we need a dream

Elke land het sy geskiedenis.

Suid Afrika is nie anders nie.

Lande se geskiedenisse kan nie in issolasie gesien word nie. En as dit by Afrika kom, en Suider Afrika, dan is hierdie land se geskiedenis vervleg met en beinvloed deur die geskiedenis van ‘n Industriele Rewolusie in Europa.

‘n Rewolusie met diep wortels in die Renaisance, die Reformasie en die Franse Rewolusie.

Alles dinge wat gebeur het in Europa.

Natuurlik het Afrika en Suid Afrika ‘n geskiedenis wat dateer na ‘n tyd voor die Industriele Rewolusie en Westerse Uitbreiding.

En hierdie geskiedenis het sy eie oorloe, sy eie kulturele opbloei, sy eie mooi en hartseer, verwoesting en genade.

Miskien is dit die geskiedenis van die mens – een van veg en verwoes, met oomblikke van opbou en genade wat ‘n klein stukkie hoop laat oplewe.

Die hoop dat daar iets moois versteek le in die wese van die mens.

In Suid Afrika bly onlangse geskiedenis op die voorgrond.

‘Onlangs’ in die sin van die laaste 5 tot 7 dekades.

Die Nasionale Party.

Aparthied.

En die val daarvan.

Vandag is dit alles weer in die nuus en aan alle kante is daar ontsteltenis en woede.

Oud-president FW de Klerk is by ‘n samekoms van Nobel-prys wenners in Chicago.

Hy word op TV verwelkom vir ‘n onderhoud.

En dan se hy: ‘… the concept of giving, as the Czechs have it now, and the Slovaks have it, of saying that ethnic unity with one culture with one language [everyone] can be happy and can fulfil their democratic aspirations in an own state, that is not repugnant.’

Hy praat natuurlik van die ‘buurstaat-idee’ wat deel was van Apartheid.

Dat Xhosa’s hulle eie ‘lande’ het in Transkei en Ciskei.

Dat Tswana’s ekonomies en demokraties uitdrukking gee aan hulle mens-wees in ‘n onafhanklike Bophutatswana.

En Venda’s.

En Peddi’s

En

En

In die hele sosiale-ingeneurswerk was daar natuurlik destyds geen beplanning vir ‘n Afrikaner-staat, in die huidige sin van die voorstanders van Afrikane-self-beskikking nie.

Daar was nie ‘n oog op ‘onafhanklike state’ wat werklik mekaar se gelyke sou wees nie.

Marionet is meer die woord wat in my gedagtes opkom.

Suid Afrika, met die paar stukkies afgesny sou die land van blankes, Afrikaans en Engels en Jood en Griek, wees.

‘n Ekonomiese reus met verwante afhanklike state wat stoei om te oorleef en te groei, maar waar ‘demokrasie’ darem in orde is.

Dis hoe dit vir my lyk, van waar ek sit, en ek is nie ‘n kenner op die gebied van Suid Afrikaanse geskiedenis nie en ek bedoel nie om ‘n finale opinie te formuleer wat breed aanvaar moet word nie.

Hierdie is sommer my gedagtes.

My ‘sin maak’ van iets waaraan ons eintlik nog te naby is om sin te maak, maar dringend nodig het om sin te maak.

As jy die artikels oor oud-president FW de Klerk se uitlatings wil sien, HIER is ‘n video-greep van die TV-onderhoud en HIER is ‘n artikel wat agterna daaroor geskryf is.

Wat vir my interesant is, is die openbare ontsteltenis.

Ek dink nie dat FW de Klerk al ooit on-eerlik was oor sy standpunt nie.

En sy standpunt is nie net sy standpunt nie.

Dis ‘n standpunt wat diep-gewortel is in die wese van Afrikaners.

Prof Jonathan Jansen beskryf iets hiervan in sy boek ‘Knowledge in the Blood‘.

Ek het die boek aan die einde van 2011 gelees en vroeg in 2012 ‘n boek-oorsig daarop gedoen (kyk gerus HIER as jy belangstel).

Jansen praat van hierdie ding dat Afrikaners glo dat ‘in sy wese’, die beginsel van apartheid geregverdig was, en is.

Dat die ‘probleem’ nie le in die ‘idee’ van aparthied nie, maar in die manier waarop dit tot uitvoering gebring is.

Dit is ‘n ‘geloof’.

Soos meeste van die ‘idees’ waarmee ons binne in ons loop en van waaruit ons lewe.

Nie ‘geloof’ in die Godsdienstige sin nie.

‘Geloof’ in die sin dat ons onwrikbaar daaraan vashou en vanuit dit leef.

Wat beteken – wanneer FW de Klerk se, in sy opinie was en is daar niks fout met die ‘idee’ nie – eintlik sou hy verkies om ‘n homogene samelewing te skep waarin almal Afrikaans praat, almal van Europese afkoms is en almal dieselfde God aanbid en almal dieselfde waardes verkies.

Miskien is dit ‘n heimwee na iets wat laas was, voordat die Industriele Rewolusie hierdie planeet en sy mense meegesleur het.

Of wat ons inbeelding ons laat dink daar was, iewers in ‘n beter verlede.

Of ‘n verlede wat ons dink beter was.

Die pre-industriele Europa was nie so ‘n wonderlike plek nie.

Nie vir die meeste mense nie.

Dit was ‘n arm wereld.

Waar lewensverwagting kort was.

En dood by geboorte algemeen.

Waar mense nie dikwels ver gereis het nie en grootliks ‘n oorlewings bestaan gevoer het.

Lewens uitgelewer aan vet Konings wat in oorvloed lewe.

As ek dink daaraan, het daar heelwat verander, maar die stukkie van lewens uitgelewer aan vet Konings bly konstant.

Maak nie saak wie jy is nie.

Maak nie saak wat jou ras of etnisiteit nie.

Miskien is die mislukking van die industriele-era en modernisme die opkoms van ‘n grootskaalse demokrasie wat groot hompe mense onderwerp?

FW de Klerk glo dat die Suid Afrikaanse regering, tussen 1948 en 1994, ‘n wettige demokratiese regering was.

Hy glo dat die Nelson Mandela wat deel was van die samesweringe om daardie republiek om ver te werp, iemand was wat verraad gepleeg het en in enige ander land met ‘n soortgelyke wettige demokrasie, ook veroordeel sou word, miskien selfs tot die dood.

Hy glo dat Nelson Mandela verdien het om tronk toe te gaan – miskien net nie lewenslank nie.

Ek wonder of dit wat verstrengel geraak het, ooit weer ontkoek kan word.

Ek dink Nelson Mandela het ‘n geheim geken.

‘n Geheim wat ontkoek moontlik maak.

Miskien was daai geheim diep-gewortel in sy eie geloof.

Die Ubuntu beginsel wat hy as seun geleer het in die onaangetaste Oos-Kaapse platteland.

Vergiffenis.

Gemeenskap.

Nie net ‘gun vir ‘n ander wat jy wil he nie’, maar ‘moontlik maak vir ‘n ander wat jy reeds het’.

Mededeelsaamheid.

Empatie.

Natuurlik word dit nie beskryf in hierdie gebrekkige westerse woorde en konsepte nie.

Eerder word dit beskryf in ‘lewe’.

In ‘wees’.

In hierdie opsig was en is Nelson Mandela ‘n man van integriteit.

Iemand wat soomloos leef vanuit sy wereldbeskouing.

Ten spyte van omstandighede.

En dit is hoe dit gekom het dat bykans twee dekades in die pad af, Suid Afrika ‘n relatiewe vreedsame land is, met groot vryhede.

