as hy weer kom

‘As hy weer kom, kom haal hy sy perels, al sy perels fraaie perels, vir Jesus se kroon. Ja, die kinder gesigies, soos die sterre se liggies, is die hemel se perels vir Jesus se kroon.’

Van kleins af al probeer ons sin maak van ons bestaan.

Van lewe.

En sterwe.

En hiernamaals.

Van hemel en ewigheid.

In die kinderkrans sing ons, terwyl iewers anders hippies met bell-bottom jeans betoog teen oorlog, van kinders wat ge-oes sal word.

Soos skatte.

Uit die see gehaal.

Om aan stringetjies geryg te word.

Mondelose versiering.

Dis mos wat perels is.

In daai skulp.

Tot hy uitgehaal word.

En geryg word.

Om uitgehaal te word en afgewys te word op spesiale geleenthede as bewys van die eienaar (of haar metgesel) se welvaardt.

Ek is nie ‘n perel nie.

En ek laat my nie oes nie.

Die week staan ek by Tannie Joekie se graf.

Die dominee se: “ons treur wel, maar nie soos ander wat geen hoop het nie, want ons hoop is in Christus. Daarom roep ons uit saam met Paulus, ‘dood waar is jou angel’ en ons wag geduldig op die ewige lewe.”

Wat hierdie ewige lewe is, se hy nie.

Nie op hierdie dag by Tannie Joekie se graf nie.

En ek wonder of Tannie Joekie al daar is.

En Sarel.

En Awie.

En Gert.

My vriende wie ek ookal moes gaan toespit met woorde van hoop bedoel as woorde van troos wat onbeholpe rond tas na iets wat net buite bereik bly.

Oor die lewe, praat ek maar altyd.

Want daarvan weet ek.

Ook nie baie nie.

Maar meer as van ‘n lewe na hierdie een.

En terwyl die handjievol die woorde van ‘n geloofsbelydenis na se en ‘n kis die gat in afsak, wonder ek of wat ons glo van ‘die ewige lewe’ ‘n invloed het op hoe ons leef en of ons leef in hierdie verganklike een.

‘ … van waar Hy sal kom om te oordeel … die wat nog lewe, en die wat reeds gesterf het … ‘

‘Ons glo in ‘n ewige lewe … die opstanding van die dode … Amen.’

Amen

En as ons dan opstaan?

En as ons dan geoordeel is?

Wie sal tog voor ‘n regverdige God kan kom en aanspraak maak op goedheid?

Miskien guns?

Want ons ken onsself, agter die wit pleister.

Ja, guns, is hoop.

Want daarsonder lyk dit maar somber.

Maar om ge-oes te word, sodat ek gehang kan word aan ‘n hemelse halssnoer, klink ook nou nie eintlik vir my na guns nie.

Om weer te lewe.

Nog te lewe.

Anders te lewe.

Heel.

Dit sal guns wees.

En dit is my hoop – dat Joekie en Gert en Sarel en Awie, en dalk ek en ons een dag, sal ‘weer kom’.

Nie om gehaal te word of te kom haal nie.

Maar om te wees.

In vol-komenheid.

2 responses

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s