Ons Trek!

image

Die afgelope naweek het ons lekker in die Gamtoos en Baviaanskloof gekuier.

As jy die storie van ons kuier wil lees, dis nou wel in Engels, maar wat, jy sal dit ook oorleef – jy kan hier gaan kyk: our Africa.

Hier wil ek ‘n ander storie vertel.

Een wat Noel Isaacs ons vertel het, so oor ou bergpasse, boesmangrotte en Rooi Wal se swemgat deur.

Dis hoeka hy, op die foto hier-bo, saam met Wilhelmina en Sophia by die boesmangrot, kompleet met tekeninge en antieke pyl punte.

Iewers tussen in was daar ‘n eskepade met ‘n grysbaard bobejaan mannetjie ook, maar dis ander dag se storie.

Noel is van Coleske se mense.

Dis waar hy groot geword het.

In die kloof.

Sy Oupa is eintlik van Sewewaters of Sewefontein of Sewe iets, daar was soveel plekke se name, ek onthou nie so mooi nie.

Wat ek wel onthou is Noel se storie van die egpaar wat lastig geval was deur die tokkelossie.

Jip, die mense van die kloof glo aan die tokkelossie.

En soos dit vir my klink is die tokkelossie nie ‘n enkele kallant nie, maar ‘n versamelnaam vir ‘n soort skepsel wat moeilikheid bring.

Hy is klein en swart en stuitig, verduidelik Noel.

Eiesinnig.

Vasberade.

En venynig.

So kla die klong by die boer van Coleske dat hy moeilikheid het by die huis.

Hy wil nie meer op Coleske bly nie.

Hy wil liewer terug Sewe-iets toe.

Die boer moet sy wa en trekker gee dat die huisraad oor die pas kan gaan.

Maar die boer het nie sin aan die klong se praatjies nie en die klong byt maar vas.  Jy kan ook mos darem nou nie vort sonder jou dresser of kooi nie.

Die moeilikheid bly egter.

Elke aand raak dit erger.

Tot die boer eendag die klong vra wat die moeilikheid is, want elke aand se moleste krap die werf om en die mense van Coleske praat.

Dis toe dat die klong met die sak pattats na vore kom: dis die tokkelossie.  Hy’t opgedaag by sy huis en aangedring die vrou van die huis is sy vrou.  En elke aand wil hy kos he en na aandete allerhande ander goed wat ‘n man nie sommer met sy vrou toelaat nie.  En dit loop op vegtery uit.  En die tokkelossie raak al hoe driftiger en moeiliker om te keer, soveel so dat bed en tafel al geskei is en huis en haard nie meer na huis voel nie en die klong is moeg in die oggend en dit affekteer sy werk en die kinders huil die heeltyd, want elke aand is daar net baklei.

En so stem die boer maar in dat die klong die wa en trekker kan kry en oor die pas Sewen-iets toe koers kan kry, want wie wil tog nou met ‘n tokkelossie meeding vir sy eie vrou en nagte deur veg om huis en haard weer bymekaar te bring?

Die wa word gehak.

Huisraad word gelaai.

En die klong en sy vrou en hulle drie kleiner klonge is oppad.

Vol hoop dat as hulle op Seweniets nesgeskrop het, dan sal hulle moeilikheid op ‘n einde wees.

Afskeid is geneem.

En soos die trekker en wa oor die derde hoogte die pas uitklim hoor die drywer hier agter hom tussen die huisraad ‘n gestoei.

En as hy omkyk, dan val ‘n kassie links en ‘n tassie regs en onder die meubels uit kom ‘n klein veneinige wesen uit, met triomfanklike op sy lippe die uitroep: jippee, ons trek!

Ons trek ook op die oomblik.

Van sonnige Nelson Mandela Baai, na sneeuwit Jiamusi in die noorde van China.

Noel herhinner my: ons tokkelossies trek saam met ons.

Waar ons ookal gaan.

So ek moet liefs my tokkelossie nek omdraai.

Hier.

Nou.

So gou moontlik.

Self.

Anders kom hy dalk ewe opgewonde saam met ons tasse op Beijing se lughawe, al met die bagasie karousel langs aangery.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s