As FW de Klerk die proses moes ‘lei’,dink ek, sou dit ‘n ander uitkoms gehad het.

Daarmee hemel ek nie Suid Afrika se huidige ‘leiers’ op nie.

Ek dink hulle en FW sou mekaar maklik vind en met gerief kon saamwerk, as hulle na dieselfde uitkoms gemik het.

Miskien het Suid Afrika ‘n nuwe droom nodig?

Een wat nie losstaan van ons geskiedenis nie – dis onmoontlik.

Een wat eerlik is oor die gebrokenheid van dit alles.

En eerlik is oor die onvermoe van demokrasie.

En die risiko van gesentraliseerde mag.

En die onvolkomenheid van ‘n politieke stelsel.

Miskien het Suid Afrika ‘n droom nodig wat nes kan skop in ons wese.

‘n Droom wat groter is as ons geskiedenis en ons seer, ons onlangse en nie so onlangse verlede.

‘n Droom wat lewe vind in ‘n nuwe soort samelewing.

‘n Droom wat opkom uit die harte van ‘n massa enkelinge wat hoop op dieselfde.

Daai droom sal nie van FW de Klerk af kom nie.

En Nelson Mandela het sy tyd gehad.

Miskien, iewers is daar ‘n iemand wat integroteit het.

Miskien moet ons hoop op ‘n groot genoeg krisis wat hierdie iemand die geleentheid kan gee om na vore te tree.

Want solank die krisis afgeweer word, sal die skape in die kraal staan, al is die krip leeg en die water bitter.

as hy weer kom

‘As hy weer kom, kom haal hy sy perels, al sy perels fraaie perels, vir Jesus se kroon. Ja, die kinder gesigies, soos die sterre se liggies, is die hemel se perels vir Jesus se kroon.’

Van kleins af al probeer ons sin maak van ons bestaan.

Van lewe.

En sterwe.

En hiernamaals.

Van hemel en ewigheid.

In die kinderkrans sing ons, terwyl iewers anders hippies met bell-bottom jeans betoog teen oorlog, van kinders wat ge-oes sal word.

Soos skatte.

Uit die see gehaal.

Om aan stringetjies geryg te word.

Mondelose versiering.

Dis mos wat perels is.

In daai skulp.

Tot hy uitgehaal word.

En geryg word.

Om uitgehaal te word en afgewys te word op spesiale geleenthede as bewys van die eienaar (of haar metgesel) se welvaardt.

Ek is nie ‘n perel nie.

En ek laat my nie oes nie.

Die week staan ek by Tannie Joekie se graf.

Die dominee se: “ons treur wel, maar nie soos ander wat geen hoop het nie, want ons hoop is in Christus. Daarom roep ons uit saam met Paulus, ‘dood waar is jou angel’ en ons wag geduldig op die ewige lewe.”

Wat hierdie ewige lewe is, se hy nie.

Nie op hierdie dag by Tannie Joekie se graf nie.

En ek wonder of Tannie Joekie al daar is.

En Sarel.

En Awie.

En Gert.

My vriende wie ek ookal moes gaan toespit met woorde van hoop bedoel as woorde van troos wat onbeholpe rond tas na iets wat net buite bereik bly.

Oor die lewe, praat ek maar altyd.

Want daarvan weet ek.

Ook nie baie nie.

Maar meer as van ‘n lewe na hierdie een.

En terwyl die handjievol die woorde van ‘n geloofsbelydenis na se en ‘n kis die gat in afsak, wonder ek of wat ons glo van ‘die ewige lewe’ ‘n invloed het op hoe ons leef en of ons leef in hierdie verganklike een.

‘ … van waar Hy sal kom om te oordeel … die wat nog lewe, en die wat reeds gesterf het … ‘

‘Ons glo in ‘n ewige lewe … die opstanding van die dode … Amen.’

Amen

En as ons dan opstaan?

En as ons dan geoordeel is?

Wie sal tog voor ‘n regverdige God kan kom en aanspraak maak op goedheid?

Miskien guns?

Want ons ken onsself, agter die wit pleister.

Ja, guns, is hoop.

Want daarsonder lyk dit maar somber.

Maar om ge-oes te word, sodat ek gehang kan word aan ‘n hemelse halssnoer, klink ook nou nie eintlik vir my na guns nie.

Om weer te lewe.

Nog te lewe.

Anders te lewe.

Heel.

Dit sal guns wees.

En dit is my hoop – dat Joekie en Gert en Sarel en Awie, en dalk ek en ons een dag, sal ‘weer kom’.

Nie om gehaal te word of te kom haal nie.

Maar om te wees.

In vol-komenheid.

Hannes Windferwaai

Hannes is ‘n goeie ou.

Hy’t groot geword in Port Elizabeth in die tyd toe min mense karre gehad het en belangrike geleenthede nog met ‘n telegram laat weet van is.

Sy Pa het by die skoen fabriek gewerk.

Sy Ma by Greaterman’s.

Hy’t in die oggend skool toe gestap, saam met sy drie broers en twee susters. Hy was die jongste van die ses. Hy’t sy kamer gedeel met die drie broers. Oom Willie het in die buitekamer op die stoep gebly. Niemand weet of Oom Willie regtig familie was nie. Hy was soos familie. Maar ook nie heeltemal nie. Amper soos sy gedagte. Soort van daar, maar ook nie heeltemal nie. Oom Willie was geboard by die spoorwee. Hannes kon nooit agterkom wat oom Willie by die spoorwee gedoen het, toe hy nog iets gedoen het nie. Hy’t net geweet Oom Willie het sy ongeskiktheids-pensioen een maal per maand gekry en daarmee kon hy vir hom Komando sigarette koop; genoeg vir die maand. En brylcream. Genoeg vir die maand se geleenthede.

Soos Sondag Kerk.

Of Woensdag se skool vergadering.

Nee, Oom Willie het nie kinders in die skool gehad nie, maar Hannes se pa moes soms die nagskof by die skoenfabriek doen en dan was dit handig as Oom Willie namens hom die skool vergaderinge by-woon. Nie dat Oom Willie regtig die vergadering se vorderinge kon volg of ‘n sinvolle bydra kon maak nie. Maar hy was darem ‘n volwassene. En as hy nie gepraat het of te veel keer opgestaan het om homself aan die voorsitter voor te stel nie, dan het niemand agter gekom dat hy ongeskik verklaar is nie.

Hy was nie ongeskik nie.

Hy was eintlik baie vriendelik.

Behalwe daai een aand toe die boerejoot wat baie onlangs van Oudtshoorn af Port Elizabeth toe getrek het, vir hom gese het hy moet nou sit omdat hy die vergadering nou al te veel onderbreek het.

Die joot het nie lekker verstaan nie.

Nie soos die ander mense nie.

Hy’t gedink Oom Willie is aspris.

Moedswillig.

Oom Willie was maar net Oom Willie.

Tot die Joot vir hom gese het: ‘Magtig, sit nou en bly stil, meneer. Ons almal sien jy is hier en jy is belangrik, maar anders as jy het ons egter mense wat eintlik opgewonde is dat ons vanaand huistoe kom.’

Daai aand het die joot met ‘n blou oog en opgeswelde wang huistoe gegaan.

Nadat die konstabel die petalje uitmekaar gehaal het.

En Oom Willie het sewe weke in sy stoepkamer deurgebring.

Dit was eers in week vyf dat hy begin drink het aan die tee wat Hannes se Ma elke oggend vir hom gevat het.

En na die einde van week sewe dat hy vir Hannes gevra het om winkel toe te stap en Kommando sigarette te gaan koop.

