Ou Fotos en Nuweres

image

Elke Oomblik is ‘n Geskenk.

Elke oomblik verstommend kosbaar.

En as ons ‘n oomblik kan neem om ons oomblikke te sien, dan proe ons die smaaklikheid van lewe in oorvloed.

Dis eintlik op my Sevencitys-blog dat ek skryf oor ‘Die Weg van die Geskenk‘ ( 礼品之路 – Lǐpǐn zhī lù ), maar vandag, as ek die oomblikke van ons lewe soos ou foto’s optel, met my lomp vingers voel en vryf, asof iets van daai oomblikke se growwe tekstuur onder my vingerpunte gevoel sal word, wil ek in Afrikaans hieroor praat.

Dis Desember.

Op Facebook en Twitter sien ek hoe familie en vriende water se kant toe staan.

Kenton-on-Sea.

St Francis Baai en die Kromme Rivier.

Almal is verlig.

Moeg na ‘n jaar.

Bly oor ‘n oomblik om te ontspan en te geniet en net te wees.

Ons sit in China.  In die yskoue noord-ooste.  Buite is dit wit gesneeu.  Die ‘weather-app’ herhinner ons om 7 lae klere aan te trek as ons markie toe wil gaan vir ‘n paar wortels, ‘n roomys en ‘n botteltjie bier.

Hier is ‘Jingle Bells’ en ‘Hark the Herald Angels Sings’ aangenaam afwesig in die winkels en op die radio.

China het ‘n ander ritme.

Hier mik hulle vir ‘Spring Festival’, elke jaar op ‘n ander tyd, so saam met die maan.

Verlede jaar einde Januarie.

Die jaar, middel Februarie.

Dan kom gesinne bymekaar.

Kuier.

Eet.

Vertel van die afgelope jaar se bedrywighede.

Doen al die dinge wat ons gewoond is om te doen, in Desember, oor Krismis, by die see.

Hulle oomblik.

Om te ontspan en te geniet en net te wees.

Oomblikke is belangrik.

Maar as ons ‘oomblikke’ afgewater is tot ‘n enkele waterige ene, een keer ‘n jaar, dan is ons lewe arm.

Ons jaar was vol oomblikke.

Desember het ons, ons hout huisie op die koppie opgepak, ons meubels op ‘Colonial Furniture’ se trokkies gelaai, sodat iemand anders dit kan geniet, en ons tasse in Wouter se Fortuner gelaai.  Bloemfontein toe gemik.  Na Dolf en Binty.  Om visums finaal uit te sorteer.  Ons het ‘n paar keer tussen Bloemfontein en Johannesburg gery.  Iewers vir Shelley vinnig gesien.  En die ‘Johannesburg Zoo’ besoek.

En toe die 29ste op Etihad ‘flight 7209’ oor Abu Dhabi geklim om die aand van die 30ste, na 24 uur se reis, in ‘n verskriklike koue, stormagtige Jiamusi te land.

Dit was ‘n ‘beautiful’ oomblik.

Al 7 van ons, sak-en-pak, op reis na die onbekende.

‘n Oomblik gevolg deur ‘n klomp ‘beautiful’ oomblikke.

Om nes te skop in 2 klein woonstelletjies op die 6de vloer van ‘n 1970’s-woonstel gebou, met ‘n ‘view’ oor die dakke van 10 ander soortgelyke woonstelgeboue.

Om klas te begin gee.

Vir meer as een-duisend-twee-honderd siele, elke week.

Om markies en markte en winkels en stalletjies te ontdek, met goedere wat onbekend is, ge-‘label’ in taal wat ons nie kan lees of verstaan nie.

Om tempels en kerke in hierdie vreemde land te besoek.

Om mense te ontmoet.

Vriende te ontmoet.

Te lees.

Nie die ligte musiek van stories en vermaak nie.  Die swaar, diep, betekenisvolle wysheid van antieke wysgere wat dalk ‘n breeer begrip gehad het van lewe en vreugde.

Om te trek na ‘n ander woonstel, nie met ‘n groot groen Stuttafords-trok, soos toe ons daai keer van Bray af Baai toe pad gevind het nie, maar met twee 3-wiel fiets-waentjies en twee verslete Chinese Oompies wat ons paar goedjies die 6 vloere afdra en aanry om weer 5 vloere op te dra, na ‘n bietjie meer spasie, met ‘n effe ander ‘view’.

Om met die ‘ferry’ ons fietse ‘Willow Island’ toe te vat en na die anderkant te ry, waar die groot Heilongjiang-Rivier stiller is en te swem, terwyl dit somer is en oppad terug op een van die plasies, onder ou koelte bome, kos te eet wat ons nie kon bestel nie, maar verassend lekker was.

Om Dolf en Binty se kuier te he.  Hulle die ‘Children’s Park’ en ons gunstelling restaurant te gaan wys.  Saam met hulle verjaarsdag te vier.

En ‘n maand of wat later, in hulle afwesigheid, ons Wilhelmiena se baie belangrike 13de verjaarsdag te vier met ‘hot pot’ en onthou en verseker en belofte.

Om Shuangyashan toe te gaan.

En Fuyuan.

Om trein te ry.

En bus.

En taxi.

En fiets.

Om een aand, saam met Zuko te sit en gesels, terwyl sy nog ‘n heerlike ete skep, en by haar te leer ‘ons is nie ver van die huis af nie, ons is by die huis’.

