Betekenisvolle Sinneloosheid

Die laaste maand is onrus en hartseer op my drumpel.

Eintlik op die drumpel van mense wie ek lief het.

En daarom ook op myne.

Dis nie regtig iets nuuts nie.

Onreg, onrus en hartseer het nes geskop in hierdie wereld en homself tuisgemaak op elkeen van ons se voorstoep.

Dalk ook binne in ons wese?

Ja, waarskynlik.

Moenie die uitsluitlik-glimlaggend FB-posts en kunsmatige Amerikaanse Movies glo nie.

Hierdie lewe, hier, nou, is twee dele hartseer, een deel seer en drie dele verlies wat saam gemeng word in ‘n heerlike bredie en aan ons almal bedien word op ‘n goeie skeppie teleurstelling, saam met ‘n bietjie roomys en sjokolade sous.

Die ou wat sonder trane deur die lewe gaan is of ‘n bietjie dom, of ‘n bietjie stomp.

As jy net ‘n bietjie hart het, sal jy huil.

Dis ‘n “hostile” omgewing, in baie opsigte, hierdie aarde waarop ons lewe.

En die gegewes waarmee elkeen van ons elke dag te doen kry, is meeste van die tyd heelwat minder as ideaal.

As jy ‘n bietjie ‘happiness’ in jou hart het, dan is jy bevoorreg.

Dis ‘n fyn kuns, of dalk liewer ‘n moerse geskenk, as jy gelukkig is, te midde van alles.

My vriend se beste maat, sy ‘muse’, is dood.

Skielik.

Sy was nog nie eens naby 40 nie.

In ‘n motor ongeluk.

En kort op haar hakke, volg hulle dogtertjie haar spoor.

Na ‘n ander lewe.

Een ver van ons, wat ons ook eers sal ken, as die deur vir ons oopgaan, onverwags op die snelweg van die lewe.

Wie kan ‘smile’ oor so iets?

Wie kan nie oorrompel word deur rou hartseer nie?

Ons lewe nie met ‘n sin van ewigheid nie, en dit maak die lewe wat ons in ons hande het swaar.

Miskien, as ons ‘n groter bewustheid van ewigheid gehad het, dan het ons makliker deur daai deur gegaan en heelwat makliker gelewe aan hierdie kant van hom?

Die ewigheid is.

Dit kom nie.

Dit is.

Die heeltyd.

Deel van elke oomblik van ons bestaan.

Ek is lief vir Ray en Karien.

Die verstommende hartseer wat nou oorbly, iets wat ek myself nie kan in-dink nie.

Ek het al by vriende se grafte gestaan en huil.

Ek het al ander hartseer beleef – die lewe is volgemaak met verlies en verloor, bietjie oenskynlik voor kom, om weer deur verlies ontmoet te word, wat dalk weer deur verloor ingekleur sal word.

Een dag, ver van waar ek nou is, onwettig onder ‘n groot ou Kameeldoring boom, het ek gestaan om ‘n babatjie te begrawe in Botswana se Kalahari sand – ‘n klein wesentjie van ander vir wie ek lief is, wat gebore is met Wernich Hoffman-sindroom, verdoem om nooit te loop of leef, soos ons leef sou wil ken nie.

Dit is die naaste wat ek aan hierdie soort seer gekom het.

Ek ken nie Ray-hulle se hartseer nie.

Ek hoop ek ken dit nooit.

En ek wonder of die troos wat ek optower, hier in my eie hart se pot, of dit sal staan teen die wind van sulke seer?

Ek bou my toring, so stewig soos ek kan, want terwyl Ray-hulle rou, rou ‘n jong onderwyseres in Port Elizabeth se familie ook.

Sy is vermoor vir R1500.

Of miskien dalk nie eens vir geld nie.

Miskien dalk vir jaloesie.

Of omdat ‘n ander een haar plek wou he aan haar man se sy.

Tyd sal leer.

Maar sy is dood.

Skielik.

Wreed.

En stedelinge rou oor Pa’s en Ma’s wat ver op die plaas verkrag en verwoes is vir ‘n bakkie en ‘n droom.