Toe Oom Willie daai middag op die stoep kom sit het Hannes geweet waarom Oom Willie gebord is.

Dis oor verlies.

Daar is baie soorte verlies in hierdie lewe.

Terwyl Oom Willie die middag stadig suig aan sy sigaret en stadiger sluk aan ‘n koppie swart tee het Hannes se Ma by hom gesit. Geluister hoe die oom vertel van ‘n tyd toe hy mense gehad het wat uitgesien het dat hy huis toe kom. Maar toe’t hy nie geweet mens kan soveel verloor nie. En het laat gewerk. En na werk eers by die kroeg gedraai. En oor naweke altyd ‘n projek gehad. En nou’s dit te laat. Want hoe kry jy hiermee ‘n tweede kans?

Seker daarna wat Oom Willie so kyk in sy geestesoog as hy ander dae op die stoep sit en staar, in die niet, sonder knip van oog of roer van hart.

Verlies.

Hannes sou ook by die skoen fabriek werk gaan soek as hy tot by standerd ses kon kom, maar net na sy dertiende verjaarsdag het sy Pa een middag by die huis gekom en vertel dat die fabriek toemaak. Glo nie meer winsgewend nie. Toe is sy broers Rand toe. Na die myne. En sy susters kort daarna getroud.

En dit was net hy.

En Oom Willie met sy herhinneringe op die stoep.

En sy Pa.

Elke oggend het sy Ma nog koers gekies Graeterman’s toe. Na ontbyt. Dan’t sy Pa die skottelgoed gewas. Die wasgoed opgehang en die huis opgeruim, voor hy pad vat Tote toe. Om te speel. In die hoop. Dat iets sal verander.

Waarmee sy Pa gespeel het kon Hannes nie uitwerk nie.

Want sy Ma het die geld verdien en die bietjie aflos geld van die skoen fabriek moes lankal op gewees het. En tog, elke nou en dan het Hannes se Pa by die huis gekom. Uitbundig. Effe besope. Vol brawade. Want die geluk het gedraai. Die begin van groot dinge.

Vir elke paar pond gewen was daar meer ponde verloor.

Meubels het minder geword.

En eendag het hulle getrek.

Na die buitewyke van die dorp.

Dit was ‘n buitekamer by mense se huis.

Sy Pa het in die mense se tuin gewerk.

Sy Ma het hulle wasgoed gedoen. En gekook. Die vloere en die vensters gewas.

Hannes het agter die mense se seun gesit by die nuwe skool.

Hulle was ewe oud. In dieselfde klas. Maar die seun het nie met hom gepraat of met hom gespeel nie. Behalwe nou en dan as hy Hannes gestuur het om iets te doen. Want al was hulle in dieselfde klas, hulle was nie in dieselfde klas nie.

Toe hy sestien word is Hannes vort.

Dis sestig jaar gelede.

Of sy Pa en Ma hulle dae by daai mense uitgeleef het en of hulle dalk aanbeweeg het iewers anders heen, weet Hannes nie.

Hy is te windverwaai.

Deur die lewe.

Hy stoei te hard van oomblik tot oomblik teen die vrees dat hy sal verloor wat hy versamel het oor dekades en dalk sal moet gaan bly in ‘n stoepkamer of ‘n buitekamer om verslae te suig aan Komando Sigarette of die hoop dat ‘n perd sal wen.

Hy is nie myne toe soos sy broers nie.

Hy is spoorweg toe.

Op die treine.

Eers portier op die peron.

Toe assistent in die kombuis op die trein tussen Kaapstad en Johannesburg.

Vir vyf jaar op en af.

Heen en weer tussen twee groot stede.

Op ‘n stadium was Hannes kelner.

Vir ‘n tyd het hy skottelgoed gewas.

Van die begin af het hy ‘n voorraad drank, sigarette, sjokolade en sout versnapperinge saamgery en laat in die aand as dienste nie meer beskikbaar was nie, was hy die ‘kamer-diens’ wat ten duurste in reisigers se behoeftes onderneem het.

Mettertyd het Hannes ritmes en roetienes ontdek.

Passasiers wat gereeld dieselfde reise onderneem.

Op dieselfde stasies afklim.

Vir dieselfde dienste skimp.

En sy laatnag dienste is uitgebrei.

Na meer as wat gestoor kon word in bokse onder kaste en in dienswaens.

‘n Vyf rand aan ‘n kondukteur en ‘n tien rand aan ‘n bestuurder het almal te vrede gehou.

Vir ‘n tyd.

Soos Hannes se span privaat ‘kelnerinne’ uitgebrei het, het die vyf- en tien rande meer geword.

Die winste ook, so dit het nie saak gemaak nie.

Teen een-en-twintig het Hannes ‘n bedryf aan die gang gehad wat hom meer in die sak gebring het, in een maand, as wat sy Pa en Ma saam by die skoen fabriek en Greaterman’s verdien het in’n jaar.

En groter pret ook.

‘n Man kan mos proe aan sy eie voorraad en geniet wat jy bedien.

Meer as dit het Hannes nie geniet nie.

Winste is weggesit.

En toe die spoorweg polisie snuf in die neus kry het Hannes genoeg van ‘n nes-eier opgebou om sonder om twee keer te dink weg te stap en oor te begin.

In Johannesburg se middestad huur Hannes winkelspasie.

Hy ken kleinhandel.

Hy’t genoeg dae geluister na sy Ma se praatjies van Graeterman’s se vloer af.

Hy ken skoene.

Baie nagte, as dit sy Pa se skof was, het hy saamgegaan. Masjiene gekyk. Verpakking. Verskeidenheid.

Hannes was honger.

Vir ‘n onbekende ‘geluk’ wat sy Pa laterjare op die Tote gaan soek het.

Waarna Oom Willie op die stoep gesit en staar het.

Waarna sy Ma verlang het, sonder hoop, dag-in en dag-uit.

Hy kon nie die dis wat hy wou eet beskryf nie.

Hy’t nie eens die resep geken nie.

Hy’t net geweet van die bestandele is baie geld en iewers iemand wat hoop dat jy huistoe kom.

Sy een skoenwinkel en vier geword en toe ses en toe veertien.

Klere winkels het by-gekom en met ‘n neseier, gebou uit onwettige drank en meisies wat nie liefde ken nie en gejaag was deur hulle eie honger, het Hannes ‘n kleinhandel ketting gebou met winkels in elke groot stad en selfs in sommige groter dorpe.

Nou nog se hy dat hy maar net ‘n smous is.

En hy was eerlik. Sy passie was nie vir skoene of klere of juweliersware nie. Sy passie was vir die opbrengs. Eintlik ook nie eens die opbrengs nie. Eerder dit wat die opbrengs kon koop. Huise. Karre. ‘n Vrou. En nog een. Kinders.

Teen die tyd dat Hannes vyf-en-dertig was het hy dit reggekry om homself ver weg te vat van die klein huisie duskant die skoen fabriek en nog verder van die bediende kamer waar hy sy tinderjare moes deurbring.

Toe hulle sy veertigste verjaarsdag vier was die koerant daar gewees. En sy eerste vrou. En sy tweede vrou. En sy huidige meisie. Sy drie kinders ook. Hulle was almal lief vir hom. Lief vir die lewe wat hy hulle gegee het. Lief vir die sekuriteit en die vryheid en die vreugde.

In Italie en Frankryk het Hannes ‘n bekende geword. Dis waar hy dikwels voorraad gaan kyk het. Die VSA en Japan het hom ook geken.