Ons lewe is nie veronderstel om geleef te word na enkele oomblikke, een maal ‘n jaar nie.

Terwyl ek die foto’s van hierdie jaar se oomblikke tussen my vingers vryf, besef ek dat ek nie moeg is nie.  Ek is nie op en uit asem nie.  Klaar van afwagting en vasbyt vir daai bietjie verligting nie.

Die lewe is verligting.

En onder die nuwe foto’s van hierdie jaar se oomblikke vroetel my vingers ou foto’s uit.

Van ander oomblikke.

‘n Oomblik by my Sussie en Frank op Harrismith.

‘n Oomblik saam met Andries op ‘n groot Irsih Pony, in gietende reen, in Ierland se platteland.

‘n Oomblik, wat my hart op ‘n nuwe manier laat sien het, by L’Abri, net buite London.

‘n Oomblik saam met Bernard en Tracey en ‘n pasgebore Theunsie op ‘n stoep, by ‘n huis in Bryanston.

‘n Oomblik saam met my Pa.  Ingehak by hom, om sy huis te bou.

‘n Oomblik by Dolf in sy studeerkamer.

En een saam met Beate, met ons voete in die Kalahari se warm sand.

En een saam met Doc Odendal in sy kombuis oor Pasta en rooiwyn.

En een saam met Awie en Annamarie, op hulle plasie se stoep, met ‘n vuur wat brand en ‘n varsietjie op die lippe.

En een saam met Jaap en Estelle en Carmen en Lont, langs hulle swembadjie op Sonning.

En ‘n ander een saam met Adrian Nel en sy lewensmaat William in Pizza Palace, in Newton Park, met Spaghetti Bolognaise en mooi woorde.

Baie oomblikke.

Saam Danie & Xandre op Klein Uitvlug.

Nina-hulle se troue onder die druiwe trosse.

Will se troue by Apron Strings.

Saam met Wouter en Jacqui en Alan en Tanie op die Kromme en Southern Hills.

Saam met Melvin en Sonja op OppiKoppi se dek.

Pasta saam met Jane en Gary.

‘n Vleisie en roosterkoek op die kole saam met Reza en Melissa en Ken en Tammy.

‘n Oomblik op Niue Bethesda.

En een in Graaff Reinette.

‘n Oomblik saam met Hadassah en Deborah en William in ons groen vallei van Engele.

‘n Oomblik, saam met Zuko, in die saal op Poon en Appel, op Sardinia Baai se verlate strand en op die spoor van ‘n trop Buffels op Jan du Preez se plaas, op die droe oewer van die Molopo Rivier.

My hande is vol kosbare oomblikke.

Wat nooit weer gehe kan word nie.

Want Adriaan en Doc Odendal en Awie het al anderkant toe gestap.

En Poon en Appel is albei vergaan om nooit weer ons eerste perde te wees nie.

En tyd wag nie.

Verlies en wins, ‘loss and gain and loss again‘, die mooiste ritme van die lewe.

Dit gaan verby.

Om aan te tik na nuwe oomblikke.

Op nuwe plekke.

En, in die woorde van ons kleine dapper Maddi: ‘dis okay’.

Elke een ‘n geskenk uit die hand van die Geskenk.

Die Weg.

Die Waarheid.

Nie iets wat gebruik kan word om te dryf en mee te slaan nie.

Iemand.

Wie lewe gee.

In die begin.

En in elke nuwe begin.

Wie vreugde raam met liefde en vrede.

En soos ek die ou foto’s en die nuwer foto’s van kosbare oomblikke eenkant sit, word ek aangemoedig om nie een oomblik te mis nie.

Met stress en stoei en veg en oorleef en ‘aspire’ en ambisie en bymekaar maak en vrees en teleurstelling nie.

Ek word aangemoedig om elke oomblik te sien.

Te beleef.

Te proe.

Om kleine Magdalena aan die slaap te sus.

Om laat aand met my Theunsie te gesels.

Om saam met Sophia te speel en na Wilhelmiena se stories te luister.

Om saam met Zuko te gaan stap en haar warm lyf teen myne te voel, my hart vermeng en verryk met hare.

Om saam met Beate die ‘WKRP in Cincinatti’ van klasgee saam met Amerikaners en Chinese te proe.

En vroeg oggend koffie te drink.

En dalk later Haerbin te gaan ontdek.

En weer nuwe vriende te ontmoet.

En miskien iemand te help om die Geskenk van Vreugde te ontdek.

En soos ek aangemoedig word, wil ek jou ook aanmoedig: vat ‘n oomblik en sien die oomblikke en besluit in jou hart om nie vir net ‘n enkele oomblik te leef nie, maar te leef, vol, van oomblik-tot-oomblik.

Kosbare oomblik tot kosbare oomblik.

Want elke oomblik is kosbaar.

Elke dag volgemaak met die Geskenk van kosbare oomblikke.

Te veel om te vertel.

Genoeg om gelukkig te wees.

Miskien as ons die foto’s van elke dag se tien-duisend kosbare oomblikke vashou, val die swaar bagasie van teleurstelling en kwaad en ‘minder-as-wat-ek-wou-he’ en ‘anders-as-wat-ek-wou-he’ en ‘beleefde-verraad’ en ‘verkrampte-verwyt’ uit ons hande uit, omdat daar nie meer plek vir hulle is in hande oorvol van die Geskenk se mooi geskenke nie?

En dan is dit makliker om te geniet en lief te he.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s