Of dalk vir ‘n droom wat nooit vervul is nie.

En in townships dwars oor ons land huil dogtertjies hulle self aan die slaap.

Geroof deur monsters wat paradeer as meneer.

En ‘n gesin in Zimbabwe en Nigerie en Ethiopie sien brandende mense op klein TV skermpies flikker, hoopvol dat hulle kinders en Ooms en klein-dogters veilig sal wees, om weke later die klop te hoor.

En in Nepal dreun die aarde en teen Everest se hange sterf befaamde avonturiers om anderkant te kom, saam met armoediges wie nooit eens gedroom het van berge klim of hoogtes bereik nie, vir wie vandag se kos en vannag se warm slaap groot genoeg sukses was.

Dood kom in baie kostuums by ons deur aan, maar hy kom altyd.

En die onreg is verdoemend.

Maak nie saak hoe hard ons stoei om hierdie onvermydelike werklikheid te verdoesel nie – die deur wag en gaan altyd weer oop, elke dag, elke oomblik, vir iemand.

‘Departures’ soms ‘n bietjie bedrywiger as die ‘Arrivals’ kant.

Op hierdie oomblik is ek toeskouer.

Om in ‘n oogwink deelnemer te word.

Miskien vandag.

Miskien is ons nooit toeskouer nie?

Miskien is ek in elke oomblik deelnemer, net onbewus, want die deur wag in elk geval, en al kry ek soos ‘n Rothchild ses hart oorplantings, iewers sal ek deur die deur moet gaan.

Ek slaan my oe op na die berge.

Of waar ek dink die berge dalk kan wees.

En ek hoor stemme, van slim mense wat argumenteer oor hemel en hel, oor of god dan nou regverdig is en as hy vol liefde is, of hy hel sal maak en ander wat uitroep in wanhoop dat alles baie duidelik wys dat daar werklik geen god is nie, want sulke onreg sal god tog nie aanmekaar slaan nie, en nog wat moedeloos sug oor watse soort god sy eie seun sal laat sterf, asof sterf die grootste verlies dan is, saam met nog wat ywerig skree dat ons mos nou al slimmer as dit is, in hierdie dissonante kak-kefonie, en beter moet weet as om te wil vashou aan fabels en vertellings van antieke beskawings wat immers, in vergelyking met ons beskawing geen beskawings was nie.

So onverlig en onbewus.

Raas dit.

Sonder die geruis van hoop.

Terwyl lewendige mense brand op die strate van Suid Afrika, en die laaste hoop uitgedoof word in ‘n Ouma se wese, terwyl ‘n lid van ons beskawing haar siel geweldadig wurg met die verwoestendste skande en seer, heen en weer, en ‘n panga ‘n Pa deurboor en ‘n Onderwyser ‘n dogter deurboor en ‘n Pappa ‘n baba en ‘n rower by ‘n robot en 1ste wereld lande se ‘Fighter Jets’, soos god, ‘from a distance’, bombardeer en voet-soldate in huise in storm om kinders se vrees te bewaarheid.

Beskaafd is ons nie, en meer verlig nog minder, want die onreg wat ons op mekaar besoek het in Kain, is die onreg wat ons in hierdie oomblik steeds aan mekaar se bebloede hoofde offer.

En die deur staan en wag.

Vir elkeen van ons.

En my hoop bly skraal en my toring wankel teen die wind.

Weerlose, weerlose mense.

Op reis van peron na peron.

In ‘n miderrnag lank.

Sonder grens, sonder klank.

Ons almal opsoek na die son.

Ook ‘n jong Joodse gesin.

Lank gelede.

Toe hongersnood by hulle deur aankom.

En hulle dapper besluit om te emigreer, in ‘n tyd voor paspoorte en doane-beheer.

In die hoop dat hulle daai deur sal kan vermy.

Om te vestig tussen vreemdes.

Om net weer begrafnis te hou, sodat die weduwee en haar seuns kan voort stoei in onbekendheid.

Haar seuns se groot word darem ‘n stukkie hoop.