En terwyl Hannes deur die wind oor die wereld heen gewaai is en sy kleinhandel koninkryk gebou is het sy drie seuns vanself groot geword en sy drie vrouens oud.

Vanmiddag sit hy op die stoep.

Die bank waarop hy sit is ingevoer en sag. Die kussings gemaak uit fyn vier keer gevoude katoen. Die glas waaruit hy die bietjie whiskey suig is handgekerfde kristal en die whiskey is Johnny se donkerste ettiket. Die sigaret waaraan hy suig is maar net nog ‘n sigaret, want maak nie saak hoeveel jy verdien nie, op die ou einde is sigarette maar net sigarette.

Soms sal hy ‘n duur kubaanse sigaar op die stoep sit en suig.

Een gerol uit ‘n enkele blaar en sorgvuldig gebere in ‘n kabinet wat die atmosfeer beheer.

Maar meeste van die tyd is net nog ‘n sigarette die metgesel van sy baie duur whiskey.

Amper soos die lewe.

Net nog ‘n vrou.

Net nog ‘n seun.

Net nog ‘n stoep.

Windverwaai staar hy in die hoop dat hy sal sien wat Oom Willie gesien het.

Maar hy kan nie.

Want in ses-en-sewentig jaar het hy nie een keer sy hart oopgemaak teenoor iemand nie.

Nie een keer sy diepste geheim gedeel nie.

Nie eens met ‘n vreemdeling of huurling wat die eensaamheid van die nag moes kom verdryf nie.

Vandag wonder hy of hy ‘n hart het?

Of sy hart nie lank gelede in daai beknopte huisie in Port Elizabeth se industriele gebied uitgesny is nie.

Deur armoede en verslane ouers, geslote fabrieke en resiesbane wat elke laaste bietjie roof.

Dit was sestig jaar gelede.

Dit was maar sestien jaar van sy lewe.

Met wat hy versamel het kan hy duisende van daai klein huisies koop en plat slaan en oor bou en meubileer.

Met wat hy versamel het kan hy honderde gesinne wat in bediende kamers woon help.

En ter loops het hy dalk.

Sy winkels het baie mense werk gegee.

Baie gesinne se kos voorsien.

Maar altyd net-net.

Minimum loon.

Minimum voordele.

Maksimum ure.

Maksimum verantwoordelikhede.

Dis hoe jy rykdom bou.

Jy vat wat jy kan.

Verkoop wat jy kan.

Koop so goedkoop as moontlik.

Verkoop so duur as moontlik.

Of dit skoene is, of arbeid of liefde – die beginsel bly dieselfde.

Vanmiddag onthou Hannes die woorde van die prediker.

Ja, jy moet nie dink omdat hy groot geword het soos dit was en geleef het soos dit is, dat die Kerk afwesig was in sy lewe nie.

As kind was hy in sondagskool.

As tiener het hy die verslete genade-drom klere uit die kerk se barmhartigheidsdiens gedra.

As jongman is hy daar getroud.

Drie keer.

En sy drie seuns is daar gedoop.

En sy geld het klank toerusting befonds.

En sale vir jeugdienste en troue onthale.

En nuwe stoele om ou banke te vervang.

En tjeks om boeke te laat klop.

‘Alles is ‘n gejaag na wind.’

En wind kan jy nie vang nie.

Dit verwaai jou net.

Sodat jy alleen op ‘n stoep sal sit en suig aan lee herhinneringe en vol verdriet.

Hoe maklik vergeet ons waar ons vandaan kom?

Hoe maklik gebruik ons, netsoos ons gebruik is?

Hoe maklik vlieg dekades verby, spandeer ons lewens op lee nikssegendheid, om te sterwe asof ons gebore was sonder rede?

Hoe maklik kom ouderdom, na ‘n leeftyd van meer-as-genoeg, saam met die vrees dat ons nie genoeg sal he nie?

Hannes Windferwaai is op drie-en-tagtigjarige ouderdom oorlede.

Dit was ‘n groot begrafnis gevolg deur ‘n groot geveg tussen sy drie seuns, hulle drie ma’s en twee meisies wat almal aanspraak maak op Windferwaaide miljoene.

Tien jaar na sy dood het die laaste skoen winkel toegemaak.

Die een in Johannesburg se middestad.

Die eerste een wat Hannes oopgemaak het.

Vyftien jaar na sy dood het sy eerste vrou die eerste huis wat Hannes gekoop het, verkoop.

En daar was niks meer oor van alles wat Hannes gebou het nie.

Sy seuns se verslae lewens was nog meer windverwaai as syne.

Sy klein seuns sin verwoes deur orkaan op orkaan deur geslagte heen.

Want windferwaaidheid het niks te doen met rykdom of armoede nie.

Maar alles met verlatenheid.

Dalk as Hannes se Pa minder bekommerd was oor die volgende dag en die oudag, en meer oor hierdie dag.

Dalk as sy Ma minder behep was met nuwe tee serfies wat sy in elk geval nooit sou gebruik nie, en meer oor saam tee drink en gesels en koester.

Dalk sou dit dan anders wees vir Hannes en sy broers en susters?

Maar hulle het ook Pa’s gehad.

En Ma’s.

En verlatenheid op windverwaaide vlaktes van uitgelewerde eensaamheid deurdrenk met ontkoppelde verhoudinglose bestaan.

‘Ek het gekom dat julle lewe kan he, en dit in oorvloed’, lees die dominee op Hannes se begrafnis. ‘En oorvloed het Hannes geken,’ verklaar hy dapper, want dit maak alles reg. ”n Geseende lewe.’

Indrukwekkende Luisteraarskap vir Kingfisher FM

Vir vrystelling op Vrydag 13 April 2012

Nagenoeg twintig-duisend aanlyn luisteraars, wat dui op 150 000 tradisionele luisteraars – dit is die jongste syfers wat bekend gemaak is vir die Nelson Mandela Baai gebaseerde niche-saaier, Kingfisher FM.

‘Verlede maand het hulle 19 840 unieke luisteraars op audio streaming gehad,’ het Chris Grant van die NetDynamix Groep in ‘n onafhanklike verslag gesê.

‘Hierdie luisteraars het gemideld 2 ure en 55 minute geluister. Die syfer is in ooreenstemming met radio stasies met ‘n RAMS van ongeveer 150 000 tradisionele luisteraars,’ lui die verslag.

‘Dit is indrukwekkend’, het Grant gesê..

‘Die lekker ding van hierdie syfers is dat daar niks duimsuigery of raaiwerk aan verbonde is nie’, het Theunis Pienaar van Kingfisher FM gesê. ‘Die inligting is nie gebaseer op ‘n 4-syfer monster wat geprojekteer word na ‘n 7-syfer bevolking en 3 maande later beskikbaar is nie. Dis werklike syfers, elektronies gemeet en onmiddelik beskikbaar. Dit pas by nuwe generasie media wat van oomblik tot oomblik moet kan aanpas. Dit gee ons ‘n baie goeie beeld van ons realiteit.’

Rayno Grundling van Nitsec, wat die stasie se tegnologie oplossings bestuur het gesê die nuwe syfers dui op ‘n massiewe groei vir Kingfisher FM. ‘In Desember 2011 het die stasie 1750 aanlyn luisteraars gehad. Ons het die nuwe streaming oplossing sedert Februarie begin uitrol. Om ons aanlyn luisteraarskap na bykans 20 000 te groei in hierdie kort bestek van tyd is inderdaad baie indrukwekkend,’ het Grundling gesê.

