foeitog

Uit Bloemfontein laat weet ‘n vriendin my van ‘n berig uit die pen van Pieter Steyn.

Oor die land is dit orientasie tyd vir eerstejaar Universiteit studente en in Bloemfontein het die NG Kerk se studentegemeente ook ‘n stuiwer om in die arm-beurs te gooi.

Dis net ‘n stuiwer.

Dalk ‘n oortjie.

Hulle hou Kougom Kamp.

Dis Afrikaanse Kamp.

Hoofsaaklik wit kamp.

So ‘n stukkie ou Suid Afrika deur die Kerk gefasaliteer ter wille van die behoud van … mmm … ek wonder ter wille van die behoud van wat?

Pieter Steyn berig oor die Kougom Kamp omdat ‘n 5de jaar teologie student (Werner Klindt) in die hospitaal beland.

Steyn berig: ‘Hy het gereageer op ’n gerug dat ’n student op die jaarlikse Christelike Kougomkamp vir eerstejaars … aan ’n kruis opgehang en só geslaan is dat hy in die hospitaal beland het. Klindt het die rol van Jesus vertolk op die jaarlikse kruistog wat op die Kovsie-kerk se Kougomkamp opgevoer word. Volgens Klindt het hy die “soldate”, almal studente, gevra om hom regtig te slaan en te skop. Hy (Klindt) sê dit was ’n geestelike ervaring wat hy nie lig sal vergeet nie. “Deur Jesus te vertolk, het ek ’n geweldige verdieping en groei in my geestelike lewe ervaar.”’

Sjoe!

Ek is dankbaar dat die kanse skraal is dat ek eendag in Ds Klindt se Kerkbanke sal moet sit. Bid jou dit aan: Liewe, gemeente, vandag gaan ons probeer om ‘n geestelike ervaring op te roep en ‘n verdieping te bring, soos Abraham gaan ons ‘n offer bring en ons seuns offer. As jy nie ‘n seun het nie, bring jou dogter. As jy nie kinders het nie, bring jou bejaarde Ma wat by julle loseer.

Hy misgis hom natuurlik.

Hy het ‘n paar knoppe en bloukolle, maar daar was nie spykers deur sy sagte akademiese handjies geslaan nie en hy het nie gesterf nie, so vir alle praktiese doeleindes het hy nie ‘die rol van Jesus vertolk’ nie.

Wat beteken dit om ‘die rol van Jesus te vertolk’?

Jim Caviezel het so 7 jaar gelede dit ook probeer doen in Mel Gibson se kontroversiele fliek ‘The Passion of the Christ.’

Ek noem dit ‘n kontroversiele fliek, want Christene oor die wereld heen was emosioneel aangeraak en opgewerk. Evangeliese groepe het die film vertoon en sommige Kerke het nou nog die film se ‘poster’ in hulle voorportaal.

Ekself het gedink dis sommer ‘n stukkie ‘godkoop’ laster wat liewer kon gebly het.

En as Mnr Klindt homself laat kapittel en ophang aan ‘n kruis en voornemende eerstejaar studente emosioneel opwerk, kort voor die aanvang van ‘n akademiese loopbaan, dan wonder ek oor die manipulasie wat steeds gedryf word …

En ek wonder oor die armoede van (in hierdie geval) wit Afrikaanse Christen studente se hart …

Ek wonder of God, soos Bette Midler sing, afwesig is in die mense se wereld?

Of God stom is?

Dat die outjies emosioneel opgesweep moet word, sodat beheer oor ‘n stukkie van hulle bestaan geneem kan word en hulle vir die volgende 3 tot 5 jaar gedryf kan word om te doen wat hierdie instansie van ‘behoud’ gedoen wil he?

Ek wonder of daai ou nie dalk in die kol was toe hy gese het dat godsdiens die opium van die massas is nie?

Ter selfde tyd wonder ek wat Professor Jansen en die Universiteit van die Vrystaat se bestuur gaan doen aan ‘n teologiese fakulteit wat duidelik ‘n onvermoe gehad het om Werner Klindt ‘n sinvolle teologiese fondament te gee?

Na VYF jaar se studie!

As dit die klong se ‘diepste geestelike ervaring is’ wat hom ‘n ‘geweldige verdieping’ gegee het, dan is daar beslis ‘n skroef los.

Miskien is dit die geleentheid waarvoor die Universiteit se bestuur gewag het.

