Afro-Pessimis

Sedert Afrika Dag broei dit in my gemoed.

Gedagtes oor die wereld waarin ek myself bevind.

Die kontinent waarop ek gebore is, omdat eeue gelede, my voorsate uit Europa en Ierland hierheen gevlug het.

In die tyd toe Afrika die gebied was wat verower moes word, gedryf deur industrialisasie se honger vir grondstowwe om te verwerk en kapitalisme se noodsaaklikheid om nuwe markte te vind, uitvoere en invoere te bedryf en arbeid te werf.

Miskien het daardie tyd ook te doen gehad met ‘n magstryd binne die Christendom & tussen godsdienste, met Rooms Katolisisme onder skoot van Protestantisme & die Christelike Godsdienste wat steier onder die imperiale uitbreiding van Islam.

Miskien het selfs al daardie spanning eerder verband gehou met industrie & ekonomie, as met geloof en oortuiging.

Ek weet nie.

Ek was nie daar nie.

Ek weet wel dat daar binne my ‘n diepe dankbaarheid leef.

‘n Dankbaarheid dat, midde in al die vernietiging en stryd en dood, dit alles ook gelei het tot my geboorte op hierdie kontinent.

Afrika.

Ek is nie ‘n Europeer nie.

Die taal wat ek praat, al het dit miskien wortels in Europa, het sy oorsprong in Afrika.

Dit word hier gepraat.

Deur ‘n klein groepie mense.

Dit is vol van uitdrukkings wat vir Europeers geen sin sal maak nie.

Beinvloed deur ‘n manier van dink en wees, eie aan hierdie stukkie wereld.

Van invloed gepraat.

Ek oordeel die invloed van ons woorde op ons wereld, is onmiskenbaar.

En ek loop my vas, gedurig, teen pessimistiese woorde oor Afrika en Suider Afrika en Suid Afrika.

Nie net in die mond van Afrikaners nie.

Ook in die mond van Afrikane.

Woorde wat uitdrukking gee aan ‘n Afro-Pessimisme wat leef in die wese van die mense wat gebore is op hierdie kontinent.

Nou lyk dit my, daar is ‘n enkele rede wat aangevoer word vir hierdie groeiende Afro-Pessimisme onder mense van hierdie kontinent se grond.

Die oenskynlike onvermoe van Afrika-leiers om sinvol te regeer.

Selfbeskikking het sy opwagting gemaak saam met die verwagting dat dit ‘beter’ sal gaan onder staatkundige onafhanklikheid.

Die realiteit is, sedert die 1950’s, het die lewens-standaard in Afrika grootliks geval.

1949.

Dit is so onlangs dat Afrika begin het om sy onafhanklikheid te eis.

1994.

Dit is hoe onlangs Suid Afrika tot onafhanklikheid gekom het.

En ek wonder of Afrika werklik onafhanklik is.

Of dit nie maar net oeverblindery is wat ‘n ander werklikheid verdoesel nie.

Want sedert die middel van die 20ste eeu, is daar ‘n wereldwye politieke en staatkundige verskuiwing met die koue oorlog wat verwoed aangevoer is en dikwels op ons grond geveg is, ook met oorloe soos die grensoorlog waarin Suid Afrika tot die laat tagtigs betrokke was.

Ek wonder of Afrika werklik onafhanklik is?

Ek wonder of die VSA en die VK en die NAVO-state en, meer onlangs, China nie eintlik maar die musiek speel waarop Afrika dans nie?

Westerse demokrasie.

Westerse kapitalisme.

Of, die antitese.

Oosterse sosialisme.

Oosterse kommunisme.

Wat ook eintlik maar sy ontstaan het in die weste, in die gedagtes van Karl Marx en mettertyd neerslag gevind het deur ‘n stormagtige geskiedenis van stryd en onderdrukking en bevryding en verval en opbou en weer probeer.

In baie opsigte is Afrika soos ‘n Mungo Park-ontdekker-tipe, geklee in ‘n snyers pak met das en fyn leer skoene en winters-jas om die uitrusting te komplementeer, wat sy weg probeer baan deur woude en oor berge onder die wakende oog van die warm Afrika-son.

Daar is niks fout met ‘n snyers pak nie.

Dit pas net nie in Afrika nie.

Na my oordeel, is dit ‘n groot deel van die huidige situasie in Afrika.

‘Onafhanklikheid’ op grond van die terme gestel deur die veroweraars.

‘n Toegewydheid aan demokrasie en kapitalisme, waar ‘n Westerse land die koloniale veroweraar was.

‘n Toegewydheid aan sosialisme & kommunisme, waar ‘n Oosterse land die veroweraar was.

Suid Afrika is ‘n interesante kompromie.

‘n Alliansie Regering, wat die Suid Afrikaanse Kommunistiese party insluit, wat hard probeer om sogenaamde vennootskappe te bou aan beide kante van die historiese spektrum.

Die VSA en Europa aan die eenkant.

China aan die ander kant.

Dit maak nie saak waar die snyerspak ontwerp is nie.

Of selfs of ‘n ongemaklik kombinasie uitrusting aangetrek word nie.

Dit pas nie in Afrika nie.

Ons moet nie die fout maak om te dink Afrika is homogeen nie.