‘Ons glo ons huidige groei kan aan ‘n paar dinge toegeskryf word,’ het Xandre van der Berg, die stasie se produk & ontwikkelings bestuurder gesê. ‘Ons het ‘n vars nuwe beeld geloods in Februarie. Dit het nuwe produk ellemente ingesluit. ‘n Sterk fokus op eenvoud, kwaliteit plaaslike inligting en intelegente nou-opinie. Ons het ook ‘n goed ontwerpte advertensie veldtog geloods met bewus making op verskeie platforms van koerante, tot buite advertensie, aanlyn-advertensie en TV-advertensie.’

‘Ons produk is op heeltemal ‘n ander plek as die van ‘n enkel-medium tradisionele uitsaaier,’ het Zelda George, die stasie se bemarkings bestuurder gesê. ‘Kingfisher FM is ‘n nuwe generasie, multi-platform produk met radio aan die hart wat gekomplementeer word deur ‘n webwerf, 7 blogs, uitgebreide Sosiale Media dekking en direkte persoonlike kontak met die gemeenskap.’

‘Dis niche-saai’, het Wouter van der Westhuizen, ‘n direkteur van Kingfisher FM gesê. ‘Mense kom bymekaar rondom waardes. Ons produk is op ‘n baie spesifieke groep gemik. Ons maak geen verskoning daarvoor nie. Dat ons weet wie ons is, is ons sterk punt. Mense wat ernstige is oor konstruktiewe verandering, positiewe gesinswaardes, ons omgewing, verhoudings-gebaseerde-lewe en die daadwerklike maak van ‘n verskil – beïnvloeders – hulle is deel van die mense wat ons geniet. Hulle is die mense met wie ons die lewe deel en elke dag ons stukkie wêreld ‘n bietjie beter maak.’


_____________________________________________
BRONNE
Chris Grant, NetDynamix Group: chrisg@ndgroup.co.za
Rayno Grundling, Nitsec: rayno@nitsec.co.za
Theunis Pienaar, Kingfisher FM: theunis@kingfisherfm.co.za
Xandre van der Berg, Kingfisher FM product & development manager: xandre@kingfisherfm.co.za
Wouter van der Westhuizen, Kingfisher FM Director: wouter@chrishowes.co.za

Foto: Lize-Mari Arthur, actualiteits & leefstyl aanbieder by Kingfisher FM

An English version of this Media Statement is available here

vriendskap

Ek wonder oor vriendskap.

Bestaan dit?

In hierdie tyd?

Is daar geleentheid vir dit om getoets te word?

Vir vriendskap om werklik vriendskap te wees?

Meer as ‘n ligte geselsie oor ditjies en datjies oor ‘n koppie koffie of ‘n glas wyn.

Ek is omring deur vriende.

Ek is bevoorreg.

Sal hierdie vriende in ‘n oomblik alles los om my te help as ek in nood is?

Ek weet nie.

Miskien is dit nie die vraag nie.

Miskien is die vraag eerder, as ek dan so baie vriende het, is ek ‘n vriend vir al die vriende?

Sal ek in ‘n oomblik alles los om een van hulle te help?

Enige een van hulle.

Met enige iets?

Vriendskap is iets wat gegee word, voordat dit ontvang kan word.

Vriendskap is iets wat gegee word, sonder dat dit gemeet word.

Vriendskap is prysgee.

Opgee.

Saam stoei.

Dit is ongerief.

Ongemaklik.

Dit skaaf.

En skuur.

Dit kos.

Miskien ken ons nie vriendskap in hierdie tyd nie?

Miskien ontneem ons welvaart en versekerde bestaan ons die geleentheid om vriend te wees en vriendskap te proe?

die harmonie van teenoorgesteldes

Victor

Pasmore

Kunstenaar

Abstrak

Onlangs

Oorlede

Relatief

Die hartklop van hierdie werk en die gedagte ingeweef in die titel en vorms bemoedig my terwyl ek probeer sin maak van teenoorgesteldes wat oenskynlik nie harmonie kan vind nie.

Hy is gebore in 1908.

Hy het gesterwe in 1998.

Die kunswerk hierbo is onlangs deur Christie’s verkoop vir $5,073.00

Merkwaardig.

Die kunswerk se titel is: ‘The Harmony of Opposites

Miskien was Victor Pasmore ‘n optimistiese dromer?

Miskien was hy ‘n sarkastiese suurknol?

Ek sou graag wou dink dat ons harmonie kan vind in teenoorgesteldes.

Nie ten spyte van teenoorgesteldes nie.

Dit is hoe ons dikwels dink.

Reken.

Bereken.

Swart en wit.

Lig en donker.

Lank en kort.

Mooi en lelik.

Reg en verkeerd.

Ek dink ek het ‘n toets hieroor geskryf.

Iewers.

In Verkenner Laerskool.

Bo en onder.

Heel en stukkend.

Skoon en vuil.

Helder en dof.

Slim en dom.

Positief en negatief.

Hoop en moedloos.

Vrolik en bedruk.

Ek kry die indruk dat die Suid Afrika van die sewentigs waarin ek groot geword het ‘n Suid Afrika van skoon lyne was.

Ek kry die indruk dat nie net die Suid Afrika van die sewentigs so gelyk het nie, maar die wereld van die sewentigs.

‘n Plek waarin alles gekategoriseer kon word.

En beskryf.

En beoordeel.

‘n Plek waarin alles gesorteer kon word.

Soort by soort.

Volgens eienskappe.

Ek kry die indruk dat hierdie ‘n oorwonne wereld was.

Mooi netjies uitgepak.

Ek kry die indruk, hoewel almal dit dalk nie besef nie, dat die gesorteerde netheid van die sewentigs ‘n illusie was.

‘n Skamele poging om beheer te neem oor ‘n werklikheid wat nie werklik beheer kan word nie.

Ek kry die indruk dat teenoorgesteldes dalk nie die enigste manier is om my omgewing en belewenis te beskryf nie.

Bly of hartseer.

Dis nie so plat nie.

Dis ingewikelder.

Ek is bly dat Zuko op 41 ‘n laat-lammetjie vir ons verwag. Ek is bly dat ek kan uitsien daarna dat ek weer van vooraf Pa kan wees. Dat wanneer die eerste drie al groot is en gekom het tot my meerdere, hier nog een gaan wees wie ek kan vorm en voed.

Ek is ook hartseer.

Want ek weet in watter lewe hierdie een en die ander hulle weg sal moet maak. En ek weet dat die wereld-beskouing wat hulle saam met ons gaan oopbreuk soos hulle ouer word nie ‘n gewilde kyk op die lewe is nie en hulle nie noodwendig stomp genoeg sal maak om blind en stom deur die lewe te vreet en verteer en vertrap nie.

En noodwendig sal dit swaar bring.

Ek is hartseer oor die onvermoe.

My eie.

Wat hulle affekteer.

En hulle sin.

Wat hulle sal laat mis.

En midde in die bly en hartseer is ek angstig ook.

Want sal hierdie een gesond gebore word?

Sal enige en almal van hulle bly lewe en ons begrawe of sal ek en Zuko by een van hulle se grafte moet staan?

Sal ek dit kan deurleef?

Ek weet nie.

Ek dink nie so nie.

Bly en hartseer en angstig is nie al nie.

Daar is dankbaar ook.

En verstom.

En verslae.

En hoopvol.

En bevredig.

‘n Bredie van belewenis en emosie in teenstrydige harmonie.

Nie bi-poler nie.

Multi-dimensioneel.

Ek is mal oor my werk.

Regtig versot daarop.

En tog is daar stukke daarvan wat ek verpes.

En ander wat ek bloot geniet.

