3 klein varkies

Die sprokies verhaal van die drie klein varkies en die groot gemene wolf is ‘n ou westerse verhaal. Niemand is seker wie dit uitgedink het nie, hoewel dit in 1866 vir die eerste keer in ‘n boek verskyn.

Dit vertel die storie van nuut begin.

Van doodsgevaar.

Foute maak en op die ou einde oorleef in gemeenskap.

Is mos?

Die drie varkies word uit die huis uit geskop. Een bou met strooi. Een met hout. Een met stene. Die wolf wil hulle almal op eet. Op die ou einde vind hulle veilige vesting by die een met die steen huis & die wolf is daarmee heen. In elk geval in sommige van die stories. Ek dink daar is ‘n groot pot in die kaggel en die wolf wat in die skoorsteen afkom en wolf sop, of so het dit in afgespeel in die weergawe wat ek gehoor het.

Ek kon nooit die wolfsop ding verstaan nie.

Juk.

Gemeenskap is daar beslis in die storie.

Het jy al gedink daaroor dat die derde varkie (die een met die steen huis) tot die einde van sy dae opgeskeep gesit het met die ander twee varkies?

As jy mooi daaroor dink – die twee varkies wat met strooi en hout gebou het, hulle maak nie eintlik enige bydra, behalwe om dramaties weg te hardloop vir die wolf wanneer hy hulle huise plat blaas nie.

Dalk is die boodskap van die storie juis dat ‘industrie’ die veilige vesting vir almal sal wees.

Maar hulle bly in iemand anders se huis, die eerste twee varkies.

Vir altyd uitgelewer aan iemand anders se genade, en soos Oom Pierre altyd gese het, dit is ‘n verdomde genade.

Ekself bly in ‘n hout huisie. Ek het my dae gehad om my kinders gerus te stel, nadat ek niks vermoedend die eerste keer hierdie storie vertel het.

Gelukkig het die wolf nog nie kom blaas en raas nie.

Of het hy?

Blaas en raas hy dalk die heeltyd – met sy dreigement om ons op te eet?

Ek dink ‘vrees’ speel ‘n geweldige rol in Afrikaanses se lewe.

Vrees dat ons verswelg sal word.

Vrees dat ons oorweldig sal word deur geweld.

Vrees dat ons verarm sal word en weer sal moet leef soos in die dae van my Oupa Grootjie.

Dis nie so lank gelede nie.

My Pa was ‘n predikant.

My Oupa het sy vakmanskap by Murray & Roberts gedoen. Timmerman. Dit was in die laat dertigs, net voor die tweede wereld oorlog uitgebreek het.

My Oupa grootjie was ‘n by-woner.

‘n Plaas arbeider.

Eintlik minder as ‘n plaas arbeider, want ‘n arbeider kry darem ‘n loon.

My Oupa Grootjie het in ruil vir ‘n vervalle huisie en ‘n rantsoen vir die week sy hande se arbeid aangebied.

Die staat, ‘industrie’ het vir die res gesorg. Sy kinders se skool. ‘n Hospitaal om te besoek as hulle siek is. En rykes se genade (verdomde genade) vir ‘n verslete hemp en broek wat Ouma Grootjie heel kon naai, sodat kniee en elmboe nie uitsteek nie.

In sy oudag het die dominee daar by Oudtshoorn se pastorie vir hom ingespan in die groente tuin. Dit was ‘n goeie morg. En in ruil daarvoor dat hy gesorg het dat die pastorie altyd groente het kon hy die res van die opbrengs huistoe vat en op Saterdae smous op die dorp se sy-paadjie.

En nou jak ons die groente verkoper by die robot af.

En ons sien neer op die arbeider.

En ons genade is nog meer verdomp.

Dis gou om te vergeet waar ons vandaan kom.

Dis gou om te vergeet waarvan ons weg gehardloop het en in wie se arms in.

Ek en my kinders is nog ‘n generasie verder weg van die eenvoudige armoede van my Oupa Grootjie.

Ek wonder of ons die deur van ons hout huisie oop het vir diegene wat hardloop om weg te kom van die wolf.

En as dit dalk ‘n bokkie is …

Of ‘n kalfie …

Of ‘n hennetjie, of ons die deur nog wyd sal oophou en binne sal verwelkom, nie omdat hy ‘n mede-varkie is nie, maar omdat hy vlug.

Wat ons ookal doen, vark of kalf of hoender, dit het ons in gemeen, binne die stewige steen mure van industrie word ons vet gevoer vir die slagting.