Afrika is so uiteenlopend soos die Verenigde Koningkryk.

Wat die kontinent wel in gemeen het, met die moontlike uitsondering van Ethiopie, is koloniale verowering, industriele verkragting en daai vervlakste snyerspak.

Dis nou maar 62 jaar sedert Afrika tot sogenaamde onafhanklikheid gegroei het.

In terme van ‘n wereld-geskiedenis en Afrika se eie geskiedenis, voor die laat 1500’s, is dit ‘n kort niksseggende tydperk.

En tog is die impak van die 400 jaar onder koloniale regering merkbaar.

Ook nie net in die snyerspak nie.

In grense.

In minderwaardigheid.

Afrika is goed genoeg om grondstowwe te voorsien.

Nie om dit te verwerk nie.

Afrika is goed genoeg om arbeid te voorsien.

Nie ingeneurs en filosowe en kunstenaars en innoveerders nie.

Hierdie denkraamwerk is deel van die erfenis wat aanleiding daartoe gegee het dat ook ek ‘n Afrikaan is.

Dis interesant dat die Suid Afrikaanse president, demokraties verkies binne ‘n kapitalistiese eknomiese model, Jacob Zuma in April 2012 die oproep maak: ‘We need Africans to stop being pessimistic about their continent and to be the leading spokespersons and ambassadors’.

En: “If we do not believe what we see and experience, the rise of our beloved motherland, why should the rest of the world?”

Die hartseer is, Afrika sal nie anders wees, net deur woorde nie.

Ons sal die snyerspak moet uittrek en tot ware onafhanklikheid moet kom.

Ons geskiedenis, ook deur slawerny, kolonialisme, demokrasie, kapitalisme & kommunisme, moet om-arm, met ‘n voorneme om ons eie volgende hoofstuk te skryf.

‘n Hoofstuk waarin ons wese die deurslag gee.

Ons eie wese.

Hoewel ons nie ‘n homogene kontinent is nie, het ons tog as Afrikane meer in gemeen as die afgelope halwe millenium se geskiedenis.

Ons is ‘n kontinent van stories.

Ons is ‘n kontinent van kreatiwiteit.

Ons is ‘n kontinent van sinergie met die natuur.

‘n Kontinent met die vasberade vermoe om te leef ten spyte van en te deurleef en te oorkom en van vooraf te begin.

Ons is ‘n mense wat nie opgebruik nie, maar saam gebruik. In wie se gees volhoubaarheid ‘n natuurlike tuiste vind.

Verbruikerswese (consumerism) het dit op baie plekke uitgeroei.

Saam met verstedeliking en industrialisasie.

En dit is waarskynlik onmoontlik om, soos baie Afro-optimiste hoop, die geskiedenis om te keer.

Maar ons kan ‘n nuwe hoofstuk skryf.

Soos ‘n egpaar wat weer ‘n kind het, maar nie die herhinnering van hul afgestorwe kleuter ooit uit hulle harte sal kan of wil vee nie.

Ek dink ons het nodig om te begin praat oor ‘n nuwe manier om ons samelewing te organiseer.

‘n Nie-westerse manier, gestroop van mags-blokke en vry van buite-beheer.

Ek dink ons het nodig om te begin praat oor ‘n nuwe manier om ons ekonomiese besig wees te organiseer.

‘n Nie-kapitalistiese, nie-kommunistiese manier wat eie is aan wie ons is.

‘Redistribution of Wealth.’

Nasionalisering.

Regstellende aksie.

Dis gedagtes wat geformuleer is vanuit en om te funksioneer binne in ‘n sisteem wat oor eeue heen in Afrika gevestig is.

Ons het ‘n nuwe sisteem nodig.

Of miskien het ons nodig om die moontlikheid te oorweeg dat ons sonder ‘n sisteem in die westerse sin kan funksioneer.

Ek dink hierdie nie-sisteem is ‘verhouding’.

Dit is eie aan wie ons is.

En dra in haar die moontlikheid om Afrika te laat blom.

Soos nog nooit te vore.

Maar daaroor meer, in ‘n volgende bydra.

2 responses

  1. Afro-pessimisme het van nature sy ontstaan in herhaalde teleurstellende ondervindings, die verskuiwing na optimisme verg nie ʼn verandering in “houding” nie en ʼn emosionele “beroep” tot…wat ook al is nutteloos. Die ondervindings van mense moet deur werklike verandering in hul milieu ervaar word om dit te verander. Jy skryf baie mooi, maar dis emosioneel sonder enige verstaanbare “ekonomiese” uitgangspunt. Sekerlik is die ekonomie of ʼn vryemarkstelsel of die staat beheer alles en alle ander stelsels is gemengde stelsels tot een of ander graad. As jy met nie-stelsel bedoel die afskaffing van die staat self en die vervanging daarvan met selfregerende lokalisme – dan stem ek met jou saam. As jy bedoel ʼn eiesoortige gemengde ekonomie dan verskil jy geensins met die modelle wat huidiglik in die Weste gebruik word nie en sukkel ek om te verstaan in watter ekonomiese rigting jy nou eintlik wil inslaan.

  2. Pingback: Afro-Optimis | grootendeels

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s