1652

Op skool het ons geleer dis in 1652 dat alles begin het. Met Jan van Riebeeck op 6 April. As ek reg onthou.

Die prentjie wat vir ons geteken is, is een van ‘n magtige volksplanting. Van Riebeeck wat gekom het en as Vader van ‘n volk die begin gemaak het.

Wat my weer aan die dink gesit het oor die goed is Charles Smith se rubriek in die Vrystaatse Media24 publikasie ‘Die Volksblad’. Hy skryf vroeer die week onder die titel ‘Leierlose Afrikaners tog eindeloos vry‘.

En ek wonder.

Wie is die ‘Afrikaners’ van wie hy praat?

En wat maak hulle ‘Afrikaners’?

Die laerskool prentjie was een van ‘n homogene volk wat Afrika kom tem het. ‘n Volk wat gekom het uit ‘n Christelike roeping, aangevuur deur God se Gees om Sy genade te bring na ‘n stuk wereld wat hom nodig gehad het.

Ek moet toegee, dit was die sewentigs toe hierdie prentjie in my kop geteken is. My skool was wit. En ook my geld. Jan van Riebeeck wat trots pronk op alles van ‘n R1-noot tot ‘n R20-noot.

Onthou jy nog ‘n R1-noot.

Ek onthou die dag toe ek met my swaar gespaarde R1 kafee toe gestap het. Dat my pa-hulle min genoeg omgegee het om my op ses-jarige ouderdom toe te laat om op my eie die pad te vat van Kyleweg af, oor ou Kaapweg, na die kafee, gaan vandag my verstand te bowe.

Dit was nie ‘n uitsonderlike gebeurtenis nie. Ek dink ek was vyf toe ek die eerste keer die stap gemaak het. Met twee lee melkbottels na die melkery.

Langs die melkery was ‘n fiets-winkel, wat ook ‘n diere-winkel was. En langs hom O’linskys die haarkapper. Die Linton Grange Biblioteek was ook in die omgewing en ‘n OK. Daai dae was OK nog ‘n winkel.

In elk geval, die dag was ek nie oppad melkery toe nie. Ek was oppad kafee toe. Met my een rand in die sak. En ek het huistoe gegaaan met drie honderd chappies. Jup. 3 vir ‘n sent was die prys en my een rand het my drie honderd van hulle gekoop.

My ma was nie beindruk nie.

Op ‘n ander keer het ek vir my ‘n biltong gekoop.

Een amper so lank soos ek.

My een rand kon koop.

En toe my Pa in 1976 Amerika toe is het hy teruggekom met ‘n sak vol speelgoed. Sy rand het $2 gekoop. En die $2 het baie speelgoed gekoop. Lincoln Logs. Cowboy mannetjies.

As ek vandag drie honderd chappies wil koop benodig ek R100.

Twee jaar gelede het ek nuwe bande op my Landy gesit. R850 ‘n band.

Hierdie week het ek vir dieselfde bande R1850 per band betaal.

Maar my gedagtes is nie oor geld nie.

Dis oor waarde.

En netsoos geld sy waarde verloor het, dink ek het iets anders ook sy waarde verloor.

Binne in ons.

Charles se Afrikaners is leierloos.

Die liedjie se Afrikaners is plesierig.

Ek se Afrikaners is verlore.

Die 1976 Afrikaner was ge-anker in ‘n miete. ‘n Storie van ‘n volk geplant op 6 April 1652. Met volkshelde soos Dirkie Uys en Racheltjie de Beer. Met stories van dapper vrouens wat gesinne veilig oor berge getrek het. Andries Pretorius. Bloedrivier. God wat die volk bewaar.

Het jy geweet dit was maar in 1925 wat Afrikaans eers as amptelike taal erken is?

Het jy geweet in die 1800’s was daar twee hande vol Boere Republieke?

Nee-nee, dit was nie net Die Vrystaat en Transvaal of die Zuid Afrikaansche Republiek nie.

Die ouens het ‘republiek’ gevorm net waar hulle gekom het.

Stellaland.

Goschen.

Klein Vrystaat.

Griqualand Wes en Oos.

Daar was selfs vir ‘n tyd die Republiek van Phillipolis.

Ek dink wat ons met gerustheid kan raak sien: hierdie ouens het met hulle hele hart begeer om tuis te kom.

Om hulle self te anker op ‘n stuk grond, met ‘n regering en te se: dit is ons sin.

Nou moet jy verstaan waar die ouens vandaan gekom het.

Hulle het gekom uit Europa.

En soos ons groot geword het met Jan van Riebeeck en vaal bruin een rand note, het hulle groot geword met Konings en Prinse en Bisdomme.

