Hannes Windferwaai

Hannes is ‘n goeie ou.

Hy’t groot geword in Port Elizabeth in die tyd toe min mense karre gehad het en belangrike geleenthede nog met ‘n telegram laat weet van is.

Sy Pa het by die skoen fabriek gewerk.

Sy Ma by Greaterman’s.

Hy’t in die oggend skool toe gestap, saam met sy drie broers en twee susters. Hy was die jongste van die ses. Hy’t sy kamer gedeel met die drie broers. Oom Willie het in die buitekamer op die stoep gebly. Niemand weet of Oom Willie regtig familie was nie. Hy was soos familie. Maar ook nie heeltemal nie. Amper soos sy gedagte. Soort van daar, maar ook nie heeltemal nie. Oom Willie was geboard by die spoorwee. Hannes kon nooit agterkom wat oom Willie by die spoorwee gedoen het, toe hy nog iets gedoen het nie. Hy’t net geweet Oom Willie het sy ongeskiktheids-pensioen een maal per maand gekry en daarmee kon hy vir hom Komando sigarette koop; genoeg vir die maand. En brylcream. Genoeg vir die maand se geleenthede.

Soos Sondag Kerk.

Of Woensdag se skool vergadering.

Nee, Oom Willie het nie kinders in die skool gehad nie, maar Hannes se pa moes soms die nagskof by die skoenfabriek doen en dan was dit handig as Oom Willie namens hom die skool vergaderinge by-woon. Nie dat Oom Willie regtig die vergadering se vorderinge kon volg of ‘n sinvolle bydra kon maak nie. Maar hy was darem ‘n volwassene. En as hy nie gepraat het of te veel keer opgestaan het om homself aan die voorsitter voor te stel nie, dan het niemand agter gekom dat hy ongeskik verklaar is nie.

Hy was nie ongeskik nie.

Hy was eintlik baie vriendelik.

Behalwe daai een aand toe die boerejoot wat baie onlangs van Oudtshoorn af Port Elizabeth toe getrek het, vir hom gese het hy moet nou sit omdat hy die vergadering nou al te veel onderbreek het.

Die joot het nie lekker verstaan nie.

Nie soos die ander mense nie.

Hy’t gedink Oom Willie is aspris.

Moedswillig.

Oom Willie was maar net Oom Willie.

Tot die Joot vir hom gese het: ‘Magtig, sit nou en bly stil, meneer. Ons almal sien jy is hier en jy is belangrik, maar anders as jy het ons egter mense wat eintlik opgewonde is dat ons vanaand huistoe kom.’

Daai aand het die joot met ‘n blou oog en opgeswelde wang huistoe gegaan.

Nadat die konstabel die petalje uitmekaar gehaal het.

En Oom Willie het sewe weke in sy stoepkamer deurgebring.

Dit was eers in week vyf dat hy begin drink het aan die tee wat Hannes se Ma elke oggend vir hom gevat het.

En na die einde van week sewe dat hy vir Hannes gevra het om winkel toe te stap en Kommando sigarette te gaan koop.

Toe Oom Willie daai middag op die stoep kom sit het Hannes geweet waarom Oom Willie gebord is.

Dis oor verlies.

Daar is baie soorte verlies in hierdie lewe.

Terwyl Oom Willie die middag stadig suig aan sy sigaret en stadiger sluk aan ‘n koppie swart tee het Hannes se Ma by hom gesit. Geluister hoe die oom vertel van ‘n tyd toe hy mense gehad het wat uitgesien het dat hy huis toe kom. Maar toe’t hy nie geweet mens kan soveel verloor nie. En het laat gewerk. En na werk eers by die kroeg gedraai. En oor naweke altyd ‘n projek gehad. En nou’s dit te laat. Want hoe kry jy hiermee ‘n tweede kans?

Seker daarna wat Oom Willie so kyk in sy geestesoog as hy ander dae op die stoep sit en staar, in die niet, sonder knip van oog of roer van hart.

Verlies.

