wolfkraal

Oupa Kerneels & Ouma Martha het hier hul kinders gehad. Hulle vreugde en hartseer geproe. Droogte. Vrot pootjie. Drie dogters se geboorte. Drie ongenaamde kinders se misgeboorte. Die berg wat brand. Die Paling rivier wat vloei en damme wat oortstroom.

Kersfees.

Nuwe jaar.

Vriende.

Oupa Kerneels het net aan die anderkant van die berg groot geword.

Op Klipfontein.

Sy Pa en Ma het hierheen gekom terwyl hulle nog kinders was, kort voor die Anglo Boere-oorlog.

Meer as een honderd jaar se geskiedenis is hier geweef. Met koorde wat afgerol word uit Bedford en Alicedale en Fankryk en Holland.

Ouma San vertel ons kinders waar sy in die kloof gespeel het. Hoe hulle perskes en neute ge-oes het om dorp toe te vat. Hoe Ouma Martha vir Oupa Kerneels geskel het tot die bakkie net reg gelaai was, sodat die vrugte ongeskonde die reis oor die ruwwe grondpad maak.

Tannie Vetta vertel van die denkbeeldige hospitale en konsert sale op klip-banke hoog op in klowe.

Skeer tyd word onthou.

En as dit kort voor Kersfees twee duim reën, dan word dit opgeskryf in die boekie waar al die reën van Wolfkraal neergeskryf is sedert die draai van ‘n vorige eeu.

Hoeveel skaap en bok en bees Wolfkraal en Klipfontein deur die dekades gedra het is ook in die boekie geskryf.

Waar die De Waals vandaan gekom het staan nie hier geskryf nie.

Ouma Martha het op Bedford groot geword. Haar Oupa was ‘n De Beer. ‘n Predikant wat Hofmeyer en Steynsburg toe gekom het in dieselfde tyd wat andere Pelgrims Rus bestorm het op soek na goud.

So vertel Louw de Beer wat hoer op in die kloof boer.

Dis nog net hy.

‘n Bitter einder in hierdie berg wereld.

Die res is almal stede toe.

En die plase le leeg.

En die geskiedenis word verdraai.

Wat ken ons werklik?

Van wie ons is?

Van waar ons vandaan kom?

My mense was by-woners.

My Oupa grootjie Pienaar aan my Pa se kant.

My Oupa het vertel van die arbeiders huisie waarin hy groot geword het saam met ‘n handjievol ander kinders. Van sy Pa se trots toe hy ‘n ambag kry.

Van my Oupa grootjies aan my Ma se kant weet ek min.

Ek weet daar was ‘n Faber wat in 1816 saam met ‘n handjievol slagtersnek rebelle gehang is.

‘n Trichardt en ‘n Verster wat iewers getrek het en iewers anders geveg het.

Of dit in die Vrystaat of Transvaal of Stellaland was weet ek nie.

Al wat ek ken is die goedkoop inbeeldings van ‘n Jan van Riebeeck wat in 1652 kom ‘volkplant’ het.

Hugenote wat gevlug het nadat die Sonkoning die Edik van Nantes herroep het.

Engelse wat en-masse na 1820 hierheen kom.

Oorlog met Xhosa’s in die Oos Kaap.

‘n Trek na die noorde.

Boere Republieke.

‘n Oorlog en ‘n verskroeide aarde.

‘n Unie wat in 1910 tot stand gekom het.

‘n Party wat in 1948 oorvat en ‘n massiewe samelewings-bestuur proses op dreef sit.

‘n ‘Republiek’ wat in 1961 verklaar is.

‘n Nuwe demokrasie vreedsaam verklaar ‘n korte drie dekades later.

Dis ‘n plat geskiedenis.

‘n Eensydige storie.

Met oor-en-oor die tema van verlies.

Vlug.

Verloor.

Opstaan en weer probeer.

Weer verloor.

Vertrap.

Dis ‘n storie wat nie praat oor die mense wat verdring is nie.

Mense wat vermoor is in al die stryd en veg en stoei nie.

Ek wonder of ons anders sou wees as ons ‘n dieper historiese verstaan gehad het?

Ek wonder of ons anders sou doen?

Ek wonder waarom my mense so stil was oor waar hulle vandaan kom?

Was dit dan so erg?

So verskriklik?

Of was ons nog maar van altyd af ontworteldes, sonder anker verdwaald en meegesleur deur die magte van andere?

Ek wonder wat vertel ek my kinders?

Van hoe ons tot hier gekom het – en hoe ons more sal ontmoet?

5 responses

  1. Ja Theuns! Dis hoekom Awie altyd gesê het die Afrikaners is nie ‘n volk nie. Ons is ‘n potpourri – saamgeflans uit bitter, rebelse mense – Hollanders wat moes wegkom, Franse wat ou wegkom. Engelse wat wou help met die “expading of the Empire” – die resultaat – kinders dra almal “braces” – Hollanders se groot tande in Franse se klein mondholtes!!!!! Weerens stof tot nadenke – dankie daarvoor en welkom terug in die ratrace!!!!

  2. Pingback: ‘n rapsie ootmoed | grootendeels

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s