Ons Twee se Storie ( so ver)

image

Sewe sakke sout, se my Tannie Annetjie op Facebook so saam met die gelukwens, dis wat ons moet op-eet.

Gisteraand sit ons in die klein Chinese Restaurant, in die hartjie van Jiamusi, in noord-Oostelike China.

Die dogters het ‘n koek gaan koop.

Die restaurantier het vir ons ‘n privaat-eetkamer gegee – en hy bring vir ons spesiale noodles.  Lang noodles, vir ‘n lang lewe, met ‘n eier daarin, om lewe en oorvloed te simboliseer.

Hy skink vir ons ‘n heildronk.

Plaaslike Jiafung bier.

Hy se iets, wat ek skat mooi en vol liefde is.  Ek weet nie, want hy se dit in Chinees, maar sy hart is verstaanbaar.

Sy gesig glimlag.

Ons vier ons lewe.

Ons lewe, saam.

Die geskenk van kombinasie.

Ons praat van 19 jaar gedeel.

Maar dis eintlik langer.

Net so ‘n bietjie langer.

Ons gedeelde lewe het nie begin op die dag dat ons voor ‘n klomp mense beloftes gemaak het nie.

Dit het begin toe ons mekaar gesien het. 

Raak gesien het. 

Mekaar se harte en wesens.

Daai onsmoorbare wete en drang om een te word, wat wakker geword het, asof ons lank gelede uitmekaar gehaal is en ‘n ewigheid gewag het om weer by mekaar te kom.

Terwyl ‘kantoufoe’ en gebraaide beesvleis op stokkies aangedra word, onthou ek hoe ek jou dopgehou het.

Twee dekades gelede.

Terwyl ek kliente bedien het in jou Pa-hulle se kos-winkel.

Ek onthou hoe ek jou geselskap opgesoek het, al was daar ‘n ander ou wat jou sy meisie genoem het.

Ek onthou die aand in die sitkamer, op die mat, in St Johnslaan.

Dit was al laat en my hartjie het vinnig geklop.

Jou lang bruin hare het oor jou skouers gehang.  Lekker geruik.  Jy’t ‘n denim aan gehad.  Gemaklik.  En so bruin wol trui met ‘n rol-nek.

Ek het jou vertel hoe jy lyk deur my oe.

En jou gese dat daar niks wonderliker vir my sal wees as om die lewe met jou te deel nie.

Ek onthou jou glimlag.

Jou ‘beautiful’ oe wat tot diep in my wese gekyk het en besluit het om my te vertrou en my te glo.

Toe is dit vir knope los knoop.

Al die knope van twee-en-twintigjarige lewens wat ontknoop moet word.

Kaler jonkers en mooie pronkers wat vertel moet word ons stel nie regtig belang nie.

‘n Woeste vuis geveg met ‘n hart-gebreekte klong.

En vriende en ouers wat verstom vir ons probeer verduidelik dat ons nog kinders is.  Dat ons oorhaastig is.  Dat ons nou wil aanpak, wat ons nie sal kan klaarmaak nie.

Hulle was natuurlik reg.

Ons was kinders.

En ons was haastig.

En ons het nie ‘n idee gehad wat ons aanpak nie.

En – ons is nog lank nie klaar nie.

Ek onthou hoe ek my Ouma Katie in Balito Baai gaan kuier.

Haar die eerste een maak vir wie ek vertel van ons voorneme.

Van ons lewe wat ons eintlik al klaar deel.

En die ou vaal goue knop ring, met die diamante, van haar oorlede derde man, wat sy gaan haal.

En haar woorde: om lief te he, en liefgehe te word is die wonderlikste, julle sal saam gelukkig wees.

Ek onthou hoe ek alles wat ek het waarvoor ek ‘n paar rande kan kry verkwansel om die juwelier te betaal om daai goue knop in ‘n mooi ring te omskep.

En die dag op Sardiniabaai se strand.

Kort op die hakke van die aand in St Johnslaan se sitkamer en nog korter op die hakke van my kuier by Ouma Katie.

Toe ek jou die ring gee, nogal op Nelson Mandela se verjaarsdag, sou ons later ontdek, en ons besluit dis tyd om vir almal te se dat daar nie keer is nie.

Die mense het saggies gefluister.

