Sy is Gebore in ‘n Hospitaal in Bloemfontein

image

Dit was somer in Afrika.

2001.

‘n Wereld baie anders as die een waarin ons vandag lewe.

In baie opsigte.

Zuko, Theunsie en ek het die lang stofpad van die Kalahari af na die Vrystaat aangepak.

Ek was predikant by die NG Kerk Onder-Molopo.

Zuko het die mooiste swart en wit wildlewe fotos geneem, met die hand ontwikkel en danksy my broer gesmous in Johannesburg by vooraanstaande intereur-winkels.

Theunsie was ons eerste.

Hy was maar skaars twee jaar oud.

Ek en Zuko was dertig.

Vasberade.

En seker van so baie dinge.

Ons asbes-huisie het koelte gevind in die skaduwee van ‘n baie groot, baie ou Kameeldoringboom.

Die ritme was stadig en ons was omring deur die mooiste mooi mense.

Jaap en Estelle op Sonning.

Sarel en Cia en Ouma Suz.

Awie en Annamarie.

Johan en Blanche.

Ezette en Rex.

Thinus en Iris.

En in Bloemfontein het Dolf en Binty en Beate altyd vir ons gewag in Donald Murray Rylaan.

Nie net as ons baba’tjies verwag nie.

Dan ook.

Maar sommer elke 4 of 6 weke as ons padvat stad toe om fliek te kyk en kos te eet wat iemand gekook het wie ons nie ken nie.

Sy is gebore.

In ‘n hospitaal in Bloemfontein.

Ons eerste dogter.

In tussen het Sophia en klein Maddi ook hulle opwagting gemaak, ons bende wat groei en groei.

Oupas en Oumas en Tannies het van die Oos Kaap af pad gevind om haar te ontmoet en ons vreugde deel.

En so bietjie daarvan te probeer steel ook.

Ouma Santie het saam met ons terug gery Kalahari toe.

Om bietjie tyd saam  met Wilhelmina te he.

Wilhelmina het ons haar genoem.

Na Zuko se ma.

Sussanna Wilhelmina Elizabeth De Waal Human.

Ons het volstaan met Wilhelmina.

Sy is gedoop.

In Port Elizabeth.

Sonder te veel drama.

En toe sy skaars 6 maande oud is, toe pak ons ons Kalahari huisie op, groen lorries wat ons goedjies skuif.

Na ‘n half-klaar hout huisie op ‘n lankal klaar heuwel wat uitkyk oor woud en vallei en oseaan.

Hier het sy leer loop.

Leer praat.

Leer verloor.

En huil.

Hier het sy saam met ons tuin gemaak.

Hondjies en kraaie en meerkatte begrawe.

Vulletjies met die hand groot gemaak.

En hiervandaan het sy saam met ons die wereld vol gery, na plekke en mense wie ons lief het.

Saam met ons het sy vir Sophia verwelkom.

En baie later vir kleine Maddi.

Hier het sy saam met ons drome sien te pletter val en nuwe drome gebore word.

Sy’t kamers geverf.  Fondasies reggemaak.

En groot geword.

Sy’t saam met ons die hout huisie opgepak.

Weggegooi.

Verkoop.

Haar leeftyd onthou.

Kosbaarhede in die dak weggesteek en totsiens gese, sonder om te weet wanneer siens weer sal wees.

En op ‘n vliegtuig geklim.

Om van Afrika se groen die pad te vind na China se sneeu.

Ver.

Van alles.

En almal.

En gisteraand het ons haar dertiende verjaarsdag gevier.

Ver weg van al die Oupas en Oumas en Tannies wat dertien jaar gelede so ver gery het om haar te ontmoet.

En sy’t ons vertel van haar waardes en wat sy waardeer.

Familie.

Vriendskap.

Eerlikheid.

Lojaliteit.

Hospitaliteit.

Mededeelsaamheid.

En liefde.

Dis wat sy waardeer en waaruit sy waarde gee aan die lewe.

Op dertien ontvang die kinders van ons ‘Tribe’ vryheid.

Die vryheid om vanuit hulle waardes en dit wat hulle waardeer, verantwoordelikheid te neem.

Vir hulle self.

Sonder ons wat hulle jaag en dryf en dwing.

Dis ‘n groot oomblik.

‘n Oomblik wat ons graag sou wou deel met spesiale mense.

Maar julle is te ver.

Sommige in hart.

Ander in geografie.

En ons klein ‘Tribe’ het bymekaar gekom.

By ‘n ‘HotPot’-restaurant.

En Wilhelmina het ons vertel.

En ons het onthou.

Die wereld waarin sy gebore is.

En die wereld waarin ons nou leef.

En ons het hoop uitgespreek.

Mooi hoop.

Vir ‘n mooi lewe, gedeel, in ‘happiness’ wat geraam is met liefde en vrede.

Ons het ons Pippin herhinner aan ons Oorsprong, uit Wie ons is.

Ons Oorsprong wat die Gewer is.

En die Geskenk.

En in my hart het ek diep gesug.

Die woorde gefluister dat sy altyd een met ons Oorsprong sal wees.

Nie op die kommen, kraglose, kerklike manier van Christene wat leef in ongelukkigheid nie.

Op die manier wat skaars is.

Uit ons Bron.

Elke oomblik ‘n gebed.

Elke belewenis ‘n loflied.

Elke verlies ‘n gang na groter spasie, om te word  meer van dkt wat sy geskep is om te wees.

En laat aand gesels ek en Zuko.

En ons weet tyd vlieg.

En ons weet, voor ons ons oe uitvee is kleine Maddi, nou skaars twee, ook dertien.

En ons weet dit sal ‘n ander wereld wees.

Netsoos hierdie een, nou, gans anders is as die een waarin Wilnelmina gebore is.

En ons weet, in al die verlies is daar vermeerdering wat weer by verlies sal kom, om plek te maak vir meer.

En ons is dankbaar.

Onuitspreeklik dankbaar.

Vir ‘n lewe, net so bietjie minder normaal.

En ons is gelukkig.

Onuitspreeklik gelukkig.

In ‘n lewe, gedeel, in vrede en onvoorwaardelike liefde.

Met mekaar.

En ons ‘Tribe’.

En ons familie.

En ons vriende.

En ons is hoopvol.

Want in eenskap met ons Oorsprong, lewe ons.

2 responses

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s