Asof op ‘n spektrum daar uiteenlopende verskeidenheid te vinde is.

Ek sit vier ure elke dag bykans alleen in ‘n ateljee.

Ek spandeer daai selfde vier ure in intieme verbintenis met derduisende mense.

Die harmonie van teenorrgesteldes.

Miskien is dit iets wat ons kan ontdek?

Hierdie harmonie.

In meer.

As net ons individuele lewens.

In ons samelewing.

Ons saam leef.

Ons gemeen-skap.

Die harmonie van teenoorgesteldes.

Op ‘n kontinent met intense energie voorsienings uitdagings en massiewe geleentheid om te ontdek en te innoveer.

Met desperate stryd om mag en identiteit bespat met diep, betekenisvolle erfenis en tradisie.

Relatief

Oorlede

Lank gelede

Konkreet

Kunstenaar

moet my asseblief nie in die bootjie laai nie

Op 28 Februarie stel Afriforum hier in Suid Afrika ‘n video-produksie vry – hulle is ontsteld oor ‘geskiedenis wat verdraai word’. Hulle het, na die oordeel van spesialiste in die veld, honderde duisende rande spandeer op die vervaardig van die video & deelname van bekende Afrikaner sangers, soos Steve Hofmeyer & Adam Tas, bevestig die waarskynlikheid.

Hulle sê: ‘ons was daar’.

Hulle praat van ‘n oorlog in Angola.

Miskien praat hulle van meer?

Miskien praat hulle van ‘n stuk geskiedenis?

Alles wat verloop het sedert 1948.

Alles wat verloop het sedert 1910.

Alles wat verloop het sedert 1652.

Ek weet nie.

Ek was nie daar nie.

Ek het maar in hierdie lewe ingekom in die lente van 1971.

Toe skoliere in 1976 uitmekaar geskiet is en ‘n grensoorlog begin is – ek was ‘n kleuter.

Hulle is reg – ek was daar.

In die rustige blanke woonbuurt, Westering, in Port Elizabeth.

Ek het modder koekies gebak en duiwe met my kettie bygekom.

Op Sondae het ek Sondagskool toe gegaan, nadat ek vir ‘n hele uur geluister het hoe my Pa preek, met my Ma se haakspeld meer in my been as daar uit.

Ek was nie in Angola nie.

Maar dit maak nie saak nie – Afriforum klaar die saak vir ons op.

In ‘n engelse artiekel op hulle webwerf, se hulle: “AfriForum and AfriForum Youth will also address the following political misrepresentations, among others:The political misrepresentation that all white landowners stole their land … that everyone who supported the ANC during the struggle is irreproachable … that Afrikaners’ history is evil in all respects … that South Africa is not Afrikaner’s native land … that the various black tribes have always lived in South Africa.’

‘n Mond vol.

En ek dag toe, maar jitte, as die politieke wanvoorstelling ‘n opsetlike werklikheid is, dan is ek seker in die moeilikheid.

Dan moet ek seker gemarginaliseer wees in hierdie samelewing.

Selfs sonder dat ek dit besef het.

Want ek is grootendeels Afrikaans, en ek betaal elke maand pligsgetrou aan my verband en niemand het my nog vasgetrap oor slagtersnek of selfs die slag van bloedrivier nie.

Nou het ek al geleer – aannames is baie keer die moeder van moeilikheid.

En in plaas daarvan om aannames te maak (of sommer net te glo), nooi ek toe vir Zandisile Qupe, Streeks Sekretaris van die ANC om by my aan te sluit in die ateljee by Kingfisher FM, dat ons openlik en in die openbaar oor die ding kan gesels.

Ek wonder of hy gaan opdaag.

07h30 is dalk ‘n bietjie vroeg.

Hy het 4 seuns wat by die Universiteit en skool moet kom.

En as ek in die moeilikheid was, as ek onseker was oor wat om te antwoord of dalk ‘n moeilike kwessie wou ontduik, dan sou ek net dalk moontlik ‘n verskoning gehad het.

Maar hy kom.

Hy is 20 oor al hier.

En ons gesels.

Vrymoedig.

‘As die ANC geglo het alle wit grond eienaars het hulle grond gesteel, dan sou die regering mos grootskaals kriminele sake aanhangig gemaak het en nie ‘n gebalanseerde proses van konsultasie en kompensasie gevolg het nie?’

Dit maak sin.

‘As die ANC geglo het dat almal wat die ANC in die vryheidsstryd ondersteun het onkreukbaar is, dan sou daar mos nie soveel dissiplinere optrede gewees het nie?’

Ek kan dit sien.

‘As die ANC Afrikaners se geskiedenis as boos beskou het en geoordeel het Afrikkaners het geen deel aan die land nie, wat maak Derek Hanekom as gerespekteerde leier in die ANC. Wat maak Marthinus van Schalkwyjk as Minister van Toerisme en waarom is Pieter Mulder, verteenwoordiger van ‘n klein getal stemmers, onder-minister van Landbou en Bosbou? Wat soek Andries Nel in die Ministerie vir Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling? Wat maak Gert Oosthuizen in die ministerie van Sport?’

Ek sien sy punt.

Dit klink nie na Afrikaners wat uitgesluit is nie.

En ek wonder – wat is die probleem dan?

Hoekom het Steve en Adam en hulle span nodig om honderde duisende op daai video te spandeer?

Is die probleem dalk dat Afrikaners vies is omdat hulle nie meer koning kraai nie?

Of is dit soos Anton van Niekerk se, dat daar talle soorte Afrikaners is, ook “‘n groot stil meerderheid Afrikaners wat verstandige, deugsame en moreel sensitiewe mense is”?

Ek hoop so.

Want daardie bootjie wat verdeel en trots is op oorlog en ‘bloedgekoopte grond’ – in hom wil ek nie wees nie.

Eintlik kan ek nie in hom wees nie.

Nie met dit, of liewer Hom, wat in my hart kom woon het nie.

En as ek Zandisile afsien by die ateljee, dan bid my gees, ‘Ag, Here, help hierdie mense, om verby hulself te sien. Om miskien liefde te ontmoet en lewe gewers te word.’

evil is the absence of empathy

Ja, ‘n engelse titel vir vandag se Afrikaanse bydrae.

Dis eintlik ‘n aanhaling.

My Engelse vriend, die ‘Faithful Sceptic‘ het dit onder my aandag gebring.

‘Evil is the absence of empathy’.

‘Meegevoel’ – dis miskien ‘n goeie Afrikaanse vertaling?

‘Boosheid’ is die afwesigheid van ‘meegevoel’.

Ek kou al ‘n rukkie hieraan.

Ek vat my swanger vrou na ‘n private hospitaal, sonder ‘n tweede gedagte aan die hordes swanger vroue wat ure wag om ‘n dokter te sien by ‘n staats hospitaal wat nie kan byhou met die aantal pasiënte nie.

Ek hoor hoe ego die woorde van daai ou by die braaivleis: ‘laat hulle ‘suffer’, hulle kan eet wat hulle opdis, ons sal vir onsself sorg.’

Meegevoel.

Om mee te leef.

Om jouself in iemand anders se omstandighede of situasie te sit en begrip te hê.

Ek kyk hoe blom my kinders onder die hand van eksklusiewe private onderwys.

Ek dink nie aan die honderde duisende kinders wat verdwyn in ‘n oorlaaide onderwys-stelsel met stakende onderwysers nie.

Ek wil nie my gesin blootstel aan staats mediese sorg nie.

Of staats onderwys.

Of staats behuising.

Of selfs staats sekruiteit nie.

