in die warm oggend son.

Langs hom ‘n rooi skotteltjie met lou warm seep-water.

Sy regterhand in ‘n pienk plastiek handskoen, hou ‘n stukkie staalwol vas en skrop die vlekvrye staal rakkie se dik donkerbruin vuil af.

Hy’t eers sonder ‘n handskoen gesit en werk, maar die vuil is so baie en die proses om die ou staal skottelgoed rakkie skoon te skrop vat so lank, sy vingers het verrimpel en sy regter duim het gesny op ‘n skerp hoekie.

Toe’s dit die duim ‘douse’ in alkohol, want die vuil op die rakkie is vuiler as wat jy kan glo en infeksie is soortvan gewaarborg.

Rooi syfer teen sy duim af en drup-drup in die skotteltjie louwarm water, maak sulke fraai patroontjies, soos dit verdun en verdwyn.

Alkohol, sambok salf, pleisters.

En dan die pienk handskoen, om die pleisters droog te hou en sodat hy kan aanhou skrop.

Die bankie herhinner Frans aan die swarthout melk-bankies wat in sy Ma se sitkamer was, so langs die netjiese banke en gemakstoele, om ‘n koppie tee of ‘n bordjie tert op neer te sit.

Sy Ma se sitkamer.

Dit was ‘n plek wat buiteperke vir hom en sy boeties en sussie was.

Altyd gereed om mense te ontvang.

Dokters en Prokureurs.

Huisvroue en vooraanstaande Tannies van uiteenlopende verenigings.

Mechanics en welders en mill-wrights.

Skool juffrouens en skoolhoofde.

Hulle het almal daar kom sit.

Mooi aangetrek, hare gedoen, grimering aangesmeer op die patrone van die jongste modes wat die sewentigs en vroee tagtigs van die vorige eeu gedikteer het.

Selfs die mechanics en welders en trok-drywers, en hulle gades, was ‘opgedress’ as hulle in sy Ma se sitkamer kom sit het.

Dit was nie ‘n plek vir lag nie.

Lag is gedoen, buite, onder die afdakkie as daar ‘n vuurtjie gebrand het op ‘n Vrydagaand en Oupa en Ouma het kom kuier.

Dan is daar gesels oor die nuwe afrigter van die WP Rugbyspan of die nuutste manewalis van John Vorster of PW Botha en Eerwaarde Hendricks.

In die sitkamer was dit stemmig.

As hulle so een een of twee twee daar by die voordeur gekom het, soos by die Ark van Noag, dan was dit omdat daar moeilikheid was.

Probleme.

En my Ma en my Pa was die mense met al die oplossings.

Dis in die sitkamer dat Frans van protokol geleer het.

En dat almal net mense is.

Niemand gevrywaar van die ontnugtering of teleurstelling wat meedoenloos klop en dreig om die huisies van strooi en hout om te blaas nie.

Daar is nie baksteen huisies nie.

Niemand het so ene nie.

Nie eens die slimste oudste varkie nie.

By die voordeur skud jy hand.

As jy ‘n man is, ferm en hoflik.

As jy ‘n vrou is, effe vrouliker en vriendeliker.

Hulle almal het daar aangekom met ‘n glimlag en op die vraag ‘hoe gaan dit’ was die antwoord altyd ‘goed, baie goed, dankie’.

Wat natuurlik nie waar was nie, want as dit ‘goed’ gegaan het, dan sou hulle nie daar opgedaag het, opgetof in hulle ‘sunday-bests’ nie.

Die klere het Frans, selfs op vyf, herhinner aan vermomming.

Om weg te steek, die seer en trane en vuil wat nie afgeskrop kom nie.

Maar vuil kom altyd afgeskrop.

En vuil maak die beste vermomming smerig.

Jy moes die staal rakkie gesien het toe Frans hom uit die laai van die verstofde kombuis haal.

‘Jissie, dis ‘n gemors’, het hy by homself gedink.

Hulle het 25 ure op ‘n trein deurgebring.

‘n Uur op die stasie gewag, in uitmergelende hitte, en toe nog 90 minute gery in ‘n swart ‘mini-van’ van onbekende Chinese-fabrikaat, met ‘n poeperigge lugversorger en te min plek vir die nege mense en hulle bagasie wat ingedruk is.

Dis lomp om met sewe mense te reis.

Baie bagasie en baie behoeftes wat orals saamgesleep word.

Dan’s die een honger, en daai een dors en die volgende een soek ‘n piepie-plek, terwyl ‘n ander een te na gekom voel en ‘n vyfde een skree van moegheid.

Teen die tyd dat hulle by die huisie aangekom het, was niemand meer ‘happy’ nie.