‘Sjame.  Die twee het seker oor die tou getrap. Die dat hulle so haastig-haastig troue reel.’

Mense.

Sjoe.

As ons, ons aan hulle moes steur, toe, en later, en van tyd tot tyd – dan sou ons so baie gemis het.

Ek onthou die ‘stunning’ koring gerwe wat jy by Oom Flip op die plaas gaan oes het, want daar was nie geld vir duur ruikers en ‘fancy’ rangskikkings nie.

Ek onthou die Kerkie vol mense.

Bernard, my ‘best-man’, langs my in die voorste bank, dalk meer gespanne as ek.

Vroeer die dag, langs Ascotweg se swembad, ons gesels.

Hy is my ouboet.

Hy wil my help.

‘Is ek heeltemal seker?  Weet ek waarvoor ek opteken vandag?’

Ek se ‘ja’, terwyl ek nie regtig weet nie, maar ek weet ons harte is in mekaar sin verweef.

υφαντά καρδιές

Soos ek in 300 briewe vir jou geskryf het, oor 300 dae, uit Bloemfontein.

Daai maande terwyl ek daar moes wees & jy jou dinge afhandel in die Baai.

Soos ons vir mekaar opgewonde vertel het, in Herfs-strate, terwyl ons kilometers stap en gesels en kyk na alles om ons, en kyk na mekaar se wesens, en ‘n lewe wat ons hoop om te deel.

Ek onthou hoe ek in al my 22-jarige onsekerheid oor-en-oor vir jou gese het: ek kan jou nie belowe dat ons ryk sal wees nie, of dat ons baie sal he nie – ek kan net belowe dat ek alles moontlik sal doen om jou lief te he, en die lewe te deel, in goed en sleg.

Hoe min het ek jou geken?

Want in negentien jaar was jy nog nooit bekommerd oor baie nie.

Jy’t elke dag geglo, ‘anything is possible’ – en meeste dae was jy reg, en mettertyd het jou geloof my ook besmet.

Die dat ons vanaand in Siberiese China sit en vier.

Ek onthou ons eenvoudige wittebrood op Kenton-on-Sea.  Jou Pa se ou Cortina.  My Pa-hulle se strandhuis.  Shelley Beach.  Die Blue Pool.  Port Alfred toe ry vir ‘n ‘movie’.

Om op te pak en Bloemfontein toe te mik, want ek is student.

En jy is kelnerin by Barbaras.

Onthou jy die Cortina wat moed opgegee het oorkant die soutwerke, oppad terug Baai toe?

Altyd so stukkie drama.

Ek onthou ons woonstel by Eie Haard Koshuis, in Bloemfontein.

Jitte!  Ons was darem opgewonde toe ons daai joppie kry.

Ook maar net omdat jy ‘n vasbyter is en die aand van die onderhoud met Kobus en Denise, toe ons so gesoek het na die plek, jou fiets neer gegooi het en mooi vir my verduidelik het dat ‘opgee’ nie ‘n opsie is nie.

Dankie, ‘my love’.

Jy maak my meer.

Jy maak my heel.

En toe ons klaar geswot is, die eerste 2 jaar van ons ‘getroude’ lewe in die droom-wereld van studente deurgebring, toe mik ons Kalahari toe.

‘n Nuwe avontuur.

Nog een van baie wat ons nie kon verwag of van droom nie.

Om op die droee oewer van die Molopo-rivier nuwe mense te leer ken.

‘n Ander manier van lewe.

Om Theunsie te ontvang.

En Wilhelmina.

Ons eerste perde.

Onthou jy nog hoe ons vir Poon en Appel van Tosca af laat kom het?

En jou saal wat ons in Bloemfontein gaan koop het, met die groen kredietkaart, oor 6 maande?

En Dolf en Binty wie se Bloemfontein-huis ons stads-huis was, waar ons elke ses weke gaan kuier het, om voorrade te koop en in ‘n restaurant te gaan eet?

Of af te pak vir weke aaneen, in die laaste oomblikke van swanger wees, omdat Bray net te ver is en die grondpad net te lank.

Ek onthou die seer in my hart toe die groot groen lorrie die dag voor ons asbes huisie opdaag.

Om ons goedjies weer Baai toe te vat.

En die matras-slaap in ‘n huur-huis met baie hoop in ons hart dat ons ‘n spesiale plekkie sal kry wat ons ‘huis’ sal kan noem.