Ek koop ‘n sekuriteitswag met ‘armed response’ en gereelde patrolies.

Dis nie verkeerd nie.

Ek dink nie so nie.

Ek is ook nie so vreeslik opgeklits met ‘reg’ en ‘verkeerd’ nie.

Ek wonder net oor die ‘empatie’ of ‘meegevoel’ ding.

Oor die ‘evil’ ding.

Want ek wil nie ‘evil’ wees nie.

Dan kom Afriforum die week met hulle Sosiale Media Optog oor ‘verdraaide geskiedenis’.

Ek hoor ‘n noodroep.

‘Dit voel vir ons asof niemand met ons meegevoel het nie.’

‘Asof ons helde lafhaarts is – en julle helde, helde.’

Ek hoor daai woorde uit ‘n ou-ou boek, ‘moet op prinse nie vertrou nie’.

Is daar helde?

In my geskiedenis.

Is die ‘held’ die 18-jarige seun wat in ‘n ander man se oorlog gesterf het?

Hy het gesterf.

Sy ouers, sy gesin – hulle het by sy graf gestaan.

Sy predikant het hulle aan ‘sin’ probeer help.

‘Hy het sy lewe gegee in die stryd teen boosheid en kommunisme.’

‘Dis danksy hom dat ons in vrede kan lewe.’

Watter vrede.

Ek hoor die Immam dit ook sê vir die tiener met die bom aan sy bors vasgebind.

‘Jy gee jou lewe in die stryd teen boosheid.’

Ek wil nie my lewe gee nie.

Ek was ook daar.

Amper.

Ek het groot geword op my Pa se skoot, met die name van gestorwe soldate wat afrol na die nuus.

Dit was in my hart nie ‘n vraag ‘of’ ek diensplig sal doen nie.

In 1989 skryf ek matriek.

In 1990 meld ek aan.

Ek sien nie ‘n Angola nie.

Die slag van Cuito Cuanavale het verbygegaan sonder dat ek eens besef het.

En Afriforum is reg – daar was nie regtig ‘n slag nie.

Net ‘n ‘stand-off’.

Myne is die grootste.

En President Zuma is reg, dit het alles verander.

Maar niemand onthou dat hierdie nooit ‘ons’ oorlog was nie.

Dat ons maar net meegesleur is deur ‘n Amerika en sy koue oorlog.

Soos Iraq.

En Iran.

En nou herbou China vir Luanda.

En wen.

Al die pad.

Want terwyl ander oorlog gemaak het, het China paaie gebou.

En fabrieke.

En kragsentrales.

Of so lyk dit vir my.

Van waar ek staan.

Ek kan verkeerd wees.

Want ek het ook maar net my perspektief.

Miskien sien iemand wat in China bly, of in Amerika, die geskiedenis heeltemal anders.

Waarskynlik.

Niemand twyfel oor die ‘goed’ in wat Moeder Teresa gedoen het nie.

Maar sy is nie my ‘hero’ nie.

Ook nie Ghandi nie.

Met sy vreedsame verset.

Of Mandela met sy vasberade vergiffenis.

Ek was nie daar nie.

Ek is hier.

Nou.

Ek is hier.

Ek kan in môre wees.

Met boosheid.

Of goedheid.

Ek skiestog.

Ek kies my helde.

En al was die prys hoog, en al het hulle gesterf, dit kan nie hulle wees nie.

My held is Mamma Gladys wat 30 hooplose kinders onder haar sorg neem, sonder enige belofte, net omdat hulle nêrens heen het om te gaan nie.

My held is Eugene Coetzee wat, al kry hy nie bevordering nie, polisie man is, soos ‘n Afrikaner seun lanklaas polisieman was.

My held is die bruin verpleegsters wat die swart en bruin en wit babatjies by Dora Nginza Hospitaal gered het toe die brand in die saal vir prematuur gebore babatjies uitgebreek het.

En as ek na die geskiedenis kyk, deur die dowwe venster wat ek het, dan is my held die boere generaal wat nie wou oorlog toe gaan nie.

Die een wat vrede wou kies.

Helen Suzmann.

Harry Schwarz.

Breyten Breytenbach.

Beyers Naude.

Hulle het meegevoel betoon.

En ‘n stukkie boosheid het verdwyn.

Natuurlik bied elke nuwe tyd sy eie boosheid aan.

Daarom hoop ek om verby Afriforum se verdelende marginalisering te kom.

Eerder myself in ander se skoene te sit as om bekommerd te wees of ander hulle in my skoene kan sit.

En te doen wat ek kan.

Hier.

Nou.

As bedrog en gulsigheid arm mense se sorg verteer.

Miskien kan môre anders wees.

Waar my spore geval het.

Ek weet nie.

want dit is hoe dit is

Dis al ‘n tydjie gelede dat ons besluit het, ‘dis hoe dit is’ is nie goed genoeg nie.

Nie wat hierdie saak betref nie.

Toe Sondag se koerante berig dat die moontlikheid bestaan dat daar wette hieroor gemaak word, vat ek my kans en skryf ‘n bydrae daaroor op my Engelse Blog.

Ek skryf vanuit my eie perspektief.

Ek deel my hart.

Oor waar ek was.

En waar ek nou is.

Ek vertel my storie.

Van hoe my hart verander het.

Hoe ek toe my kinders kom, gemaak het soos my Pa en Ma, die lat ingele het en my kinders gejaag het van een pak slae na die volgende.

Nie omdat ek ‘n geweldadige ou is nie.

Nie omdat ek uit woede optree nie.

Of myself verlekker daarin nie.

Soos my Pa dink ek, dit maak my seerder as julle, met elke hou wat val.

En na die loesing, terwyl die trane loop, troos ek.

En die kinders doen wat ek se.

Soos ek gedoen het wat my Pa en ma gese het.

Want, jitte, dis net te vrek seer.

En wie is nou so dom dat hy homself willens en wetens aan sulke pyn bloot stel.

En toe konfronteer my dogtertjie my.

Sy was vier jaar oud.

En iets gaan oop in my hart.

En ek begin om anders te doen.

In my Engelse Blog vertel ek hoe die nuwe plek waar ek my bevind nie so hartlik verwelkom word deur die Evangeliese Christene deur wie ek omring is nie.

Hoe ‘n Krishna vriendin eerder my hart hoor.

Hoe dit my verras.

En daar kom die lesers en van hulle hoor my hart.

Vertel hoe hulle Pa hulle fisies mishandel het.

Hulle en hulle Ma.

Met die vuis.

Iemand anders is verontwaardig.

Voel ek probeer nou Universele Liefde teenoor Christelike waardes stel, asof daar ‘n kontras is.

Is moetswillig.

Dit is hoe dit is.

Ons sukkel om mekaar te hoor.

Net te hoor.

Te luister.

Sonder waarde oordeel.

Natuurlik as ek vertel van my pelgrimstog weg van lyfstraf na liefde en om-arming, bedoel ek om jou aan te spoor om ‘n nuwe manier te oorweeg.

Maar ek oordeel jou nie.

Want as ek jou oordeel, dan oordeel ek myself.

En my dogtertjie het my nie ge-oordeel nie.

Sy het my, ten spyte van die fisiese geweld wat ek op haar klein vierjarige lyfie besoek het, nader getrek.

Vir my verduidelik.

My vasgehou.

En my die geleentheid gegee om weer te dink.

Sy het my die grootste komplement gegee.

Dat ek, al is ek ouer en gevestig in my wee, tog die potensiaal het om nuut te dink en nuut te word.

En hiervoor is ek dankbaar, want in die volgende ses jaar van haar en haar boetie en haar sussie se lewens kon ek oor doen.