Hannes sou ook by die skoen fabriek werk gaan soek as hy tot by standerd ses kon kom, maar net na sy dertiende verjaarsdag het sy Pa een middag by die huis gekom en vertel dat die fabriek toemaak. Glo nie meer winsgewend nie. Toe is sy broers Rand toe. Na die myne. En sy susters kort daarna getroud.

En dit was net hy.

En Oom Willie met sy herhinneringe op die stoep.

En sy Pa.

Elke oggend het sy Ma nog koers gekies Graeterman’s toe. Na ontbyt. Dan’t sy Pa die skottelgoed gewas. Die wasgoed opgehang en die huis opgeruim, voor hy pad vat Tote toe. Om te speel. In die hoop. Dat iets sal verander.

Waarmee sy Pa gespeel het kon Hannes nie uitwerk nie.

Want sy Ma het die geld verdien en die bietjie aflos geld van die skoen fabriek moes lankal op gewees het. En tog, elke nou en dan het Hannes se Pa by die huis gekom. Uitbundig. Effe besope. Vol brawade. Want die geluk het gedraai. Die begin van groot dinge.

Vir elke paar pond gewen was daar meer ponde verloor.

Meubels het minder geword.

En eendag het hulle getrek.

Na die buitewyke van die dorp.

Dit was ‘n buitekamer by mense se huis.

Sy Pa het in die mense se tuin gewerk.

Sy Ma het hulle wasgoed gedoen. En gekook. Die vloere en die vensters gewas.

Hannes het agter die mense se seun gesit by die nuwe skool.

Hulle was ewe oud. In dieselfde klas. Maar die seun het nie met hom gepraat of met hom gespeel nie. Behalwe nou en dan as hy Hannes gestuur het om iets te doen. Want al was hulle in dieselfde klas, hulle was nie in dieselfde klas nie.

Toe hy sestien word is Hannes vort.

Dis sestig jaar gelede.

Of sy Pa en Ma hulle dae by daai mense uitgeleef het en of hulle dalk aanbeweeg het iewers anders heen, weet Hannes nie.

Hy is te windverwaai.

Deur die lewe.

Hy stoei te hard van oomblik tot oomblik teen die vrees dat hy sal verloor wat hy versamel het oor dekades en dalk sal moet gaan bly in ‘n stoepkamer of ‘n buitekamer om verslae te suig aan Komando Sigarette of die hoop dat ‘n perd sal wen.

Hy is nie myne toe soos sy broers nie.

Hy is spoorweg toe.

Op die treine.

Eers portier op die peron.

Toe assistent in die kombuis op die trein tussen Kaapstad en Johannesburg.

Vir vyf jaar op en af.

Heen en weer tussen twee groot stede.

Op ‘n stadium was Hannes kelner.

Vir ‘n tyd het hy skottelgoed gewas.

Van die begin af het hy ‘n voorraad drank, sigarette, sjokolade en sout versnapperinge saamgery en laat in die aand as dienste nie meer beskikbaar was nie, was hy die ‘kamer-diens’ wat ten duurste in reisigers se behoeftes onderneem het.

Mettertyd het Hannes ritmes en roetienes ontdek.

Passasiers wat gereeld dieselfde reise onderneem.

Op dieselfde stasies afklim.

Vir dieselfde dienste skimp.

En sy laatnag dienste is uitgebrei.

Na meer as wat gestoor kon word in bokse onder kaste en in dienswaens.

‘n Vyf rand aan ‘n kondukteur en ‘n tien rand aan ‘n bestuurder het almal te vrede gehou.

Vir ‘n tyd.

Soos Hannes se span privaat ‘kelnerinne’ uitgebrei het, het die vyf- en tien rande meer geword.

Die winste ook, so dit het nie saak gemaak nie.

Teen een-en-twintig het Hannes ‘n bedryf aan die gang gehad wat hom meer in die sak gebring het, in een maand, as wat sy Pa en Ma saam by die skoen fabriek en Greaterman’s verdien het in’n jaar.

En groter pret ook.

‘n Man kan mos proe aan sy eie voorraad en geniet wat jy bedien.

Meer as dit het Hannes nie geniet nie.

Winste is weggesit.