Almal was opgewonde op die pad.

Met afwagting as petrol het hulle die bagasie en die behoeftes so op ‘n knoppie agter in die ‘mini-van’ gestop, wetend dat die nuwe huisie se welkom dit alles die moeite werd sal maak.

En die huisie is ‘cool’.

Ruim.

‘Beautiful’ met sy vyf vrugte bome in wie se takke vyftig voeltjies baljaar en sy vyf slaapkamers waar elkeen sy eie nessie kan skrop.

Maar vuil.

Fokken vuil.

‘Crap’ staan op die groot stoep in twee groot hope, onder vaal plastiek toegemaak.

In die jaart is daar nog hope gemors.

Drie van hulle.

Die vloere is stowwerig.

Die kaste vol geprop met al die goed wat mense versamel, maar nooit gebruik nie en ‘abandon’, wanneer hulle trek, omdat dit makliker is om weg te stap as om ontslae te raak.

En so le die materiele kak van dekades se koop en koop vir jare en stof vergaar, sodat Frans en sy spannetjie moee ‘travelers’ op hierdie Donderdag-middag teen dit moet vasloop.

Dat enige iemand nog die moed gehad het om iets eetbaar gaar te maak in die kombuis verstom Frans.

En sy maag draai, want hy weet sy span is moeg en hulle het goed gedoen, maar iewers kom daar altyd ‘n laaste stukkie strooi wat die kameel se rug breek.

Of is dit die donkie?

Frans is self so moeg, hy weet nie, en hy gee ook nie om nie.

Donkie, kameel, wie gee nou regtig om – iewers is die kak altyd te veel en dan spat dit die wereld vol.

Maar nie die Donderdag middag nie.

Sy spannetjie verstom hom.

Die kinders kies kamers.

Daars een vir elkeen van hulle.

Hy’t nie gedink dit sal gebeur, hier, in hierdie wereld wat hemel toe reik met woonstelblok op woonstelblok op verdomde woonstelbloek en trappe, meer as die sterre van die hemel om op en af te klim tot jou kuite seer is en jou bo bene so vae vlou permanente pyn het, asof jy ge-‘stairmaster’ het by Virgin Active, vir die wederkoms.

Daars beddens.

Maar nie matrasse nie.

Ook nie beddegoed nie.

Daars ‘n badkamer.

Maar die toilet werk nog nie, so se die huiseienaar.

Dit sal werk, oor ‘n paar dae, maar nie vandag nie.

Ook nie die stort nie.

En die kombuis is taai-bruin van jare se kook-olie dampe wat hardnekkig geplak het aan kassies en laaitjies en rakkies, terwyl Ouma’s middagete en aandete gebraai het, sodat die mans en die kinders se magies vol is.

Die stoof is opgebruik.

Dit sal ook vervang word.

Maar daar staan ‘n nuwe yskas.

En in die badkamer is ‘n splinternuwe wasmasjien.

En in tussen kan daar geskyt word, buite, in die ‘longdrop’, wat eintlik maar net ‘n huisie is, met ‘n gleuf in die vloer, waaroor jy hurk, en mik, sodat jou stront en piepie gelyktydig onder toe tuimel en nie agter jou vasklap teen die sement of voor jou opspat teen jou voete en bene nie.

Hurk.

Hier hurk hulle, platvoet, as daar geskyt en gepie moet word.

Ons almal skyt, dink Frans by homself, terwyl hy na die kleinhuisie stap.

Ek.

En die vername stemmige Ooms en Tannies wat so opgetof in my Ma se sitkamer kom sit het.

Ons moet skyt.

En huil.

Die kak moet iewers uit, maak nie saak wie ons is nie.

In sy Ma se sitkamer het hulle almal gehuil.

Party hard en nat en rou.

Ander stil-stil, so met ‘n sneesie wat trane wegvee voor hulle kans kry om af te rol en dalk ‘n verraaiende natkol los op ‘n bloes of ‘n wit kraag hemp.

Vanaand is dit net gewone kak wat val, terwyl Frans vernuftig hurk.

Hy’t geleer van hurk, laag en nederig, hier in hierdie vreemde wereld.

Nie dat Frans ooit vernaam of vernuftig was nie.

Hy was maar nog altyd ‘n hurkende skaduwee, wat hurk-hurk sy pad deur die lewe vind.

So onopsigtelik soos wat ‘n reus deur ‘n dorpie kan stap.

Frans is groot.

1.84 meter lank.

110 kilogram op die skaal.

Behalwe vir ‘n effense boepie, wat hy destyds selfs toe hy in die vloot was en ‘n skrale 74 kilogram geweeg het, gehad het, en nog altyd met hom saamdra, is daar nie te veel vet aan sy lyf nie.