En sien hoe geweld in ons huis tot bedaring kom.

En hoe ‘n sagter ritme vestig.

En hoe vrees verdwyn.

Want die ‘Bybel’ se nie net ‘spare the rod and spoil the child’ nie (en ek is nie so seker of die Bybel dit se nie).

Miskien se die Bybel eerder ‘buig die boompie terwyl hy jonk is’.

En miskien moet ons in gedagte hou dat as ons ons kinders leer dat geweld ‘n oplossing is, ‘n manier om ander te kry om te doen wat ons gedoen wil he, dan is ons ook besig om die boompie te buig.

Miskien moet ons eerder hoor: ‘waar daar liefde is, is daar geen vrees nie’.

En:’die liefde dryf die vrees uit.’

En daarom aanvaar ek ook wat hierdie ding betref, nie dat dit is hoe dit is nie.

Soos my dogtertjie sal ek bly glo, dat ons meer is.

Dat ons nuut kan dink.

Dat ons kan heroorweeg.

En ‘n nuwe manier kan vind.

‘n Manier deurdrenk met die liefde van een wat gese het Hy het ook skape in ‘n ander kraal.

Een wat sy lewe gegee het vir ‘n wereld wat nie eens geweet het dat hy gekom het nie.

En as jy my pak gee …

Soos my Pippin sal ek skree: Nee! Dit help nie! Dit verander niks nie! Jy maak my net bang! Dis al! Jy leer my niks!

En soos my Pippin sal ek hoop, dat jy iets hoor.

Want te lank het ons mekaar met geweld gesnoer en gedwing om te maak soos ons gemaak wil he.

troos

Gister (20/01/2012) lig Charles Hoffman sy mening met betrekking tot apartheid in ‘n artikel op ‘TIMESlive‘ se webwerf.

Charles kom van die Kaap.

Die Kaap wat baie onlangs in die media was, met aantuigings van ou-skool rasisme wat hooggety voer.

Hy oordeel ‘Apartheid het Suid Afrika die welgestelde of ryk land gemaak wat dit is‘.

Wat hy skryf lui ‘n klokkie, so asof ek die mening al van te vore iewers gehoor het.

My vriend Lloyd Martin begin met my gesels hieroor.

Hy stel voor, voordat ons met Charles in gesprek kan tree moet ons sekerlik eers uitklaar wat hy bedoel met woorde soos ‘rich’, ‘development’ en ‘culture’ wat Charles met groot gerief hanteer.

Miskien as Charles te kenne gegee het dat Apartheid ‘ons’ (Afrikaners) die rykste in die wereld gemaak het, sou hy eerliker wees?

Miskien soek Charles iets om hom te troos, om hom beter te laat voel oor die verlede?

Ja, duisende en der duisende mense se lewens is vernietig in een van die grootste samelewings-ingeneurs-kunsies wat die wereld nog ooit gesien het, maar ten minste het dit infrastruktuur en rykdom vir die land geskep.

Ai.

Dit lyk vir my na een van Afrikaners se diepste swakhede – die onvermoe om eerlik te wees oor die verlede, werklik om verskoning te vra en op die fondament van ‘n deursigtige ‘waarheid’ (of dan ten minste erkenning van iemand anders se ‘werklikheid’) te werk na herstel en om-arming en nuwe verhouding.

Die ding is diep in ons wese gewortel.

Die onvermoe.

En dit vernietig ons nie net op sosio-ekonomiese of politieke front nie.

Dit vernietig ons in ons huwelike.

In ons gesins-lewe en in ons families.

In ons vriendskappe.

Miskien kan jy dit ‘n ‘trots’ noem?

Miskien is dit ‘n narsasisme?

Ek en my Pa was ‘n goeie ses jaar lank die slagoffer hiervan.

In 2004 pak ons saam ‘n ding aan.

Dit loop skeef en ek word deur my Pa afgesny van hom en die res van ons familie.

Vir 5 jaar is ek die melaatse.

Dan loop ek eendag op hom in. Breuk die ding oop. Probeer ons kry om sin daarvan te maak en verby dit te kom.

Hy vertel my sy werklikheid.

Ek moet om verskoning vra.

Ek het hom te na gekom.

Ek was dislojaal en soos ‘n ou met ‘n effe ondergemidelde IK aan die neus rondgelei.

Ek se: okay, dis jou werklikheid. Jou belewenis. Ek vra jou om verskoning. Hier is my werklikheid. Heeltemal anders. Ooreenkomste wat gebreek is. Uitgangspunte wat verander is. Beginsels wat prysgegee is. Jy hoef nie om verskoning te vra nie, se net vir my dat jy kan sien dat ons twee verskillende werklikhede het. Dat jou belewenis en my belewenis anders is.

Hy kan nie.

En ek is huistoe met ongedane sake.

Geen rekonsiliasie nie.

Geen hoop op herstelde verhoudinge nie.

‘n Ruk later kry ek boodskap deur my Ma: jou Pa het jou vergewe.

En ek gaan drink koffie.

En ons gaan eet.

En ons sien mekaar.

Maar intimiteit is afwesig want ons het nooit die ding klaar deurgepraat nie. Ons het nooit net eens gese: joe, dit was ‘n vrot tyd en dis jammer dat ons dit nie anders kon hanteer nie. Dis jammer dat ons 5 jaar van gedeelde lewe verloor het.

In Suid Afrika hou Desmond Tutu waarheids en versoenings kommissie.

Erken net.

Gee erkenning daaraan dat andere se werklikheid anders as jou werklikheid is.

Maar die versoening bly uit, want die waarheid bly uit.

Almal ontken.

Hulle het nie geweet nie.

Ek weet nie of Charles se uitlating meriete dra nie?

Ek dink nie so nie.

Ek dink ons land se rykdom le op twee vlakke.

Onder die kors van sy aarde verskuil in goud en diamante, platinum, yster, uranium en ‘n magdom ander grondstowwe.

En dit is bo-op die kors van sy aarde, in groen weivelde en koringlande.

Maar ook in sy mense.

Ek dink nie die Afrikaner kan homself troos met ‘n aanspraak op rykdom wat gebring is nie.

En dan het ons nog nie eens gesels oor die vernietiging wat industrialisasie verwerklik nie.

Vernietiging wat sou kon uitbly as goud en gas gelaat word waar dit is.

Dis interesant, in sy boek ‘Knowledge in the Blood‘ beweer Prof Jonathan Jansen (bladsy 60): ‘The contemporary Afrikaner belief system about the past is based on a number of arguments.’

Die eerste dat ‘Apartheid was … a reasonable policy … with good intentions …’

Die tweede dat ‘the implementation of Apartheid might have had some unintended consequences, but the attack on it is exaggerated; in fact had it not been for Apartheid, blacks would probably be worse off – like blacks elsewhere on the continent.’

‘n Goedkoop troos.

‘n Troos sonder enige intensie om te versoen.

Miskien sal ons beter doen om eerder te erken, raak te sien, wat ander beleef het, terwyl Afrikaners plesierig ge-oes en gemyn het en rykdom geskep het en geroof het en volkere (homself inkluis) vernietig het.

Miskien le ons grootste rykdom juis in die mense van hierdie land wat ‘n afwagtende openheid het.

En soos ek met my Pa, maar net begeer dat raak gesien word dat ‘n ander belewenis ook bestaan.

Gereed om te om-arm.

Gereed om saam ‘n nuwe soort rykdom te skep.

Ek hoop so, want as ons voort strompel op die Charles Hoffman trant, is daar geen hoop nie.