En die half-klaar houthuisie op die koppie wat Danie & Xandre se bure eintlik net wou verhuur, wat ons toe koop.

En klaar maak.

En heelmaak.

En vernis.

Weer.

En weer.

En nog ‘n keer.

Sophia wat haar opwagting maak, uit die bloute, en Jan Plank wat soos enige goeie bouer net nie klaar kom nie.

Onthou jy die vloed van 2006 se winter?

Wat ons klaar verrineweerde grondpad heeltemal weggespoel het?

En die krag wat dae lank af was?

En die gasbottel wat ontplof het?

En die jaag met die Landy na St Georges Hospitaal in gietende reen, met geen vrees vir ‘n pad wat nie meer is nie?

Daai vloed was soos ons lewe, 10 jaar in die pad af.

Toe’t ons gedink 10 jaar is ‘n leeftyd.

Nou’s Theunsie op vyftien al Theuns en hy het genoeg moed en ‘sense’ om vir homself ‘n 13, 000 km reis te reel en te onderneem, sonder teenspoed, om ses weke in Afrika en Familie se son te wees.

Onthou jy ons reis na Augrabies?

Oor Oudtshoorn?

Langs die Weskus op.

Dit was darem ‘n lekker ‘trip’.

Sonder plan.

Kom ons ry.

Waarheen gaan ons?

Ons sal sien.

En ons laai die tente.

En ons vat die pad.

En ons sien Pella en klein-Pella.

En ons tente staan nog twee weke langs massiewe rots ‘boulders’, waar die Bobejane elke oggend kom sit en kla oor Theunsie se hondjie wat ons die reservaat ingesmokkel het.

Ons harte was darem stukkend daai tyd.

Die eerste grootste mislukking van ons lewe.

Sonder werk.

Sonder familie.

Sonder vriende.

En die bietjie geldjies en goedjies wat vinniger opraak as wat mis in die oggend voor die son verdwyn.

Jou Golfie en die erwe wat gesmous word, sodat ons huis-paaiemente kan bybring en kos kan koop.

Trane gestort en God gevloek op die klein badkamer-vloer in OppiKoppi se huis, sodat ons kinders nie sal sien nie.

Te vergeefs.

Want kinders weet, sonder woorde.

Dis voor ons geweet het.

Van die ritme van ‘Loss & Gain & Loss Again‘.

Maar ons – ons het nie te sleg gedoen nie.

Jy’t gese ons moet Kalahari toe, al is dit net vir ‘n paar dae.

En die Fletchers het vir ons opslaan plek gegee vir ons tente, in hulle wild-kamp.

Met ons laaste paar rand het ons brandstof ingegooi.

En gery.

En ontsnap.

Astrix & Obelix boeke vir die kinders gelees, langs die vuur-pit wat ons vriende altyd aan die brand gehou het.

By Sarel & Cia gekuier.

En Thinus & Iris.

Johan & Blanche.

Rex en Ezette.

Vriende wat ver was, maar vriende nietemin, op die manier wat saak maak.

Altyd naby aan die hart.

Daar droom ons weer, met leeus wat brul in die agtergrond en Kameelperde wat duskant die kamp-plek wei aan die groenste sagste blaartjies in die hoogste takke.

Omdat ons, ons is.

En ‘ons’ meer is as twee.

Ons droom van ‘LifeGate’.

Van deel, met ander, hoop waarvan ons weet, maar wat ons nog nie ken nie.

Dan is dit terugkom, na OppiKoppi, weke later, net voor Krismis, omdat mens nie vir altyd kan wegkruip nie en opstaan belangriker is as val.

Manie, wat my help, deur my te vra om hom te help.

Nuwe vriende ontdek.

En dat dit onmoontlik is om deur die lewe te gaan, sonder vriende wat by jou in-haak.

Dat dit okay is, want ons almal het iewers iemand nodig om ‘n sambreel vir ons vas te hou.

Nuwe dinge aanpak.

‘n Radio Stasie.

‘n Tydskrif.

Ver van ons drome se prentjie.

En tog deel van ons drome, want niks wat ons doen, of beleef, is eensaam nie.

Alles is in mekaar in geweef.

Deel van ‘n vloei.

Oppad.

Soos Traveling Tribe.