Grof gebou.

Groot hande.

Dik sterk bene.

‘n Bolyf met ‘n vris borskas en arms wat die meeste hemde se moue so effe laat span.

Dis moeilik om nie sy lyf raak te sien nie.

Dis maklik om nie sy wese raak te sien nie.

Sy hart die teenoorgestelde van die fisiese voorkoms wat nou so gerieflik hang oor ‘n gleuf in die vloer, terwyl vliee zoem om sy kaal boude en knaters.

Hy’t nie net kom skyt nie.

Hy’t kom asem skep.

‘n Oomblik om te ‘regroup’ voor hy die span moed in praat.

‘Dis vuil julle’.

‘Dis okay’, se sy vrou.

Hy’t geweet sy sal se dis ‘okay’.

Sy’s taai.

Al rede hoekom hulle na twee dekades nog saam is.

Omdat sy taai is.

Omdat sy twintig jaar gelede, nie nesgeskop het nie, maar gemaklik langs hom ingeval het en saam begin reis het.

Frans se voete is altyd oppad.

Hy’t nie wortels nie.

Nie op plekke nie en ook nie in idees nie, want een plek is altyd oppad na ‘n volgende plek en eers as jy aankom by die laaste plek, sal jy kan terug kyk en die roete se betekenisvolheid verstaan.

In die bos loop mens nie reguit nie.

As daar ‘n boom in jou pad is, kap jy nie die ding uit om reguit pad te hou nie.

Jy gaan links of regs om die boom verby.

Maak nie saak watter kant om nie, jy gaan verby.

En dan hou jy aan met stap, waarheen jy ookal oppad is.

Jy spring oor ‘n sloot en klim oor ‘n rots en mik iewers heen, en kom iewers anders uit.

En dis ook ‘okay’, soos die verdomde vuil huis.

Want vuil kan skoongemaak word.

Daai Donderdagaand het die buur Tannie aandete aangedra.

Groen boontjies, met sampioene en stukies vark vleis, ‘n pot reis, ‘n bietjie hoender en komkommer met asyn en soya sous en ‘n spatseltjie sout.

Hulle het dit afgesluk met die goedkoopste bier wat hulle in die winkeltjie oorkant die straat kon kry.

En toe bedgemaak met kussings en sitplekke van die banke in die sitkamer en lakens uit ‘n boks vol van nog gemors wat iemand eendag baie opgewonde in ‘n winkel gekoop het met geld wat iemand anders moes verdien.

En nou sit Frans op die klein bruin hout bankie en skrop aan die staal rakkie met die pienk handskoen aan sy regterhand, om die pleisters droog te hou en die kombuis skoon te kry.

Die res van die huis is drie dae later al beter.

Hulle skyt al op ‘n porselein troon.

Die stort werk, so op ‘n manier.

Die kinders het geskrop en gevee en gemop en gewas, soos ‘n wafferse span ‘cleaners’ wat sanitasie hulle besigheid gemaak het en goeie geld betaal word.

Daar was nie een klagte nie.

Nie ‘n enkele een nie.

Net opgewondenheid.

Saam met sy vrou het die hele spannetjie gese, ‘dis okay’, en Frans kon sien hulle bedoel dit.

Sy maag so bietjie minder draaierig onder die effense permanente boep.

En die stoof, die het gekom.

‘n Mooi gasstoof met ‘n sterk ‘extractor’ om nuwe olie dampe buite toe te suig.

Hulle het gaan beddegoed soek by ‘n mark wat hulle toevalig ontdek het, net duskant die dorp.

Rooi afdakkies wat 4 kilometer pad af staan gemaak is, van die dorpie, tot in die volgende dorpie, met alles wat enige mens moontlik nodig mag he op verkoping.

Groente en vrugte.

Vleis.

Brood.

Skoene en klere en panties en onderbroeke.

Borde, bekers, drommetjies en waaiers.

Hy moes ‘n waaier gekoop het, want dis warm.

‘Shit’ dis warm, veral na hulle 18 maande geleef het in die Siberiese koue van Chairman Mao se uitspoeg wereld, asof hulle lywe vrede gemaak het daarmee dat hulle nie weer gaan warmte kry nie en aangepas het by self iewers hitte skep en nog nie besef dat dit nou nie meer nodig is nie.

Van -35 ºC na 37ºC.

Dis Frans se lewe.

Altyd op uiterstes.

Nooit net matig en gewoon nie.

Dankie tog vir die vrou wat glimlag en saam met hom stap van een hoek na die ander hoek en se, ‘dis so cool’ en ‘jitte, ek is mal oor ons lewe’ en ‘wow, ek is so dankbaar ons lewe nie die gewone ou boring goed nie’.

