troos

Gister (20/01/2012) lig Charles Hoffman sy mening met betrekking tot apartheid in ‘n artikel op ‘TIMESlive‘ se webwerf.

Charles kom van die Kaap.

Die Kaap wat baie onlangs in die media was, met aantuigings van ou-skool rasisme wat hooggety voer.

Hy oordeel ‘Apartheid het Suid Afrika die welgestelde of ryk land gemaak wat dit is‘.

Wat hy skryf lui ‘n klokkie, so asof ek die mening al van te vore iewers gehoor het.

My vriend Lloyd Martin begin met my gesels hieroor.

Hy stel voor, voordat ons met Charles in gesprek kan tree moet ons sekerlik eers uitklaar wat hy bedoel met woorde soos ‘rich’, ‘development’ en ‘culture’ wat Charles met groot gerief hanteer.

Miskien as Charles te kenne gegee het dat Apartheid ‘ons’ (Afrikaners) die rykste in die wereld gemaak het, sou hy eerliker wees?

Miskien soek Charles iets om hom te troos, om hom beter te laat voel oor die verlede?

Ja, duisende en der duisende mense se lewens is vernietig in een van die grootste samelewings-ingeneurs-kunsies wat die wereld nog ooit gesien het, maar ten minste het dit infrastruktuur en rykdom vir die land geskep.

Ai.

Dit lyk vir my na een van Afrikaners se diepste swakhede – die onvermoe om eerlik te wees oor die verlede, werklik om verskoning te vra en op die fondament van ‘n deursigtige ‘waarheid’ (of dan ten minste erkenning van iemand anders se ‘werklikheid’) te werk na herstel en om-arming en nuwe verhouding.

Die ding is diep in ons wese gewortel.

Die onvermoe.

En dit vernietig ons nie net op sosio-ekonomiese of politieke front nie.

Dit vernietig ons in ons huwelike.

In ons gesins-lewe en in ons families.

In ons vriendskappe.

Miskien kan jy dit ‘n ‘trots’ noem?

Miskien is dit ‘n narsasisme?

Ek en my Pa was ‘n goeie ses jaar lank die slagoffer hiervan.

In 2004 pak ons saam ‘n ding aan.

Dit loop skeef en ek word deur my Pa afgesny van hom en die res van ons familie.

Vir 5 jaar is ek die melaatse.

Dan loop ek eendag op hom in. Breuk die ding oop. Probeer ons kry om sin daarvan te maak en verby dit te kom.

Hy vertel my sy werklikheid.

Ek moet om verskoning vra.

Ek het hom te na gekom.

Ek was dislojaal en soos ‘n ou met ‘n effe ondergemidelde IK aan die neus rondgelei.

Ek se: okay, dis jou werklikheid. Jou belewenis. Ek vra jou om verskoning. Hier is my werklikheid. Heeltemal anders. Ooreenkomste wat gebreek is. Uitgangspunte wat verander is. Beginsels wat prysgegee is. Jy hoef nie om verskoning te vra nie, se net vir my dat jy kan sien dat ons twee verskillende werklikhede het. Dat jou belewenis en my belewenis anders is.

Hy kan nie.

En ek is huistoe met ongedane sake.

Geen rekonsiliasie nie.

Geen hoop op herstelde verhoudinge nie.

‘n Ruk later kry ek boodskap deur my Ma: jou Pa het jou vergewe.

En ek gaan drink koffie.

En ons gaan eet.

En ons sien mekaar.

Maar intimiteit is afwesig want ons het nooit die ding klaar deurgepraat nie. Ons het nooit net eens gese: joe, dit was ‘n vrot tyd en dis jammer dat ons dit nie anders kon hanteer nie. Dis jammer dat ons 5 jaar van gedeelde lewe verloor het.

In Suid Afrika hou Desmond Tutu waarheids en versoenings kommissie.

Erken net.

Gee erkenning daaraan dat andere se werklikheid anders as jou werklikheid is.

Maar die versoening bly uit, want die waarheid bly uit.

Almal ontken.

Hulle het nie geweet nie.

Ek weet nie of Charles se uitlating meriete dra nie?

Ek dink nie so nie.

Ek dink ons land se rykdom le op twee vlakke.

Onder die kors van sy aarde verskuil in goud en diamante, platinum, yster, uranium en ‘n magdom ander grondstowwe.

En dit is bo-op die kors van sy aarde, in groen weivelde en koringlande.

Maar ook in sy mense.

Ek dink nie die Afrikaner kan homself troos met ‘n aanspraak op rykdom wat gebring is nie.

En dan het ons nog nie eens gesels oor die vernietiging wat industrialisasie verwerklik nie.

Vernietiging wat sou kon uitbly as goud en gas gelaat word waar dit is.

Dis interesant, in sy boek ‘Knowledge in the Blood‘ beweer Prof Jonathan Jansen (bladsy 60): ‘The contemporary Afrikaner belief system about the past is based on a number of arguments.’

Die eerste dat ‘Apartheid was … a reasonable policy … with good intentions …’

Die tweede dat ‘the implementation of Apartheid might have had some unintended consequences, but the attack on it is exaggerated; in fact had it not been for Apartheid, blacks would probably be worse off – like blacks elsewhere on the continent.’

‘n Goedkoop troos.

‘n Troos sonder enige intensie om te versoen.