En dit het hulle maniere van dink en doen beinvloed netsoos ons sub-A stories ons sin beinvloed.

Hoekom dink jy sing daai kallant oor De Larey?

Hoekom dink jy maak hy van die lafhaard ‘n held?

Hy bedoel nie om dom te wees nie.

Hy bedoel maar net om te onthou wat hy geleer het.

Want deel van ons stories was Christiaan de Wet en Piet Retief en Sarel Cilliers.

Miskien is dit die afsaksel van hierdie geskiedenis, hierdie stories wat mense dring om vandag hulle te beywer vir ‘n volkstaat.

Google dit. Jitte! 69 000 resultate in 0.15 sekondes.

Dit lyk my daar is twee idees.

‘n Gulsige een wat so lyk:

En ‘n minder gulsige een wat so lyk:

Ek kry die ouens jammer.

Ek kry die leierlose, rigtinglose, verlore Afrikaners jammer.

Want om jou enigste anker te vind in self-beskikking is ‘n jammerhartige anker om jou hoop op te sit.

Die wereld het verander, nie net Suid Afrika nie.

En, ja, die wereld is onheroeplik beinvloed deur kolonialisme.

Dit kan nie ongedaan gemaak word nie.

Jy dink Amerika is ‘n homogene plek?

Jy maak ‘n fout.

Amerika, netsoos Suid Afrika en Kenya en Ethiopie is ‘n mengelmoes van mense en tale en tradisie.

Miskien is dit waarom ‘demografie’ nie meer ‘n betroubare noemer is nie.

Jy kan my nie in die dosie sit saam met Afrikaners nie.

Ek het groot geword in wit Suid Afrika met Jan van Riebeeck en volkspele.

Maar ek het meer in gemeen met die Ethiopier wat einde laasjaar by my gekuier het, wat groot geword het in ‘n ander wereld met ‘n ander kalender en ‘n ander manier van tyd-lees.

Dis ons ‘waardes’ wat ons nader aan mekaar bring.

Wat ons deel.

Dit waaraan ons waarde heg.

Jy sien, ek dink die stories was sommer stront.

Daar was nooit ‘n Afrikaner nie.

Behalwe dalk vir ‘n vlietende oomblik van 1930 tot 1984.

Vyftig jaar is nie geskiedenis nie.

Aan die begin van die bydra is ‘n prentjie van die Afrikanerbees.

Jy ken hom.

Jy is dalk trots op hom.

Iets wat ons eie naam dra.

Maar soos baie is dit maar net nog iets waarop die Afrikaner naam gesit is, soos die Romeine van ouds wat Griekse gode en mitologie gevat het, nuwe name gegee het en dit hule eie genoem het.

‘n Naam maak dit nie jou eie nie.

Die bees was hier toe ou Jannie sy opwagting gemaak het.

Hy was hier lank voor dit.

Gebring deur ander mense uit Oos-Afrika en geteel en aangepas om perfek te wees vir hierdie omgewing en omstandighede.

Ek kyk na die Afrikaanse sangers.

Die Afrikaanse kuns.

Kurt Darren.

Steve Hofmeyer.

Ray Dylan.

Huh?

Nadine?

Bobby van Jaarsvled?

Met hulle ge-Amerikaniseerde polsings.

Is dit nou kultuur?

Is dit nou wat ‘n ‘volk’ maak?

Hulle het nie eens Afrikaanse name nie!

Bobby!

Ray!

Steve!

Hulle is maar net nog ‘n produk van ‘n volk wat nooit ‘n volk was nie.

Van ‘n groep mense wat sedert die laat vyftien honderds swerf.

Soek.

Vir amper vyf honderd jaar.

Die slag-offers.

Die geslagte offers van kolonialisme.

Ge-offer op die altaar van oes en uithaal en rykdom.

Saam met miljoene slawe wat ontwortel is en soos diere weggeruk is na vreemde plekke om arbeid te wees.

En miljoene ander wat uitgemoor is om plek te maak vir plase en industrie.

‘Art imitates life’, se die Engelse.

Fokkofpolisiekar.

Jack Parrow.

Charlize Theron, kaalgat in die duiwel se arms.

Is dit Afrikaner-trots?

Is dit Afrikaner-sukses?

Commen musiekante.

Commen flieks.

Commen brandewyn en Coke met commen vuil grappe ingemeng.

Sjoe!

Jammer, man.

Dis meer as die rand wat sy waarde verloor het.

Miskien …

Miskien het hy nooit waarde gehad nie?

Miskien was dit maar altyd ‘n kunsmatig opgeblaaste, gesteelde waardevolheid?

Miskien moet ek ver teruggryp, na geskiedenisse lank vergete om my kinders perspektief te gee op waar ons onsself bevind en wie ons is?

