tabu

Gisteraand was ek en Zuko by die bekendstelling van ‘n nuwe spyskaart, van een van Port Elizabeth se beste hotelle, se restaurant.

Omdat ek Algemene Bestuurder by Kingfisher FM is kry ek heelwat uitnodigings na funksies en geleenthede in ons stad. ‘n Mens kan onmoontlik almal bywoon nie. Gelukkig het ek ‘n kookwater span omroepers & bemarkers wat hand by-sit en ook hulle deel doen.

En saam deel ons die lewe en stel ons belang in die mense met wie ons hierdie stad deel.

In die besigheidswereld gebeur dit maklik dat ons vergeet dat dit oor mense gaan en nie oor geld nie. Ons venote is nie besighede nie. Dis mense. Mense wat iets geskep het. En daardie skepping met die wereld wil deel. Of dit nou ‘n plek is waar ek al my handwerk & tuis-verbetering hulp-middels kan opspoor ingemeng met ‘n sterk dosis goeie advies of ‘n uitstalling van kinder & baba goedere of ‘n restaurant of ‘n radio stasie – ons het iets van onsself gevat en gemeng met idees en ander mense en iets groter het tot stand gekom.

Ek dink tussen ons by die radio stasie sal ons, teen Sondag slaaptyd se kant, net in die afgelope week, waarskynlik in die omgewing van sestig funksies bygewoon het.

Dit gaan nie oor glans nie.

Baie van die funksies is iemand wat iewers iets doen of vier of bekend stel en net begeer dat iemand met hulle daarin deel.

Dis wie ons is, is dit nie?

Of ons nou Afrikaner is of net Afrikaans, soos ek. Of Engels of Xhosa of Tswana of Zulu of watter DNA ookal die molekules van ons bestaan bymekaar hou.

Ons het behoefte dat ander met ons deel, dit wat ons gemaak het.

Gisteraand was so geleentheid.

Daar was twee dosyn mense.

‘n Klein funksie, selfs vir Port Elizabeth.

Bekendes soos Alfred Da Costa van die plaaslike sakekamer en Pierre Voges van die ‘Nelson Mandela Bay Development Agency‘.

Kreatiewes soos Simon van Simon Says Advertising wat die nuwe spyskaart uitgele en ontwerp het & die chef wat verstommende disse geskep het.

Ook ons gasheer en gasvrou van die Radisson Blu Hotel.

En dan twee media verteenwoordigers.

Port Elizabeth is klein. Maar genugtig darem ook nie so klein nie. Hier is ‘n paar radio stasies, ‘n paar koerante en ‘n paar aanlyn-nuusberiggewers soos MyPe en GatewayNews.

Die kos was uit die boonste rakke. Die gerookte eend die hoogtepunt. Oppad huistoe het ek en Zuko onderneem, as ons weer saam met ‘n paar vriende ‘n ekstra spesiale aand wil geniet, dan sal dit by Tabu wees.

Maar dis nie oor die kos of die restaurant wat ek wil skryf nie.

Dis oor twee ander goed.

Twee goed wat my opgeval het gisteraand.

Die eerste het te doen met hoe ons mense behandel.

As ek en jy besigheid doen, dan moet dit tog oor meer as ‘n ruil transaksie gaan?

Daar moet ook vertroue wees?

En belangstelling?

En as ek jou besigheid wil he & terwyl ek jou die hofmaak stel ek nie genoeg belang in jou om in jou hoogtepunte te deel nie, wat is die moontlikheid dat ek meer belangstelling sal toon, nadat ek jou geldjies in my sak gesteek het.

Die Olga van Meridian wyne, wat al die hotel se wyne verskaf, het genoeg belangstelling gehad om gisteraand by te woon.

Simon van die hotel se advertensie agentskap en sy pragtige swanger vrou was daar.

The Herald het ‘n joernalis en die hoof van hulle advertensie afdeling gevra om daar te wees.

Kingfisher FM het hulle Algemene Bestuurder en sy swanger vrou daar gehad.

Ek skat iewers het iets fout gegaan in die etiek van ons besigheid.

Ons het vergeet dat hierdie lewe bymekaar gehou word deur mense.

En dat belangstelling in mekaar se wereld die hartklop van ons transaksies behoort te wees.

‘n Hartklop.

‘n Menslikheid.

Ek dink, as ons net hierdie klein verskuiwingkie maak en onthou dat besigheid nie onpersoonlik is nie – dat dit gaan oor mense en menslikheid – dan sal heelwat in ons stukkie wereld verander.

Dalk sal ons ophou om besigheid te doen met mense wat net geldelike wins uit ons wil maak en nie sien dat die eintlike wins in ons gemeenskaplikheid le nie.

Dalk sal ons ‘n algehele verskuiwing in ons waardes maak.

Gulsigheid en venynigheid sal in elk geval afwesig wees.

Die ander ding wat my opgeval het gisteraand het te doen met ons vrees.

En ons dapperheid.

By die ontvangs bestorm ‘n jong Xhosa meisie ons. Siyanga. So rukkie gelede het sy ‘n joernalistiek internskap by die radiostasie gedoen en in tussen aanbeweeg om interne publikasies by ‘n motorvervaardiger te hanteer.

Ons druk en groet en gesels.

By haar is ‘n jong Tswana meisie, The Herald se joernalis.

Ons deel ‘n tafel.

Ons gesels oor ons pragtige uiteenlopende land.

Oor die blogs wat ons skryf.

Oor die werelde waaruit ons kom.

Ons gesels oor uiteenlopendheid en gemeenskaplikheid wat rustig saam in ons lewens nesskop.

Oor waar elkeen van ons studeer het.

Oor die voorreg van tersiere opleiding.

Na die einde van die aand ruil ons ‘Twitter-handles’ en Facebook-name.

Ek dink nie enige iemand anders het iemand nuuts ontmoet by daardie funksie nie.

Of iets nuut ontdek nie.

En hiermee gee ek Afrikaanses ‘n pluimpie, want ons is dapper mense.

Ons het die vermoe om grense oor te steek en mure plat te slaan.

Ons het ‘n nuuskierigheid en ‘n honger om te ontdek.

Dis ons grootste plus.

En as ons bereid sal wees om uit ons gemak-sone te tree, sal dit die ding wees wat ons stukkie wereld heeltemal verander.

Vergeet van skuld.

Vergeet van die onnoembare stront wat ons onder HF Verwoerd en John Vorster se leiding aangejaag het.

Moet dit nie ontken nie.

Maar moet ook nie dat dit, daai vuil bloedig gister, die ritme vir vandag uit drom nie.

Ek ontdek ‘n vergewensgesindheid.

‘n Liefde en opgewondenheid.

In almal.

Of sy nou Tswana is of Xhosa of Afrikaans soos ek, maar uit ‘n ander wereld.

Omdat ek se: hallo. my name is Theunis. This is Zuko. Shall we share this table?

Dis nie taboe nie.

One response

  1. Pingback: a new kind of business « Sevencitys' Blog

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s