Hulle verlief word en trou, ‘n stukkie blydskap, weer vervang deur rou, as die arme vrou nog eens begrafnis hou, om bitter en oud terug te keer, nie huis toe nie, want ‘huis’ le begrawe in drie grafte in ‘n vreemde land se sand.  Om terug te keer na die land van haar geboorte, met ‘n vreemdelings kind aan haar sy en woordlose trane op haar wang.  Dat die vreemdelings kind, weer liefde vind en lewe ontvang.  Haar skepsel en haar DNA ingeweef in die DNA wat die Skepper wil gebruik om Self prys te gee en te word, soos ons.

En ook te sterf.

Sinneloos betekenisvol.

Sonder dat een van hulle dit weet.

In al die vlug en vrees en seer en probeer, in lewe en dood, hulle lewens gerig op iets groter.

Iets meer as wat hulle elkeen op hulle eie ooit sou kon wees.

Of sien en besef, nog aan hierdie kant.

Wat my laat wonder oor die Weste se Droom, gebore uit ‘Enlightenment’ en ‘Hervormingstryd’, van ‘ek’ in die middel van die werklikheid, die individu en sy regte verhef tot koning en koningin.

Losgemaak van ‘n groter ‘ons’.

Ek ry ‘n BMW.

Ek sal jou nie ‘n ‘lift’ gee.

En waar ek ookal kom, blaf die honde laat in die nag, en voels vlieg, en mense smag na ‘n bietjie ‘happiness’.

Opgevang in die hoop dat die klein nano-koninkrykies wat ons bou, ons sal beveilig teen die verwoesting wat rondom ons woed.

Eintlik, diep in die stilte van die middernag, wanneer tot die honde slaap, salig bewus daarvan dat die mure geen mure is nie, en Tsunamis en Aardbewings en Oorloe en Xenophobia en Korrupsie en motor ongelukke op besige binnelandse snelwee, weer en weer en weer kom.

En die deur wag.

Maar ons sien niks anders nie.

Niks anders as dit wat ons kan vashou en koop en verkoop en beheer en onderwerp en verwoes en plant en bou nie.

Want dalk, dalk net, kry ons onsself weg gebou van daai deur af.

In my fluister dit.

(s)Hy.

Of Wie ek hoop (s)Hy is.

Van buite tyd.

Terwyl ‘mighty men’ in die Karoo saam trek hou om dieselfde wysie te sing as wat hoop-handelaars in ander tale sing, in groot ‘Diamond Cathedrals’, op ander kontinente.

In my fluister (s)Hy op ‘n ander deuntjie.

‘Hierdie lewe is geskenk’.

‘Hierdie lewe is betekenisvol’.

‘Midde in al die verwoesting wat ons op onsself besoek’.

‘Want ons is’.

‘En ons sal wees’.

‘Hierdie oomblik, bloot ‘n oomblik in ‘n werklikheid, wat onderwerp is aan sy eie stukkend’.

Deel.

Van ‘n groter werklikheid.

Een wat nou is, soos die sons opkoms vir ‘n blinde.

Soos ‘n weerkaatsing in ‘n dowwe spieel.

Hierdie oomblik, reeds vervang‘.

‘Nie met hemel of hel nie’.

‘Met herskepde werklikheid’.

‘Waar wind en grond vervleg is’.

‘Waar dit reeds is, soos dit geskep is om te wees’.

‘Ons’.

‘Deel’.

‘In gemeenskap’.

‘Nie gewikkel in stryd met mekaar en met ons eie weerlose verganklikheid nie’.

‘Verweef’.

‘In liefde’.

‘Want Ek is en ek was en ek sal wees’.

‘Sonder begin of einde’.

‘Jou wees, ook nou in hierdie oomblik, ‘n kosbare bydra, tot ons’.

‘In al die verlies, van elke dag’.

‘Jou wees, ‘n onmisbare deel van die geboorte’.

Van die werklikheid wat reeds gebore is.

‘In die pyne en kontraksies van skuld en prysgee en verwerp word, van ver weg sin soek en eensaam opstaan en hooploos rou – besig om saam tot lewe te bring, die mooiste mooi wat van ewigheid reeds bestaan’.

‘Jou taak om elke oomblik, in die afgemetenheid van waar jy jou bevind, te gryp’.