En toe die spoorweg polisie snuf in die neus kry het Hannes genoeg van ‘n nes-eier opgebou om sonder om twee keer te dink weg te stap en oor te begin.

In Johannesburg se middestad huur Hannes winkelspasie.

Hy ken kleinhandel.

Hy’t genoeg dae geluister na sy Ma se praatjies van Graeterman’s se vloer af.

Hy ken skoene.

Baie nagte, as dit sy Pa se skof was, het hy saamgegaan. Masjiene gekyk. Verpakking. Verskeidenheid.

Hannes was honger.

Vir ‘n onbekende ‘geluk’ wat sy Pa laterjare op die Tote gaan soek het.

Waarna Oom Willie op die stoep gesit en staar het.

Waarna sy Ma verlang het, sonder hoop, dag-in en dag-uit.

Hy kon nie die dis wat hy wou eet beskryf nie.

Hy’t nie eens die resep geken nie.

Hy’t net geweet van die bestandele is baie geld en iewers iemand wat hoop dat jy huistoe kom.

Sy een skoenwinkel en vier geword en toe ses en toe veertien.

Klere winkels het by-gekom en met ‘n neseier, gebou uit onwettige drank en meisies wat nie liefde ken nie en gejaag was deur hulle eie honger, het Hannes ‘n kleinhandel ketting gebou met winkels in elke groot stad en selfs in sommige groter dorpe.

Nou nog se hy dat hy maar net ‘n smous is.

En hy was eerlik. Sy passie was nie vir skoene of klere of juweliersware nie. Sy passie was vir die opbrengs. Eintlik ook nie eens die opbrengs nie. Eerder dit wat die opbrengs kon koop. Huise. Karre. ‘n Vrou. En nog een. Kinders.

Teen die tyd dat Hannes vyf-en-dertig was het hy dit reggekry om homself ver weg te vat van die klein huisie duskant die skoen fabriek en nog verder van die bediende kamer waar hy sy tinderjare moes deurbring.

Toe hulle sy veertigste verjaarsdag vier was die koerant daar gewees. En sy eerste vrou. En sy tweede vrou. En sy huidige meisie. Sy drie kinders ook. Hulle was almal lief vir hom. Lief vir die lewe wat hy hulle gegee het. Lief vir die sekuriteit en die vryheid en die vreugde.

In Italie en Frankryk het Hannes ‘n bekende geword. Dis waar hy dikwels voorraad gaan kyk het. Die VSA en Japan het hom ook geken.

En terwyl Hannes deur die wind oor die wereld heen gewaai is en sy kleinhandel koninkryk gebou is het sy drie seuns vanself groot geword en sy drie vrouens oud.

Vanmiddag sit hy op die stoep.

Die bank waarop hy sit is ingevoer en sag. Die kussings gemaak uit fyn vier keer gevoude katoen. Die glas waaruit hy die bietjie whiskey suig is handgekerfde kristal en die whiskey is Johnny se donkerste ettiket. Die sigaret waaraan hy suig is maar net nog ‘n sigaret, want maak nie saak hoeveel jy verdien nie, op die ou einde is sigarette maar net sigarette.

Soms sal hy ‘n duur kubaanse sigaar op die stoep sit en suig.

Een gerol uit ‘n enkele blaar en sorgvuldig gebere in ‘n kabinet wat die atmosfeer beheer.

Maar meeste van die tyd is net nog ‘n sigarette die metgesel van sy baie duur whiskey.

Amper soos die lewe.

Net nog ‘n vrou.

Net nog ‘n seun.

Net nog ‘n stoep.

Windverwaai staar hy in die hoop dat hy sal sien wat Oom Willie gesien het.

Maar hy kan nie.

Want in ses-en-sewentig jaar het hy nie een keer sy hart oopgemaak teenoor iemand nie.

Nie een keer sy diepste geheim gedeel nie.

Nie eens met ‘n vreemdeling of huurling wat die eensaamheid van die nag moes kom verdryf nie.

Vandag wonder hy of hy ‘n hart het?

Of sy hart nie lank gelede in daai beknopte huisie in Port Elizabeth se industriele gebied uitgesny is nie.

