sonder om te weet

ruth cloud

Soms, sonder om te weet, het ons lewens sin.

So glo ek.

In die gewone gang, die lewe en hartseer, die strewe en smart, en hoop en hê en verloor en vind, in die probeer oorleef en doen.

Ek sien dit weer-en-weer in stories vertel.

Ek sien dit nog ‘n keer in ‘n kort verhaal.

 

Dit begin op twee plekke.

Op twee tye.

In Moab is ‘n dogter gebore.

In Bethlehem ook.

Rut & Naomi.

 

In Bethlehem blom die liefde.

Naomi en Elimeleg kom tot trou.

‘n Seun word gebore.

En kort daarna nog een.

Die vreugde is groot.

Die opgewondenheid.

Die oomblik.

Die hoop.

Gesin.

Liefde.

En soos ons almal, word gelewe.

Gestrewe.

Gewerk, ge-eet en gespeel.

En dan die droogte, die huis van brood leeg.

Die hoop min.

En Elimeleg oortuig sy Naomi: ons moet gaan.

Nuwe heenkome.

Na Moab.

Daar is kos.

Daar is hoop.

Ons kan sorg.

En hul gaan.

Meegesleur.

Omstandighede die gids wat lei.

Oorlewing die kompas.

Maglon & Kilion in tou.

Jong seuns, skaars nog 10 jaar oud.

Miskien so 7 en 9.

Deur hoop gedryf.

Hoop dat dit beter sal wees.

 

En so leef ook ons.

Omstandighede die gids wat lei.

Oorlewing die kompas wat rigting aandui.

 

Ek sien geen hoër roeping.

Geen edel begeerte om te doen wat reik na sterre.

Om te wees wat meer is as man vir Naomi en Pa vir sy seuns.

Om te sorg.

 

En dan die dood.

So skielik.

So kort nadat heenkome is gevind.

En wat moes wees ‘n heenkome word ‘n hel.

Weduwee.

Alleen.

Selfs sonder familie of verlosser.

Gestrand.

 

Die verhaal is gestroop van besonderhede.

 

Hoe sy leef en sorg en doen, dit weet ons nie.

Kop bo water word gehou.

En seuns word mans.

En mans word dol verlief.

En trou.

En twee geskiedenisse word vervleg.

Op twee tye begin.

Wêrelde appart.

Sonder om te weet dat lewens ooit sal paaie kruis.

Dat môre een gedeel sal wees.

En vreugde blom.

En hoop op vlam.

En lewe word geleef.

Die gewone gang.

Strewe.

Hê.

Vind.

Probeer oorleef en doen.

En smart.

Altyd weer.

Nog ‘n keer.

Meëdoënloos op besoek.

Twee seuns wat sterf.

Nog weduwees.

Hierdie twee se skote leeg.

Sonder kind of kraai.

Onvervuld.

Beloftes gehou: tot die dood ons skei.

 

Dit is te veel.

Die smart.

Die seer.

Die verlies en verlore.

Eers hongersnood in haar geboorte plek.

Ontwortel en verskuif.

Geen kontak meer met bekende harte.

Alleen, verlate – oor begin op vreemde plek.

Dan dood.

En wanhoop.

En nog dood.

Drie maal by die graf.

Geen wonder bitter borrel in haar hart.

 

Watter sin?

Watter sin het die swaar?

Watter sin die seer?

 

Waar is die God?

Die een van gendae?

Die een wat liefde is?

Wat tel elke haar op my kop en weer-en-weer verseker: kyk na die voëls van die hemel, hulle saai nie en hulle maai nie en tog …

Tog?

Tog ontwortel.

Tog te vroeg begrawe.

Tog die dood soos plaag op haar stoep.

 

In Bethlehem gaan dit beter.

Daar is weer kos.

Oes op die land.

Brood in die oond.

En sy besluit om terug te keer.

Geen Goddelike inspirasie.

Geen skrif teen die muur.

Nie geskryf met engele hand.

Die skrif is die omstandighede.

Vasgevang.

Te oud om weer te trou.

Te oud in hart teleurgesteld.

Die hoop en opgewondenheid – soos vlieë geslaan.

Weg.

Vir altyd.

Los my net.

Dat ek maar gaan.

Julle is jonk.

Julle kan weer vind ‘n man en kind.

Julle kan nog leef.

Vir my?

Vir my was dit net smart en seer – meegesleur van donker storm tot bitter nag.

Maar Rut sê nee.

Vasberade nee.

Ek kom saam.

En so word Rut ontwortel in haar eie seer.

Nie oor hongersnood of hoop op oorlewing nie, maar uit oortuiging dat sy is, vir altyd vasgemaak aan haar man.

En sy ma.

En sy gaan.

En sy leef.

‘n Vreemdeling.

En sy vind in Bethlehem ‘n ander een.

En ‘n kind.

En ‘n klein bietjie geluk.

En die kind, die baster kind, hy is die Oupa van ‘n Koning.

Dawid.

Groot en sterk.

En uit Juda kom die Seun.

Die Woord tot mens gekom.

God met ons Immanuel.

Onbewus, sonder om te weet, strompel Naomi & Rut voort.

Meegesleur deur honger & dood.

Deur seer & smart.

In hoop op net ‘n bietjie.

‘n Bietjie vrede & standvastigheid.

En in hul vlug en vind en staan by graf, weer-en-weer, maak hul lewens sin.

Betekenis.

Om deel te wees van Christus koms.

En dis my hoop.

Dat sonder om te weet, daar sin kan wees.

In die gewone gang, die lewe en die seer, die strewe en die smart, en hoop en hê en verloor en vind.

In die probeer oorleef en doen.

Die huil.

En hyg.

En hoes.

Die sinnelose verslaenheid nie so sinneloos tog nie.

 

Geen idee.

Rut & Naomi.

Deur alles heen.

Van Dawid of Christus wat sal kom deur hulle lewe heen.

 

En miskien.

Deur my lewe heen?

Ook iets van betekenis?

Al is dit klein en onbekend.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s