afrikaners is plesierig

Dis net so na ses. Die dag se vergaderings en besprekings en werk is op ‘n einde en net voordat ek my rekenaar afskakel loer ek gou in by ‘Cousins’ om ‘n DVD te kry.

Die kinders het gevra vir ‘n komedie. Ek slenter deur bladsye en bladsye Amerikaanse films met kleurvolle omslae en uitlokkende titels. Dan spring Kurt Darren se ‘Ek Lief Jou‘ op die skerm. Ek vat hom. Ek het lus vir iets wat net myne is.

Meisie van Suidwesserig.

Ek kry dit as ek by die huis kom. ‘Pappa! Ons het gese ons soek ‘n komedie!’ Maar dis goed. Ek kan dit vat.

Zuko maak die tjoppies klaar, terwyl ek groente sny en tussendeur gesels ons oor mekaar se dae en dinge. Sy was by haar Pilates klas. Thomas het haar mooi gehelp. Sy is swanger. ‘n Effense laatlam. Die Pilates help. Later was hulle see toe. Sardinia Baai, een van Port Elizabeth se mooiste van mooi strande. Ek voel die sand onder my voete op die warm hout vloer.

Ons sluk ‘n bietjie rooi wyn.

Die groente is gaar. Om die tafel gesels ons oor die boek wat Zuko lees. Wilhelmiena vertel hoe stout die boerbokke was. Sophia wys haar dag se skoolwerk en Theunsie spog met die uitvindsel wat hy aanmekaar getimmer het.

Ons ruim die tafel op. Kry die skottelgoed in die wasser en trek die nagereg sjokolade nader.

Ons kyk.

Vol verwagting.

Kurt kan sing.

So op sy manier.

Hy kan populere liedjies optower.

Hy kan nie eintlik toneel speel nie.

Ook nie Christina nie.

Ilse de Vis doen oraait, darem beter as ekself in daai laerskool oparete.

Die effe ongemaklike toneelspel sou nog vergewe kon word as daar ‘n ordentlike storielyn was.

Maar niks.

En ek wonder of dit is wat Afrikaans geword het?

Huisgenoot skouspel.

Supersterre en Super Rugby.

Waar is die Murray Hofmeyer en Eugene Marais, die Adam Small en Jan Christiaan Smuts?

Is ons harte dan so verlore?

En ek besluit ek sal ‘blog’.

In Afrikaans.

Want ons is ‘n plesierige lot. Ons hou van partytjie. Nog altyd. Eet. Gesels. Uitbundig lag.

Maar iewers in ons lag was daar altyd ‘n iets.

Iets gewigtig.

En ek is mis dit.

Ek mis dit wanneer ek my vind in die geselskap van baie ander soos ek.

Wanneer ek toeskouer is van die ontwortelde honger vir finansiele onafhanklikheid, asof dit al sekerheid is wat oor is om te jaag.

Selfsugtig.

Roofdier-agtig.

Met nie ‘n enkele gebed vir enige iemand anders as my en ek nie.

Soos ‘n weeskind.

Wat nooit huis gevind het nie.

Weet ons dan nie dat ‘huis’ nie in klip en grond te vinde is nie?

Dat dit leef in die siel?

So nou skryf ek – en dalk lees jy en iewers langs die pad vind ons dalk weer ons hart.

6 responses

  1. Daar doer in die Fliek op kyknet gisteraand, het my lus so geprikkel vir ‘n ‘outydse fliek’ dat ek dit summier gaan soek het op takealot.com – Kom tot Rus. Daarin skiet Wena Naude die *** uit Tobie Cronje, en daar’s lag en goeie toneelspel in.

    Bog met hierdie verspotte pogings om Afrikaans op die grootskerm te kyk. Ek dink aan Die Storie van Klara Viljee, en dan aan Susanna van Biljon wat ‘n powere poging tot ‘n fliek was. En nag van die Negentiende, teenoor hierdie fliek wat jy gekyk het! Jirlikheid, soms wonder ek tot wat my volk gedaal het. Verspotte kommin lag vir *** anders is dit nie cool nie???

  2. en so in ons eendersheids – bly ons steeds ‘n brokkige stukkende nasie.

    Ek gesels lustig in die rooi taal vanoggend met ‘n naamgenoot by ‘n mediahuis in die Kaap, selfde naam en van – moet dan seker selfde stam gehad het ?
    Maar hardkoppig bly ons ons verbintenis met mekaar in engels uitrafel!

    ek het gisteraand aan my buurman erken dat ek glad nie eens meer die Afr dvd ding doen nie – selde na die musiek luister – kinders is in engelse skole –

    Nou gaan ek geskiet word en seker as ‘n hanskakie omgedop word!

    Ter my verdediging moet ek erken – nevermind wat jy mag dink……
    my taal bly myne, ek lief my man in my taal, ek draai my kinders toe in my taal, ek lag en huil in my taal – en al bid ek soms in die rooi taal – ken my God my as ‘n Afrikaner – deurmekaar, teen die tou en meestal vol stront. TROTS AFRIKANER!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s