‘Om die meeste daarvan te maak’.

‘Want oomblikke is getel en elke ding het sy tyd.’

‘Deur lief te he, elke kans wat jy het’.

‘En eerlik te lewe, in elke oomblik jou gegun’.

‘Deur ‘n spoor van vrede agter jou te laat, met elke tree gegee’

‘En geduldig, met vriendelikheid en goedhartigheid, getrou te wees aan My van Wie jy kom’.

‘Met vreugde, of happiness, soos jy dit noem’.

‘Ja, jy kom van My’.

‘Jy. En die brandende man sonder naam, wie se foto jy gesien het.  En die hartelose mans wie se vrees hulle oorweldig het, sodat hulle sy lewe geneem het, en die gesinne in die midde-Ooste wat een nag, sonder om wakker te word deur ‘n Amerikaanse bom vernietig is, en die Oom op sy plaas wie se tenk vol diesoliene nogsteeds wag vir ‘n bietjie reen en die Oom wat skuins agter sy groot plaas huis in daai 3 kamer gehuggie styf agter sy vrou se blad le, voor hulle more weer daai Oom se saak sal dien met skottelgoed was en beeste aanjaag en die Onderwyseres wat vir R1500 geskiet is en die mans wat aan boosheid oorgegee is en haar geskiet het en die kinders en Ma’s en Pa’s en kinderloses in Nepal en die befaamde teen Everest se kruin en Karien en Ray en hulle kindertjies’.

‘Julle almal kom van My’.

‘Julle is my wese’.

‘Soms ontkoppel’.

‘En oorgegee’.

‘Aan Adam en Eva se vrees, wat in Kain vol geword het, en in Abel se bloed teruggekeer het na droee sand’.

‘Julle is my wese’.

‘Ons is’.

‘Ek is’.

‘En omdat Ek is, is Ons’.

‘Ons is nie Jood en Griek en Christen en Moslem nie’.

‘Ons is nie Bhudis en Hindu en Ateis nie’.

‘Ons is nie wit en swart en bruin en geel nie.’

‘Ons is nie ryk en arm nie’.

‘Ons is nie geleerd en ongeletterd nie’.

‘Ons is My wees’.

‘Want aan die begin van tyd, voor tyd ‘n vloek geword het, het Ek My Wind in julle geblaas, en elke dag doen Ek dit nog, as Ek hoopvol saam met julle skep en in moederskoot op moederskoot, Ons aan mekaar weef, om Ons weer en weer gebore te laat word’.

‘Ek is daar.  Elke keer.  Ook as Abraham en sy vrou se slavin klein Ishmael tot lewe roep.  En twee tiener kinders in ‘n pienk slaapkamer tot trou kom, sonder dat hulle eens weet dis trou, omdat religie en staat besluit het daar is papiere en rekords nodig, asof Ek dalk iets sou mis’.

‘Ons is kosbaar’.

‘In elkeen van ons dele’.

‘Ons is lewe’.

‘Van die obsessiewe selfsugtige oorvloed van die Weste met sy demokrasie en humanisme, deur die antieke getemde kommunisme van die Oooste, tot by die verbruikte verdwaasheid van Afrika, is ons lewe’.

‘Ons is lewe.’

‘En ons hou nie op met lewe wees nie.’

‘Ons word meer.’

‘Ons word vol.’

‘Vol ledig.’

‘Ook in ons beweeg van een werklikheid na ‘n ander.’

‘En in daai oomblik van heen gaan, deur die deur, word ons blinde oe verlig en ons dowwe verstand helder.’

‘In daai oomblik …

‘En ons lewe voort.’

‘Nie skielik wind verwaai en kosmies gesluk nie.’

‘Ons lewe.’

‘Met al ons wind en grond vermeng.’

‘Ons almal.’

‘Want ons almal se Oorsprong is Een.’

‘En as die kis sak, en die geweld bedien word, is dit my hoop.’

‘(s)Hy van Wie ons almal kom.’

‘En ons, vervleg met (s)Hy wat is.’

Van ewigheid tot ewigheid.

2 responses

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s