Miskien sal ons beter doen om eerder te erken, raak te sien, wat ander beleef het, terwyl Afrikaners plesierig ge-oes en gemyn het en rykdom geskep het en geroof het en volkere (homself inkluis) vernietig het.

Miskien le ons grootste rykdom juis in die mense van hierdie land wat ‘n afwagtende openheid het.

En soos ek met my Pa, maar net begeer dat raak gesien word dat ‘n ander belewenis ook bestaan.

Gereed om te om-arm.

Gereed om saam ‘n nuwe soort rykdom te skep.

Ek hoop so, want as ons voort strompel op die Charles Hoffman trant, is daar geen hoop nie.

5 responses

  1. Het saam met jou alles weer beleef – oeroue gedagte kom op – HOOP BESKAAM NIE – buig van altwee kante! As ons nie hoop nie – WAT HET ONS??? Leeg wees …….. wonder …….. bitter ………. insien, maar alleen insien?! Nee, ons moet insien dat ons albei kante moet buig en die ander een ook erken en nie outokraties die regte kant vir onsself opeis nie!! EISH!!!! Moeilik vir ou harde takke om te buig sonder ‘n bars of kraak!!!! So mooi gestel vir ‘n Saterdag-herkou!!!!!

  2. Theunis, ek dink jy en Charles het baie in gemeen.
    Eerstens kyk julle na die situasie vanuit die afskuwelike perspektief van rassisme. Dit sal beter wees as julle eerder die Afrikaner as mens wil beskou, en nie as ‘n spesifieke ras wat innie kollig gestel moet word nie. Dan sal julle miskien kan sien dat alles wat hulle gedoen het binne die normale omvang van menswees val. Jy sê:
    ” … terwyl Afrikaners plesierig ge-oes en gemyn het en rykdom geskep het en geroof het en volkere (homself inkluis) vernietig het.” Dieselle moet gesê word oor die Zoeloes, die Japanese, die Engelse, die Amerikaners, die Jode, die Turke, die Tutsis, die Mongole,die Chinese, … ek dink jy kry die idee. Solank mens jou blind staar teen ras is dit onmoontlik om insig in die grondliggende menlike toestand te verkry.

    Tweedens gaan die kwessie vir beide van julle daaroor of die Afrikaners goed of sleg was. Wat altwee van julle sal betaam is om uiterste posisies te laat vaar en meer geballanseerd na die situasie te kyk. Jy is reg: apartheid was ‘n euwel, Charles is reg: die Afrikaners het ‘n groot deel bygedra tot die welvaart vannie land. Die Afrikaners het beide goeie en slegte dinge gedoen. Hulle kannie tot in der ewigheid gegesel en verdoem word vir wat hulle verkeerd gedoen het nie. Ook kan hulle nie vir ewig en altyd aanspraak maak op heiligheid vir die goeie wat hulle verrig het nie. Die genadeloosheid van uiterste sienings, en die vasklou daaraan, is juis wat jou storie oor jou pa verduidelik.

    Wat nodig is om voorentoe te kan beweeg is om die ras gebonde kollig van die Afrikaner af weg te neem en eerder te kyk na die wyer basiese menslike toestand. En om dan vrede te maak daarmee dat die mens, ongeag van ras, in staat is tot die goeie en die kwade. Eers as dié twee gewaarwordinge deel van mens se bewustheid word kan daar sprake van vordering wees, kan daar die moontlikheid van versoening wees.

    So lank daar op ras gehammer word sal ons altyd bly waar ons nou is: waar die opvolgers van verdrukking dieselle groef volg.

    • Hi Johan, dankie vir jou inter-aksie. Ek stem met jou saam dat die Afrikaner nie enig in sy soort is nie. Inteendeel, hier binne in my broei ‘n gevoelentheid (wat ek op die oomblik bietjie probeer na-vors) dat apartheid en die nasionale party regering en republiek-wording moontlik nie ‘n ‘Afrikaner’-idee was nie, maar ge-orkestreer deur internasionale magte wat op ‘n subtiele manier wou aanhou om Afrika te stroop van ons hulp-bronne. Maar selfs al is dit so, stoei baie Afrikaners (van wie ek een is en vir wie ek baie lief is) met ‘n unieke uitdaging, om juis ‘aan te beweeg’ soos jy voorstel. Hulle werk vir die staatsdiens waar hulle voor ’94 gewerk het, of trek pensioen, maar vertel hulle kinders hoe vrot dit in die land gaan en hoe alles in duie stort en dan vlug hulle kinders na engeland en australie of na ontvlugting in brandewyn en leeulope en ‘n intense jag van welvaart – en dit is ons erfenis wat ons van apartheid het, ons stukkend. Ek glo in gebrokenheid, ons almal, maar hier praat ek met ons oor waar ons onsself bevind en hoe ons daarvan sin-maak. T

  3. Theunis ons as mense moet leer dat ons sieniings oor baie goed in die lewe verskillend is en sal wees want ons is uniek en daarom het en sal almal altyd verskillende sienings he oor die lewe en dinge rondom ons en eers as ons dit in mekaar begin raaksien en respekteer sal dinge in ons lewens begin vorentoe gaan en verbeter, Maar ongelukkig is ons te hardkoppig om mekaar se verskillie in te sien en te waardeer. Kom ons maak almal saam ‘n poging daarvan om mekaar se verskille raak te sien en te waardeer..
    Dit kan dalk net die moeite werd wees of wat se jy?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s