Waarmee ons kon uitdrukking gee aan ons Wanderlust.

Van naweek tot naweek en lodge tot oord tot dorp tot vakansie-plek, dwarsoor die Oos-Kaap.

Vir ‘n lekker rukkie.

Elke oomblik kosbaar.

Soos oomblikke altyd is.

Net lank genoeg.

Om ons te bring by ons nuwe avontuur.

Van huis oppak en meubels verkoop, om kaartjies te koop en ver te gaan, om te studeer en te leer en te onderrig.

Twee dekades is beautiful.

Daar buite het baie verander.

Tegnologies.

Sosio-polities.

Ekonomies.

En hier binne in ons harte.

Geestelik.

Emmosioneel.

Ek is eintlik nog maar daai twee-en-twintigjarige outjie wat so graag die lewe met jou wou deel.

My lyf is net bietjie ouer.

My hart ‘n bietjie dankbaarder.

Want ek weet daar is geen waarborge nie.

En ons is gelukkig.

Dat ons die heeltyd bymekaar inhaak.

Mekaar aanspoor.

Mekaar om-arm.

Ek is die gelukkigste.

Dat jy my vol-ledig maak.

Dis nie twintig gewone jare nie.

Dis op die rand.

En sonder norm.

Daar is nie ‘n netjiese Sunridge Park huis, met ‘n swembad in die agterplaas, en ‘n dubble motorhuis, en ‘n TV-kamer en ‘n braaiplek nie.

Daar is nie langs die veld staan en skree vir ons seun terwyl sy Rugby-span gaan vir ‘n drie nie.

Ook nie kinders aflaai by dagsorg en rondry na buitemuurse aktiwiteite nie.

Daar is nie twintigjaar se vorder in ‘n netjiese beroep met klim en klim teen ‘n mooi geleunde leer nie.

Maar daar is so baie meer.

Ek is so dankbaar dat jy hierdie baie meer saam met my geniet.

Nooit myne en joune nie.

Wie stry nou oor ‘n ou Telefunken TV wat so stinkerig rokie maak elke keer as hy aangesit word?

Onthou jy die video-speler wat ons by Morkels gaan koop het?

Daai groot swarte?

Met die wielietjie op sy ‘remote’, wat ons kon stel om weke vooruit op te neem?

En opwinding toe ons die Ikon in-ruil op die Defender?

Ons het darem die Suide van Afrika plat gery met daai Landy.

Al waar ons nie uitgekom het nie was Natal.

Maar dit sal dalk kom.

Hoeveel keer is ons met die Landy oor ponte?

Dit bly vir my spesiaal.

Beter as ‘n brug.

Soos trein ry beter is as vlieg.

Dit was ‘n lekker ‘trip’ wat ons van Pietersburg af Bloemfontein toe gemaak het, toe dit so gesneeu het, en ons so lekker ge-eet het in die eet-wa.

Jitte.

Dit is beautiful.

Alles wat ons gedeel het.

Alles wat ons geword het.

Wat ons geniet het en verloor het en ontvang het.

Die lekkerste is dat hierdie oomblik, hier, vanaand, in hierdie klein restaurantjie, hier in Jiamusi – dat dit net ‘n oomblik is, langs die pad.

En die pad le nog voor.

En ek kan uitsien om dit met jou te deel.

Dalk met ‘n oomblik in Taiwan en een in Thailand en nog een in Spanje en ‘n ander in Argentinie.

Wie weet.

Dis ook deel van die lekker.

Want in elke oomblik word ons breer, wyer.

En in elke oomblik is ‘happiness’, netjies geraam met liefde & vrede.

‘Beautiful’.

Dis ‘beautiful’.

2 responses

  1. Dit is nie net beautiful vir julle nie, maar ook vir ons wat elke nou en dan deur die venster kyk en sien hoe julle saam wees, ‘n kunswerk vleg.
    Dankie vir die spesiale oomblikke wat julle ook met ons deel. Hoop die vloei van die volgende paar jaar bring meer en meer dankbaar oomblikke.

  2. Ai, ai, ai, nou is my oë sommer vol trane. As iemand nie 53 jaar gelede, my liefde, my jeugliefde, my enigste liefde van my gesteel het nie so my verhaal seker vandag net so mooi gewees het. Baie geluk en mag julle liefde altyd blom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s