Miskien moet ek hulle leer dat swerwers gebore is in Europese gulsigheid en mag-honger?

Dat swerwers dwaal oor eeue heen?

Dat swerwer wees waarde het – in verskil maak.

In die beste wees wat jy moontlik kan, in verhouding met ‘n God wat al hierdie stukkend toelaat.

Nie die streng god van Kalvinisme of die pop-god van konserte en elektriese konserte nie.

Of die doellose god van Darwinistiese toeval nie.

Die God wat begeer het om in gemeenskap te leef met ‘n iemand soos hy.

En geskep het ‘n mensdom.

‘n Mensdom wat uiteengeloop het in Moslems en Jode en Christene.

‘n Mensdom wat hy probeer bymekaar bring het in die genade en liefde van Christus.

Wat net nog verder uitmekaar gedwaal het in haat en fenyn en honger om te oorheers.

Miskien kan ek my kinders niks anders leer as die geskiedenis van ‘n hopeloosheid wat soms oomblikke van glans beleef, wanneer ‘n William Wilberforce of ‘n Martin Luther King na vore tree om onreg in die kiem te smoor.

Waar is jou Wilberforce, Afrikaner?

Waar is jou King?

Ek skryf oor waarde verlore.

Miskien skryf ek oor waarde nog nooit gehad?

Oor lee illusie?

Oor ‘n bord skoonvee om van vooraf vol te maak, want niks wat tans op hom is het enige voedingswaarde nie?

Ek skryf hieroor in Afrikaans.

Ek bid hieroor in Afrikaans.

Want dis die taal wat my Ma met my gepraat het toe ek nog ‘n skoon papiertjie was.

Skoon is ek nie meer nie.

6 responses

  1. Ek lees hierdie stuk met groot belangstelling. Al wat my laat wonder is hoekom jy na De la Rey as ‘n lafaard verwys? As jy enige geskiedskrywing lees, is dit tog duidelik nie die geval nie. Ek kry ook maar die idee dat jy ‘n redelike aversie het in jou eie herkoms. Soos so dikwels die moderne en populere neiging is, gooi jy die baba daar doer saam met die badwater.

    • Hey Boer in Balingskap – ek het geen afguns vir die Afrikaner nie, maar wel vir die inbeeldings & goedkoopheid van verlorenheid, my skryf is ‘n roep, om wakker te word, om waarheid te soek en karrakter en betekenis te vind in iets met werklike gewig en inhoud. Wat De la Rey betref, ek dink geskiedenis is dikwels ‘n inbeelding, wat van mense en gebeure iets maak wat dit nooit was nie. Ek onderskat nie die waarde van hierdie manne se offers nie … hulle het ge-offer in ‘n stryd teen kolonialisme en hulle het gelewe met ‘n hoop op vryheid, soos so dikwels, het die ‘vryheid’ gelei tot opvolgende generasies se verlorenheid in rykdom en westerse individualisme. Ek dink ons het nodig om ons geskiedenis, ons oorsprong, ons wese van vooraf te gaan soek, ek dink ons het nodig om in hierdie soeke eerlik te wees … en dit sal dikwels beteken dat ons ook ons gebrokenheid moet sien. Dankie dat jy my eie stukkie ‘soek’ met my deel.

      Hoekom is jy in balingskap?

  2. Theunis, jammer dat ek so met die deur in die huis geval het, sonder om te groet.🙂

    Oor westerse individualisme en konsumerisme vind ons gelyke grond. Daarmee stem ek saam. Ek dink egter alle volke se geskiedenis is verinterweefd met mites en romantiese geskiedskrywing wat soms maar bra arm is aan feite en balans. Ek glo nie die Afrikaner is enigsins uniek in die verband nie. Net so het alle volke hulle commin elemente, hulle gepeupel en hulle Bobby’s en Ray’s ens. Ek dink sommige Afrikaners is baie hard om hulle self en hulle eie herkoms en geskiedenis. Dit speel in die bewindhebbers en hulle lofsangers, asook in die algemene Engelse pers (Brittania rules the waves!) se hande. Afrikaners se identiteitskrisis is juis deels agv diegene wat hulle klokslag herinner aan die foute van die verlede. Geen individu kan werklik positief aangaan met sy lewe as hy deurgaans gekonfronteer word met die foute van sy verlede nie. So ook nie ‘n volk nie.

    My ballingskap? Ek het al op my blog geskryf daaroor, maar ek spaar jou die ronddelf. Weens diverse redes en ‘n sameloop van omstandighede oefen ek tans die keuse uit om nie in my geboorteland te woon en te werk nie. Een van die redes sou wees dat ek nie meer baie tuis voel daar nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s