Want duideliker kon dit nie uitgebeeld word dat hier, in noue samewerking met die NG Kerk, ‘n Buchan-ian Teologie onderrig word wat swaar rus op emosionele opsweeping en manipulasie, en styf vashou aan wettiese moralisme wat toegepas moet word en beslis ten minste vroue, kinders en lidmate as onmondige dienaars beskou nie?

Of dalk is ek nou oorhaastig …

Dis tog net een student wat na 5 jaar se teologiese studie so onbesonne optree?

Foeitog – hoe arm my mense in wie se are pomp ‘n kennis misplaas, nie net wat betref kultuur, geskiedenis en ras nie, maar ook wat betref God en Lewe en Vryheid.

‘Ag, Here, maak hul vry!’

_________________________________________________

Ter loops: ek het ook ‘n tydjie deurgebring aan die Universiteit van die Vrystaat se Teologiese Fakulteit, die dat ek oordeel hierdie is nie ‘n enkele student wat ‘n oppervlakkige teologiese onderlegging ontvang nie.

8 responses

  1. Daai kougomkamp is niks anders as ‘n standerd ses CSV kamp met meer hormone en skelm seks nie. Ek was, goddank, net op een (in std 6) en nooit nooit weer nie. Mog my groen koring nie blootgestel word aan die gevaarlike spul nie.

  2. Sjoe, ek het inderdaad in die laaste jar hierdie planeet verlaat. Maar, om van so ‘n kamp te lees laat my bloed kook..
    Ek wonder maar net oor die “geestelike ervaring” en die “verdieping en groei” wat plaasgevind het by die wat hom so moes skop en slaan…… is hulle nou beter toegerus vir SA met die sessie geïnisieerde geweldsopleiding?

  3. Snaaks, my dogter was ook op die kamp en het my niks daarvan vertel nie. Ook nie juis besonder opgesweep voorgekom nie. Dit het seker nie ‘n te groot indruk op haar gemaak nie.
    En is dit ‘n probleem as dit ‘n hoofsaaklik wit kamp was? Daar was verskeie ander kampe ook daardie week. Party hoofsaaklik swart. Is dit ‘n probleem?

    Tja. Hoe arm jou mense…en hoe arrogant jy.

    • Hey, Turksvy, dankie vir die lees en oorweeg en saam kou. Dat jou dogter jou nie vertel het nie kan ‘n aanduiding wees van haar eie vlak van kondisionering aan die tipe goed, dat sy elders in die omgewing ook daaraan blootgestel is en tot so ‘n mate gedesentiseer is dat sy nie eens veel daarvan gedink het nie? Wat die ‘wit’ kamp betref, die probleem le nie in die wit nie, die probleem le (vir my) daarin dat die kerk die kamp hou om die kinders te help aan ‘n oorgang na die universiteitslewe en volwasse lewe wat bepaald nie ‘wit’ is nie, behalwe as ‘n tipe ‘orania’ binne die groter geheel geskep sal word, en dat dit die illusie is wat hierdie kerk skep, in die lig van haar geskiedenis, is die probleem. Ek het natuurlik geen behoefte om die kerk te na te kom nie, sy probeer haar bes in al haar gebrokenheid, en sy is nie soveel anders as engelse evangeliese kerke nie, in my kritiek moedig ek haar (en haar venote) juis aan om in-te-kyk en aandag te gee aan haar teologiese opleiding en dalk ‘n oomblik te dink oor haar doen en late, wat ten diepste (vir my) laster is, immers, hoe kan enige mens Christus vertolk?

      As my opinie, of dat ek ‘n opinie het vir jou arrogant voorkom, moontlik het ons dan ‘n handjievol meer ‘arrogantes’ nodig, eerder as ‘skape’ wat meegevoer word vir die slagting.

      T

  4. Ek stem saam met jou Theunis, Dalk moet ons as Christene ophou om swakkelinge en “geelgatte” te wees en werklik op te staan vir wat reg is en ophou ons monde hou vir wat reg is.

  5. Dagse! Ek is geskok oor mense wat aanmerkings kan maak oor situasies waarvan hulle geen benul of rol in het nie! Ek was vir 5 jaar op die kamp en die invloed wat Kougom op jongmense en die toekoms van die land het is ongelooflik! Werner Klindt het n rol vertolk wat aan hom toevertrou was met sy hart en siel! Wie is julle om hom te oordeel? Media word misinterpreteer en sweep mense op, NIE KOVSIES NIE, NiE die TEOLOGIE fakulteit NIE, NIE KOUGOMKAMP NIE en NIE n STUDENT wat sy hart uitgebeeld het nie! Julle het GEEN reg om te oordeel nie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s