En, ‘ons is by huis, hier, op hierdie oomblik, want huis is ‘n plek, die plek waar ons op hierdie oomblik saam is’.

Donder, Frans sou verlore gewees het sonder haar.

Sy ‘muse’.

Sy vriend.

Sy ken van lojaliteit.

En liefde.

Fok weet, sy’s moontlik die enigste mens wat Frans ken wat ken van lojaliteit en liefde.

Ten spyte van alles is sy lief vir hom en lojaal, onkreukbaar lojaal.

Soveel-so, dat Frans partykeer opsetlik met haar stoei en vir haar se ‘nee, goeiste’, want hy vloek nie by haar nie, ‘dit kan nie wees nie!  Jy moet lankal gatvol wees vir hierdie onsekerheid en stoei en veg en leef van oomblik tot oomblik, jy hoef regtig nie vas te byt nie, jy skuld my niks.’

En dan glimlag sy.

En sy vertel vir hom, baie rustig, maar baie streng, ‘ek het nie kak nie en jy het nie kak nie, ons het kak, as daar dan nou kak is.’

‘Ons.  Saam.  Dis ons lewe die.  Jy’t my in niks ingedwing nie en jy’t my nerens te nagekom nie of iewers heen gesleep nie.  Alles.  Twintig jaar, van die kamertjie in Paul Kruger Rylaan, tot by hierdie vuil kombuis, hier in ‘n dorpie watse naam ek nie kan se nie, is ons sin.  Dis ons ‘memories’.  Dis ons ‘beautiful’ lewe.  ‘Weird’ en ongewoon, maar ons sin.  En dis nie kak nie.  Jy maak my kwaad as jy wil se dis kak of moeilik of minder as wat ek behoort te he.  Dis ‘amazing’.  Dis alles waarvan ek gedroom het en soveel meer as waarvan ek ooit kon droom.  My hart is baie dankbaar oor dit wat jy kak wil noem.  So die kombuis is vuil?  Vuil kom skoon en toilette word reggemaak en ‘n bietjie ongerief is niks, dis die lewe.  Ek vat eerder ‘n ‘messy’ kombuis wat ek met ‘n stukkie staalwol en seep kan skoon skrop, as ‘n ‘messed up’ hart wat met al die seep en wol nie skoon geskrop kan kom nie.’

‘Ons lewe is skoon’, speech sy hom weer vanaand, hier drie aande na hulle aankoms, op die trappies van hulle smerige huisie wat nou ook nie meer so smerig is nie, kort voor slaaptyd, in die koel aand windjie wat ‘n bietjie verligting bring.

Die kinders speel binne.

Hulle laatlam slaap.

Dis net hulle twee.

En Frans is dankbaar vir haar woorde.

Joe!  Dit kon anders gewees het.

Hy kon ‘n ondankbare teef getrou het, vol ‘demands’, wat van hom verwag het om meer te wees as wat hy is.  Een wat ge-‘worry’ is oor ‘fancy’ klere en duur karre en nuttelose kak wat gekoop kan word om in kaste stof te vergaar en vreemdelinge se siel te kapittel.

‘Hoeveel geld dink jy word gemors op kak wat iewers in kaste le en stof vergaar?’, vra hy haar.

‘Dit moet biljoene wees, ‘n hele industry gebou op die maak en vervoer en verkoop van kak wat niemand nodig het nie?’

Sy lag, en haar lag maak sy hart bly.

Hy is bly by haar.

Baie bly.

‘Happy’.

Sonder twyfel.

En sy hart is vol van dankbaarheid.

Elke oomblik, selfs nou, as hy hier sit en skrop aan ou bruin ‘grime’ met sy stukkende duim in die pienk handskoen geprop.

Soos alles, kom die staal rakkie skoon.

En die kombuis.

Stukkie vir stukkie.

En hulle lewe ook.

Stukkie vir stukkie, geskrop van seer en hartseer en misplaaste verwagtinge en sinnelose hoop en ‘stupid’ pogings.

Dis waarskynlik hoe mens lewe, ten spyte van al die advertensies en Diamond Cathedral-predikers wat ‘n ander storie ‘spin’.

Stukkie vir stukkie.

Van oomblik tot oomblik.

Skrop-skrop, om die blink wat onder alles versteek is te ontbloot.

En partykeer is daar vuil om skoon te maak, maar altyd, so tussen die vuil, is daar die liefde van iemand wat jou regtig snap, en die gasvryheid van ‘n ou Tannie wat vars boontjies met mushrooms gebraai het en omgedra het vir sewe honger vreemdelinge.

En dit, dit is goed.

Dit is ‘happiness’.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s