Deur armoede en verslane ouers, geslote fabrieke en resiesbane wat elke laaste bietjie roof.

Dit was sestig jaar gelede.

Dit was maar sestien jaar van sy lewe.

Met wat hy versamel het kan hy duisende van daai klein huisies koop en plat slaan en oor bou en meubileer.

Met wat hy versamel het kan hy honderde gesinne wat in bediende kamers woon help.

En ter loops het hy dalk.

Sy winkels het baie mense werk gegee.

Baie gesinne se kos voorsien.

Maar altyd net-net.

Minimum loon.

Minimum voordele.

Maksimum ure.

Maksimum verantwoordelikhede.

Dis hoe jy rykdom bou.

Jy vat wat jy kan.

Verkoop wat jy kan.

Koop so goedkoop as moontlik.

Verkoop so duur as moontlik.

Of dit skoene is, of arbeid of liefde – die beginsel bly dieselfde.

Vanmiddag onthou Hannes die woorde van die prediker.

Ja, jy moet nie dink omdat hy groot geword het soos dit was en geleef het soos dit is, dat die Kerk afwesig was in sy lewe nie.

As kind was hy in sondagskool.

As tiener het hy die verslete genade-drom klere uit die kerk se barmhartigheidsdiens gedra.

As jongman is hy daar getroud.

Drie keer.

En sy drie seuns is daar gedoop.

En sy geld het klank toerusting befonds.

En sale vir jeugdienste en troue onthale.

En nuwe stoele om ou banke te vervang.

En tjeks om boeke te laat klop.

‘Alles is ‘n gejaag na wind.’

En wind kan jy nie vang nie.

Dit verwaai jou net.

Sodat jy alleen op ‘n stoep sal sit en suig aan lee herhinneringe en vol verdriet.

Hoe maklik vergeet ons waar ons vandaan kom?

Hoe maklik gebruik ons, netsoos ons gebruik is?

Hoe maklik vlieg dekades verby, spandeer ons lewens op lee nikssegendheid, om te sterwe asof ons gebore was sonder rede?

Hoe maklik kom ouderdom, na ‘n leeftyd van meer-as-genoeg, saam met die vrees dat ons nie genoeg sal he nie?

Hannes Windferwaai is op drie-en-tagtigjarige ouderdom oorlede.

Dit was ‘n groot begrafnis gevolg deur ‘n groot geveg tussen sy drie seuns, hulle drie ma’s en twee meisies wat almal aanspraak maak op Windferwaaide miljoene.

Tien jaar na sy dood het die laaste skoen winkel toegemaak.

Die een in Johannesburg se middestad.

Die eerste een wat Hannes oopgemaak het.

Vyftien jaar na sy dood het sy eerste vrou die eerste huis wat Hannes gekoop het, verkoop.

En daar was niks meer oor van alles wat Hannes gebou het nie.

Sy seuns se verslae lewens was nog meer windverwaai as syne.

Sy klein seuns sin verwoes deur orkaan op orkaan deur geslagte heen.

Want windferwaaidheid het niks te doen met rykdom of armoede nie.

Maar alles met verlatenheid.

Dalk as Hannes se Pa minder bekommerd was oor die volgende dag en die oudag, en meer oor hierdie dag.

Dalk as sy Ma minder behep was met nuwe tee serfies wat sy in elk geval nooit sou gebruik nie, en meer oor saam tee drink en gesels en koester.

Dalk sou dit dan anders wees vir Hannes en sy broers en susters?

Maar hulle het ook Pa’s gehad.

En Ma’s.

En verlatenheid op windverwaaide vlaktes van uitgelewerde eensaamheid deurdrenk met ontkoppelde verhoudinglose bestaan.

‘Ek het gekom dat julle lewe kan he, en dit in oorvloed’, lees die dominee op Hannes se begrafnis. ‘En oorvloed het Hannes geken,’ verklaar hy dapper, want dit maak alles reg. ”n Geseende lewe.’

7 responses

  1. Pingback: Thank you for Sharing 4 Years :) | Sevencitys' Blog

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s